Lichtensteinberg kom somtyds naaste aan son
’n Berg in Namibië kan volgens ’n nuwe maatstaf die hoogste ter wêreld wees.
Elvira Hattingh - Lichtensteinberg, wat sowat 24 km suid van Windhoek geleë is, kan volgens ‘n nuwe maatstaf die hoogste berg in die wêreld wees omdat dit by tye die punt op die aarde is wat die naaste aan die son kom.
‘n Kanadese en Amerikaanse navorser het die sogenaamde terrahelion-metode ontwikkel om die ‘hoogste punt’ op die aarde te meet en wat in berekening neem dat die aarde ‘n ellipsoïde vorm het.
Hiervolgens was die Lichtensteinberg die punt op die aarde wat die naaste aan die son in 2014 gekom het. Dit sal waarskynlik wéér in 2033 gebeur en dan ook in 2040, 2044, 2047, 2059, 2064, 2074 en 2083.
In ‘n navorsingsartikel getiteld “On the Measurement of the Earth – New Approaches to our Planet’s Distinctive Shape” wat onlangs in die wetenskapjoernaal Cartographica gepubliseer is, verduidelik die navorsers Charles Helm en Paul Klenke hoe dié berekeninge werk.
Die wetenskaplikes sê daar is drie standaardmetodes om die hoogte van ‘n berg te meet, soos byvoorbeeld hoogte bo seevlak, afstand vanaf die aarde se kern, verskil in hoogte tussen die berg se voet en kruin. Hulle het ook ‘n vierde metode voorgestel.
“As jy na die hoogste berg op aarde soek en van die hoogte bo seevlak-metode gebruik maak, is die berg Everest die hoogste. As jy vanaf die aarde se kern meet, is die berg Chimborazo (Ecuador) die hoogste. As jy die verskil in hoogte vanaf die berg se voet tot by sy kruin as maatstaf gebruik, is die hoogste berge Mauna Kea (Hawai), Lamlam (Guam), Denali (Alaska) of Annapurna I (Nepal),” meen hulle.
Helm en Klenke verduidelik die aarde se wentelbaan om die son is ellipties, of vorm nie ‘n perfekte sirkel nie. Die aarde bereik perihelion wanneer dit sy naaste punt aan die son (binne sy wentelbaan) bereik.
Dan is dit sowat 147 000 000 km van die son geleë.
Die son se strale skyn direk van bo op die Steenbokskeerkring op 21 Desember - en nie teen ‘n hoek nie. Die aarde bereik ook perihelion enkele weke later, of rondom 3 Januarie.
“Dit beteken hoë gebergtes naby die Steenbokskeerkring sal dus enige jaar daarop kan aanspraak maak dat dit die naaste punt aan die son bereik het,” sê Helm en Klenke.
Die punt waar die son dus direk van bo op die aarde skyn, word die subsolêre punt genoem.
“Omdat driekwart van die aarde se omtrek by die Steenbokskeerkring deur seë bedek is, is die aarde se subsolêre punt, wanneer dit perihelion bereik, waarskynlik in die see.
“Tog, vanweë die aarde se ongelyke oppervlak, is dié see se subsolêre punt nie noodwendig naaste aan die son wanneer die aarde jaarliks perihelion bereik nie.
“Terselfdertyd kom die kortste afstand tussen die aarde en die son dalk nie tydens die presiese oomblik van perihelion voor nie. Ons het dus ‘n nuwe naam voorgestel om dié fenomeen te definieer, naamlik ‘terrahelion’.
“In teenstelling met perihelion wat ‘n jaarlikse gebeurtenis is, is terrahelion die proses waarin vasgestel word watter plek op die aarde werklik die naaste aan die son kom rondom die tyd wanneer die aarde perihelion bereik. Dit beteken ook die terrahelion-punt sal van jaar-tot-jaar verskil.
Plekke op aarde wat dus in onderskeie jare die terrahelion-punt, of punt naaste aan die son kan wees, is Rurutu ('n eiland in Frans-Polinesië), Pedra da Mina (Brasilië), Imarivolanitra (Madagaskar), Berg Meharry (Wes-Australië), Sairécabur (aan die grens van Chili-Bolivië), en die Lichtensteinberg (Namibië).
Lichtensteinberg is in die Khomas Hochland geleë, sowat 2 380 m bo seevlak met die koördinate 22.86973°S; 17.03027° E.
Helm en Klenke verduidelik dat Lichtensteinberg vertaal kan word as “die berg met blink klip” en dié naam kom waarskynlik van die groot, plat klip naby die berg se kruin wat sonlig by tye weerkaats.
Hulle sê ook omdat die terrahelion-punt jaarliks aanskuif, sal die Lichtensteinberg vir slegs sowat honderd jaar die aarde se terrahelion-punt wees.
Terrahelion-punte sal algaande noordwaarts skuif, wat beteken nog Namibiese berge sal dalk iewers met dié titel kan spog. Dit sluit meer noordelike berge in die Khomas Hochland in, asook Groot Spitzkop (21.825° S) en dan Königstein in die Brandberg (21.149° S). – [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie