Liefde vir sport seëvier

Jeugspele
Ester Kamati
Ester Kamati

Die tweede weergawe van die MTC Nasionale Namibiese Jeugspele het Vrydagaand ná drie dae se strawwe mededinging by Rietfontein in die noorde tot ’n einde gekom, waar nagenoeg 1 120 atlete hul talente kon ten toon stel.

Die meisies en seuns van Khomas het die kollig gesteel toe beide spanne hul basketbalfinale onderskeidelik teen Oshana (36-16) en Oshikoto (76-17) opgeraap het.

Die meisies van Otjozondjupa het goed teen Omaheke gevaar om die derde posisie in te neem.

In die stryd om die derde plek het Omaheke se seuns teen Kavango-Wes op die baan gestap. Ongelukkig vir Omaheke het Kavango-Wes hulle met 24-15 vir die bronsmedalje oorrompel.

Operi Tjingaete van Khomas is by die meisies as die waardevolste speler aangewys. Sy het gimnastiek drie jaar gelede gelos om haar liefde vir basketbal uit te leef.

Sy sê: “Daar is baie goeie spelers wat deelgeneem het wat ook hierdie toekenning verdien. Ek is dankbaar vir die prys en ek is seker my ouers sal trots op my wees.”

Titus Ntaagona (Khomas) is by die seuns as die mees waardevolste speler aangewys. Hy sê die pad na sukses was nie maklik nie, want hy het die afgelope vier jaar hard aan sy spel gewerk om sukses te behaal.

’n Oefengroep is by die jeugspele gekies om Namibië in Augustus 2021 by die Cossasa-balspele in Lesotho te verteenwoordig. Die oefengroep sal tydens die April-vakansie in die hoofstad bymekaarkom waarna ’n span van 12 vir die spele gekies sal word.

Mnr. Titus Mwahafa, sekretaris-generaal van die Namibiese Basketbalvereniging (NBV), sê hulle het net ’n oefengroep gekies en nie ’n nasionale span nie.

Mwahafa sê die NBV sal elke speler tydens die oefenkamp in April dophou en sien hoe spelers teen ander lande vaar alvorens die finale span vir Lesotho gekies word.

By die atletiek was daar ’n hele paar bekende gesigte wat deelgeneem het. Beatrice Masilingi het aan die 100 meter, 200 m, 400 m en 4x100 m-span-aflos deelgeneem en het vier goue medaljes huis toe geneem.

“Ná al die harde werk is dit is ’n ongelooflike gevoel om die resultate te sien. My familie is my grootste ondersteuners wat my aanspoor om beter te vaar, want ek wil graag vir hulle ’n beter lewe gee. Om ’n atleet te wees, is nie maklik nie. Dit verg baie dissipline, tyd en opoffering en dit beteken dat ek minder tyd saam met my familie bestee,” het die kampioen vertel.

PARALIMPIESE ATLETIEK

In die T12-400 m vir meisies het Oshana koning gekraai met Lahia Ipinge eerste, gevolg deur Linda David en Mariana Kayuhwena in die derde plek.

Die seuns van Kavango-Oos het op hul beurt koning gekraai in dieselfde item waar Pius Kalunga hakke gewys het vir Muyenga Michael (tweede) en Peter Kalunga (derde).

AFLOSSE EN HOOGSPRING

By die 4x100 m-aflos vir o.19-seuns het Khomas die eerste plek behaal gevolg deur Omusati en Kavango-Oos derde. Chislene Klein-Nienaber van Erongo het die 100 m-hekkies vir die o.19-meisies ingepalm, terwyl Hope Paulus van Otjozondjupa die tweede plek opraap.

Otjozondjupa seëvier in die o.19-hoogspring met Erongo tweede en Hardap derde. By die seuns wen ||Kkaras gevolg deur Otjozondjupa en Omaheke wat die bronsmedalje inpalm.

TENNIS

Johannes Swartz tree as die wenner teen Lorenzo Danster (beide Khomas) na vore in die enkelspelafdeling met Stephan Koen (Otjozondjupa) wat die bronsmedalje ontvang.

Joanivia Bezuidenhout van Otjozondjupa oorheers by die meisies die enkelspel. In die tweede plek is Odyciah Karaerua en derde Nicola Nitschke (beide Khomas).

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!