Liberty loop onder kuberkrakers deur
Liberty loop onder kuberkrakers deur

Liberty loop onder kuberkrakers deur

Vida Booysen - Die finansiëledienstegroep Liberty Life het Saterdag die slagoffer van kuberkrakers geword wat gedreig het om kliënte se persoonlike inligting openbaar te maak tensy 'n losprys betaal word.

In 'n e-pos boodskap wat Saterdag­aand aan kliënte gestuur is en ook op die maatskappy se webtuiste ­gepubliseer is, waarsku Liberty Life dat 'n “eksterne party ­ongemagtigde toegang” tot sy IKT-infrastruktuur verkry het.

“Sedert ons hiervan bewus geword het, het ons onmiddellik stappe gedoen om ons rekenaarstelsels te beveilig en ons ondersoek die insident,” het Liberty Life gesê.

Die maatskappy het nie bekend gemaak hoeveel kliënte deur die ­afdreiging geraak word nie.

Volgens die verklaring het die ­afdreigers vergoeding van die maat­skappy geëis.

Toe Netwerk24 Sondag die Liberty Life-hoofkantoor skakel, kon 'n ­stemopname dadelik gehoor word wat Liberty Life se kliënte ­verseker dat die maatskappy hulle ingelig sal hou en meer inligting bekend sal maak sodra hy self meer besonderhede het.

“Ons werk hard om die situasie reg te stel.”

Volgens 'n bron wat deur Sunday Times aangehaal is, het ­uitvoerende hoofde van Liberty Life Saterdag­middag “soos afkop-hoenders” rondgehardloop toe besonderhede van die afdreiging bekend geword het.

Een van die bronne met wie Sunday Times gepraat het, het aangedui dat die maatskappy bereid is om die losprys te betaal eerder as om kliënte se persoonlike inligting in gevaar te stel.

'n Woordvoerder vir Liberty Life, Sydney Mbehle, het aan Sunday Times gesê die maatskappy is in gesprek met die krakers maar hy wou nie meer besonderhede verskaf nie.

Voor hierdie dataskending bekend geword het, was Suid-Afrika se ­grootste lekkasie van private ­inligting in Oktober 2017 – die sogenaamde “ Masterdeeds-skandaal.”

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer