Liefde in 'n laboratorium

Twee vroue wat in Kaapstad in die huwelik getree het, vertel van hul reis en uitdagings om 'n kinderdroom te bewaarheid.
Tanja Bause
Tanja Bause



“Ek het van kleins af soos enige ander meisie daarvan gedroom om te trou. Vandag dra ek trots my vrou se van,” sê Alzeena Kandinda (25).

Alzeena en Lilian (32) Kandinda het op 8 Januarie in Kaapstad in Suid-Afrika in die huwelik getree.

“Om te trou, was net die volgende logiese stap in ons verhouding – net soos in enige ander verhouding,” sê Lilian.

Alzeena is op Okahandja gebore en het haar laaste twee skooljare in Windhoek voltooi.

“Ná skool het ek by PathCare in Windhoek begin werk. Dit is ook waar ek vir Lilian die eerste keer ontmoet het.”

Lilian is in Windhoek gebore en het hier grootgeword. Sy het nege jaar gelede ook by PathCare begin werk.

“Ek het vir twee jaar deur hulle ­gestudeer en is vandag hoof van die histologie-afdeling.”

Alzeena het op Okahandja gebly en moes saans 'n saamrygeleentheid huis toe kry.

“Ek het eendag van die werk af gery en Alzeena in die straat sien staan waar sy vir 'n taxi gewag het. Ek het gestop en haar 'n saamrygeleentheid aangebied. Ons het mekaar by die werk in die gange gesien, maar dit was die eerste keer dat ons regtig met mekaar gesels het. Ek het van die tyd gebruik gemaak en alles oor haar probeer uitvind. Op Okahandja gekom, het ons nommers uitgeruil en nou kyk ons nie terug nie,” sê Lilian.

Alzeena het ook deur PathCare ­gestudeer en is tans hoof van hul ­mikrobiologie-afdeling.

“Een jaar studeer jy in Windhoek en een jaar studeer jy in Kaapstad, so ek moes vir 'n jaar Kaap toe gaan. Lilian het gesê ons moet alles maar vir eers los en wanneer ek terug van die Kaap af is, kan ons kyk hoe ons oor mekaar voel. Maar ek het geweet sy is my ­lewensmaat en wou niks daarvan weet nie,” sê sy.

Lilian het gereeld in die Kaap gaan kuier en die twee was onafskeidbaar. Die uitdaging van langafstandliefde was vir hulle nie te groot nie.

Met Alzeena se terugkoms in Windhoek het die paartjie saam nesgeskop en 'n kat genaamd Ziggy aangeneem.

Alzeena het haar pa en twee susters vertel sy en Lilian is meer as vriendinne.

“My susters het dit onmiddellik aanvaar. Hulle is baie ­ondersteunend en dít het dit vir my pa makliker gemaak. Hulle is die belangrikste mense in my lewe. Baie van my ander familielede was aanvanklik nie so oop nie, maar dit was nie my probleem nie,” sê Alzeena.

“Hoewel ek my hele lewe lank al daarvan bewus is dat ek gay is, het ek eers uitgekom toe ek en Zeena al uitgegaan het. Sy het eerste ­uitgekom teenoor haar familie en ek het gedink ek moet seker maar in haar ­voetspore volg. Ek het ook altyd gesê ek gaan my familie inlig sodra ek my eie geld verdien en nie van enigiemand afhank­lik is nie. Wanneer ek my eie dak oor my kop het, het niemand niks oor my lewe te sê nie,” sê Lilian.

“Ek het my ma per SMS ingelig en dit was nogal senutergend. Ek het vir Zeena gesê as ek die SMS nou stuur, is dit gestuur, ek kan dit nie terugneem nie. Ek het dit gestuur en my ma se antwoord was: Dit is oukei, my kind, ek het nog altyd geweet en dit verander niks. Ek sal jou altyd liefhê,” sê Lilian.

“En my pa het gesê solank jy ­gelukkig is, my kind, en ek kan sien jy is,” sê Alzeena.



Huwelik

Volgens Lilian het 'n verlowing en trou ná die paartjie vyf jaar saam was, reg gevoel.

Sy en 'n vriendin van Alzeena het toe 'n verrassingsnaweek op Swakopmund beplan.

“Dit was my verjaardag en ek het gedink dis 'n wegbreek om dit te vier. Ná ek die Sondag die kerse op my ­verjaardagkoek uitgeblaas het, het Lilian my gevra om te trou. Al die mense by die partytjie het in trane uitgebars,” sê Alzeena.

“Ek droom al van kleins af daarvan om te trou, so hoekom mag ek nie 'n bruid wees net omdat dit nie die norm is nie? My kinderdroom om 'n bruid te wees, het nie verander net omdat ek gay is nie. Dis dieselfde met kinders. Net omdat ek met 'n vrou getroud is, beteken ook nie daar is nie kinders in ons toekoms nie,” sê sy.

Die jaar ná die verlowing het die vroue daaraan bestee om hul troue te beplan.

“Dit is moeiliker as wat 'n mens dink. Ons kan nie in Namibië trou nie en ons kon nie Suid-Afrika toe vlieg om na geskikte troulokale te kyk nie, of om blomme en 'n koek te bestel nie. Ons moes iemand vertrou om ons troue vir ons te beplan. Ons het Sally Haines, 'n ­troubeplanner ­gekontak, en sy het alles vir ons gereël,” sê Alzeena.

“Ons troudatum het drie keer ­verander. Ek het nooit gedink ek sal eendag 'n bruid wees wat nie haar mind kan opmaak nie,” sê sy.

“Mense wat vir ons belangrik is en 'n groot rol in ons lewens speel, het die moeite gedoen om op hul eie onkostes by ons troue te wees. Soos my ouma, wat nou 70 jaar oud word. Sy het haar vliegkaartjie gekoop en was deel van die grootste dag in my lewe. Daar was 15 vriende en familielede by ons in die Kaap toe ons vir mekaar die jawoord gegee het,” sê Lilian.

'n Week later het die Kandinda-­egpaar met 60 mense in Windhoek fees gevier.

“Almal het hand bygesit om dit moontlik te maak. My ouma het die brood gebak, my ma het die slaai gemaak en Zeena se pa het die vark vir die spitbraai verskaf,” sê Lilian.

“Dit was ongelooflik om te sien hoe almal hul verskille opsy gesit het om twee mense te vier wat mekaar liefhet,” sê Lilian.

“Om met Zeena te trou, voel net reg. Sy is my beste vriendin en ons verhouding is moeitevry en maklik. Ons almal het ons eie manier van glo, en ek het gevra dat 'n vrou vir my gestuur word. En mense kan nou maar sê wat hulle wil, ek voel tot vandag toe Zeena is vir my gestuur. Ons kry net een lewe en ek gaan myne leef volgens wat vir my reg is, en sy is reg vir my,” sê Lilian.



Dieselfde

“Niks het verander nie. Ons is nou net me. en me. Kandinda. Ons is ­dieselfde mense as wat ons voor die troue was. Ons maak niemand seer nie, ons betaal belasting, ons respekteer ander mense en ons is hardwerkend. Ons is net twee mense wat mekaar liefhet en liefde wil gee. Al wat ons vra, is dat mense ons respekteer. Al stem ons nie oor alles saam nie, kan ons mekaar as mense respekteer en aanvaar,” sê Lilian.

“Lilian het my van die begin af skoenlappers op die maag gegee en sy doen dit nou nog wanneer ek na haar kyk. Ons kom nie uit slegte huise nie, ons is nie aangerand, ­mishandel of gemolesteer nie, niks in ons verlede het ons daartoe gedryf om gay te word nie – ons is so gebore.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!