Lid van Groenes word dalk Duitsland se leier
Daar heers kommer in Duitsland oor die bondskanselier se gesondheid.
Leopold Scholtz
Vir die tweede keer binne dae kon gesien word hoe die Duitse bondskanselier, Angela Merkel, in die openbaar onbedaarlik aan die bewe raak. Die eerste was by 'n parade ter ere van die staatsbesoek van die nuwe staatshoof van die Oekraïne; die tweede by die inhuldiging van 'n kabinetsminister.
Die eerste keer was die verklaring dat sy te min water op dié dag (met 'n temperatuur van ver bo 30 °C) gedrink het. Die tweede keer was daar 'n verklaring van haar woordvoerder: “Dit gaan goed met die bondskanselier.”
Daar is kommer in Duitsland oor Merkel se gesondheid. Veral aangesien haar bewindstyd stadigaan ten einde loop en die Duitse politiek duidelik in 'n oorgangstadium verkeer.
Merkel het reeds maande gelede as leier van die Christen-Demokratiese Unie (CDU), die dominante party in die regeringskoalisie, bedank en te kenne gegee dat sy geen verdere termyn as bondskanselier soek nie. Haar opvolger as CDU-leier is Annegret Kramp-Karrenbauer (algemeen bekend as AKK), wat nog verreweg nie Merkel se statuur het nie.
Trouens, AKK maak 'n enigsins onbeholpe indruk, en die moontlikheid bestaan dat sy nie die volgende bondskanselier gaan wees nie. As sy nie deur 'n interne paleisrevolusie verwyder word nie, kan die CDU in 'n volgende verkiesing verslaan word.
PEILINGS
Peilings wys dat die Christen-Demokrate (konserwatief) se huidige koalisiegenoot, die gematig-linkse Sosiaal-Demokratiese Party (SPD), ineenstort (van 20,5% in 2017 tot 12% nou), en die Christen-Demokrate effens van 26,8% tot 25% krimp.
Van regs is die bedreiging beperk. Die regs-populistiese Alternative für Deutschland (AfD) groei marginaal van 12,4% tot 13%, maar sy aanhang is gekonsentreer in die gewese Oos-Duitse deelstate, waar die demokrasie klaarblyklik nog nie diep wortel kon skiet nie.
Die groot verrassing is die massiewe swaai na links, na die Groenes (van 8,9% tot 26%). Die Groenes se wortels lê in die grootskaalse studente-opstande van 1968, toe die destydse jong geslag die oueres oor dié se meelopery met die Nazi's aangekla en trouens die hele liberaal-kapitalistiese stelsel verwerp het.
Die beweging het hierna geskeur. 'n Splintergroep het die pad van terreur (die Baader-Meinhofbende) ingeslaan; die meeste het die Groen-party gestig, wat die lewe vir die establishment behoorlik moeilik gemaak het. Maar 'n gewortelde demokrasie het die gewoonte om ekstremiste in te sluk, te verteer en as brawe demokrate weer uit te spoeg. Dit het ook met die Groenes gebeur, wat vandag deel van die establishment is.
Dis glad nie onmoontlik dat die Merkel-regering opgevolg word deur 'n koalisie van Christen-Demokrate en Groenes nie. En dat die Groenes die bondskanselier lewer nie.
– Netwerk24

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie