Lichtenstrasser se borgaansoek misluk
Lichtenstrasser se borgaansoek misluk

Lichtenstrasser se borgaansoek misluk

Die vermeende moordenaar van twee werknemers van die Instituut vir Mynbou en Tegnologie (Nimt) bly in aanhouding.
Erwin Leuschner



Regter Conchita Olivier het gister in haar uurlange uitspraak gesê dit is nie in openbare belang om mnr. Ernst Lichtenstrasser op borg vry te laat nie.

“Die gemeenskap moet beskerm word en nie aan die genade van misdadi­gers uitgelewer word wat sulke gevoellose en brutale moorde pleeg nie,” het sy gesê.

Nadat Lichtenstrasser weens dubbele moord in hegtenis geneem is, het hy 'n aansoek om borgtog ingedien en herhaaldelik beklemtoon hy is onskuldig. Hy het ook gesê hy sou voortgaan om “'n produktiewe lid van die gemeen­skap” te wees. Sowat 50 mense het voor die landdroshof op Swakopmund teen Lichtenstrasser se borgaansoek betoog.

“Die hof is van mening daar is inderdaad baie aanduidings dat die beskul­digde moontlik skuldig bevind kan word,” het sy gesê. Sy het bygevoeg dat sy hiermee nie net die skulderkenning van die verdagte nie, maar ook talle ander getuies oorweeg het.

“Die staatsaanklaer beskik oor ernstige bewyse,” het Olivier gesê.

Volgens Olivier geniet die saak “aansienlike belangstelling van die publiek”. Nie net is die hofsaal altyd stampvol nie, maar het talle mense ook verskeie kere voor die hof betoog. 'n Petisie teen borgtog vir Lichtenstrasser met meer as 2 000 handtekeninge is ook aan haar voorgelê. Sy het ook 'n petisie met 300 hand­tekeninge ontvang wat ten gunste van borgtog is.

“Dit is duidelik dat dit grusame moorde was en dat die gemeenskap beskerm moet word.”

In Namibië word mense op 'n gereelde basis vermoor en moet die hof dus 'n voorbeeld stel.

“Die twee slagoffers was oppad werk toe, toe hulle grusaam en brutaal vermoor is. Elke persoon het die reg om te lewe en die hof moet daarvoor opstaan.”

In haar uitspraak brei Olivier uit op die getuienis van Lichtenstrasser en kom sy tot die gevolgtrekking dat daar “teenstrydighede in sy verklaring” was. Lichtenstrasser het aanvanklik beweer hy het Sondag (14 April) 'n dag voor die moorde ná 'n bakleiery met sy vrou en om haar “'n les te leer” in die rigting van Arandis gery.

Hy het aan haar gesê hy wou wegry, maar het nie gesê waarheen nie. Later het hy in die hof beweer hy het vir sy vrou gesê dat hy na sy vriend Jason op Swakopmund wou ry.

Olivier het ook gesê Lichtenstrasser kan ná 'n skuldigbevinding 'n “baie lang tronkstraf” verwag. Die vrees bestaan dus dat hy ná die vrylating sou probeer ontsnap. Dit is veral in Namibië moontlik omdat die land se grense “baie groot” is.

“Dit is 'n risiko wat die hof nie wil loop nie,” het sy gesê.

Nog 'n rede is dat hy dalk met die getuies sal inmeng. Olivier het in die verband Lichtenstrasser se 14-jarige seun as 'n “belangrike staatsgetuie” uitgewys. Dit geld ook vir die drie NIMT-bestuurders wat ook staatsgetuies is en wat om hul veiligheid vrees sou Lichtenstrasser vrygelaat word.

“Die bewerings van die beskuldigde dat hy nie die getuies sal beïnvloed nie en op sy onskuld bly hamer, stel my nie gerus nie. Die borgaansoek word dus geweier,” het sy gesê.

Die saak is vir verdere polisieondersoek na 27 September uitgestel.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!