Lidmaatskap van Geregshof onseker

Met drie Afrikalande wat reeds aangedui het dat hulle aan die Internasionale Geregshof gaan onttrek, is eerste minister Saara Kuugongelwa-Amadhila oor Namibië se voortgesette lidmaatskap gevra.
Estelle de Bruyn
Estelle de Bruyn - Wanneer Namibië tot enige internasionale konvensies, instansies of organisasies toetree, is dit ‘n proses wat verskillende stappe behels. Eweneens is Namibië tot ‘n proses verbind wanneer uit enige van die konvensies, instansies of organisasies getree word.

Dit was die verduideliking van die eerste minister, me. Saara Kuugongelwa-Amadhila, toe sy Dinsdag by wyse van ‘n mondelinge vraag deur die DTA se president, mnr. McHenry Venaani, gevra is oor Namibië se posisie ten opsigte van die Internasionale Geregshof (ICC) en of oorweeg word om aan dié hof te onttrek.

Die eerste minister het verduidelik dat die prosesse om toe te tree of uit te tree altyd ook die bekragtiging van die parlement vereis. Gevolglik sal enige besluit oor ‘n Namibiese onttrekking aan die Internasionale Geregshof eers deur die parlement bekragtig moet word.

Volgens die direkteur in die kantoor van die ombudsman, adv. Eileen Rakow, is dit vir Namibië in belang van sy menseregterekord, goed om deel van ‘n instansie soos die ICC te wees. “Ek stem saam met die eerste minister dat dit ‘n proses is om te onttrek en dat ‘n land nie sommer net kan uitstap nie.

“Daar is ‘n geruime tyd reeds sprake dat die hele Afrika-poel wil onttrek.

“Tydens ‘n voorlegging oor menseregte verlede jaar aan die parlement, is ons onder meer oor die implikasies van ‘n onttrekking gevra. Die kantoor van die ombudsman is egter nog nooit formeel om ‘n mening gevra nie," het Rakow op navraag aan Republikein gesê.

Suid-Afrika het op 21 Oktober aangekondig dat die land aan die ICC gaan onttrek. Dit is ‘n gevoelige slag vir ‘n instansie wat in die lewe geroep is om sake van die wêreld se ergste misdade aan te hoor.

Suid-Afrika se besluit volg ná ‘n dispuut verlede jaar toe Soedan se pres. Omar al-Basjir Suid-Afrika vir ‘n Afrika-unie-spitsberaad besoek het, ondanks ‘n ICC lasbrief vir sy inhegtenisname vir beweerde oorlogsmisdade.

Suid-Afrika het verseg om hom in hegtenis te neem en het gesê as staatshoof geniet hy immuniteit.

Suid-Afrika se minister van justisie, Michael Masutha, sê die ICC “inhibeer Suid-Afrika se vermoë om sy verpligtinge ten opsigte van die toestaan van diplomatieke immuniteit te eer”.

“Daar is ook ‘n siening dat die ICC, in sy keuses oor wie om te vervolg, oënskynlik leiers in Afrika uitsonder,” het Masutha aan AFP gesê.

Die ICC wat in 2002 tot stand gekom het, is dikwels van vooroordeel teen Afrika beskuldig en sukkel met gebrekkige steun, insluitende van Amerika, wat die hof se verdrag onderteken het, maar nooit bekragtig het nie.

Amnestie Internasionaal sê Suid-Afrika “verraai miljoene slagoffers van die grusaamste menseregteskendings en ondermyn die internasionale geregstelsel.”

Vroeër vandeesmaand het Burundi aangedui dat die land ook aan die hof sal onttrek.

Van die tien ondersoeke wat die ICC sedert 2002 gedoen het, was nege van Afrikalande. Georgië was die ander land. Die meeste van die sake voor die ICC is deur Afrika-regerings self na die ICC verwys.

Gambië het Dinsdag die derde Afrikaland geword om aan die hof te onttrek. In ‘n aankondiging wat op nasionale TV gebeeldsaai is, word die hof daarvan beskuldig dat dit Afrika onregverdig teiken en word die hof die “internasionale Koukasiese hof” genoem.

Gambië se besluit is verrassend omdat die hoofaanklaer van die ICC, Fatou Bensouda, ‘n Gambiër is.

Volgens ‘n Gambiese woordvoerder het die land met die proses begin om aan die ICC te onttrek. Dit behels onder meer dat die sekretaris-generaal van die Verenigde Nasies in kennis gestel word. Die onttrekking word van krag ‘n jaar nadat die kennisgewing ontvang is.

Menseregtegroepe beskuldig Gambië se pres. Yahya Jammeh, een van Afrika se langsdienende staatshoofde, gereeld van misbruike.

In Kenia het ‘n woordvoerder van pres. Uhuru Kenyatta, gesê die land se kabinet sal nog ‘n besluit oor moontlike onttrekking neem.

Kenia se parlement het reeds twee keer vantevore, eers in 2010 en daarna in 2013, resolusies aanvaar wat vra dat Kenia aan die hof moet onttrek.

Die hof het vantevore vir Kenyatta in ‘n staat van beskuldiging geplaas oor misdade teen die mensdom na aanleiding van die geweldpleging wat in 2007 ná verkiesings uitgebreek het waarin meer as 1 000 mense omgekom het.

‘n Aanklaer by die ICC sê dreigemente teen getuies, omkopery en ‘n gebrek aan samewerking het daartoe gelei dat die saak teen Kenyatta in duie gestort het.

Eie berig/Nampa/AFP/AP/Reuters

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!