Liezl oorwin Twaalf Apostels
Liezl oorwin Twaalf Apostels

Liezl oorwin Twaalf Apostels

'n Windhoekse ma het haarself verbaas met 'n toptien posisie in wat vir haar 'n onbekende uitdaging was.
Tielman van Lill
Tielman van Lill – Liezl Swanepoel van Windhoek het Saterdag teen die hange van Tafelberg daarin geslaag om die Ultra Trail Cape Town-kompetisie (UTCT) oor 50 kilometer in nege ure en 18 minute te tem.

Sy was die sewende vrou oor die eindstreep en algeheel 40ste uit bykans 100 brawe deelnemers, van wie sy die enigste Namibiër was.

Die roete van twee rondtes met 'n totale klimhoogte van amper drie kilometer, het 06:00 by Tuine-rugbyklub begin en weer daar geëindig.

Drawwers moes nie net bekende bakens soos Duiwelspiek, die Twaalf Apostels, Oppelskop en Plattekloof teen Tafelberg tem nie, maar ook 'n tierende suidoostewind trotseer.

Swanepoel, wat verlede jaar haar vierde seuntjie in die wêreld gebring het, was nog altyd lief vir draf en aktiwiteite, maar haar langste amptelike deelname was aan 'n gewone 21.1 km padwedloop.

Sy vertel: “Ek het eers vanjaar regtig op draf begin fokus. Ek draf nog altyd, maar dit was net so twee of drie keer per week. Verder het ek fiets gery en ander goed gedoen. Ek het nog altyd meer van hardloop in voetpaadjies in die natuur gehou, want dit hou jou aandag heeltyd besig.

“Hoewel ek voorheen plaaslik aan OTB se X-Trail byeenkomste deelgeneem het, is ek geensins 'n kenner van dié tipe kompetisies soos die UTCT nie. Ek het vroeg vanjaar vir die Visrivier-marathon begin oefen en toe dit gekanselleer is, het ek in roetine gebly en aangehou draf.

“Toe ek van die spesiale weergawe van die UTCT en sy tegniese uitdagings hoor, was ek onmiddellik vuur en vlam en het meer bulte aangedurf. Kyron Raad het my met die beplanning en voorbereiding gehelp, want hy is Namibië se voorste kenner en atleet op die gebied.

“Vir my was dit 'n ongelooflike ervaring en voorreg en boonop was ek die enigste Namibiër onder die spulletjie. Dit was die naweek my eerste keer op Tafelberg, dus het ek geen idee gehad wat op my gewag het nie. Behalwe wat Kyron vir my vertel het, het ek niks geweet nie!

“My pakkie kos het ek binne die eerste 5 km verloor, maar ek is bly daar het dinge verkeerd gegaan, want as alles te maklik verloop, leer mens niks daaruit nie.

“Met voetpaadjies hardloop is jy meestal alleen tussen niks en nêrens, so jy kompeteer basies deurentyd met jouself. Maar die deelnemers gee almal om vir mekaar en jy maak die beste vriende. Almal is nederig en deel graag raad en help waar hulle kan.

“Die wind was met altwee rondtes rof en meestal van voor, maar soms het dit jou van agter gedruk dat dit voel of dit jou by 'n ongemaklike afgrond wil afgooi. Ek het heeltyd net vir die vlaggies gesoek om nie te verdwaal nie!

“Op die ou end was dit almal se gebede wat my sonder beserings laat klaarmaak het, want daar was hoë, mistige kranse en die ewige suidoostewind, asook nat rotse waaroor en deur ons moes op en af klim en klouter.

“Alle eer aan God. Sonder Sy krag sou ek dit nie kon doen nie. Dankie aan elkeen wat finansieel bygedra het om dit vir my moontlik te maak.

“Dankie aan Anette Beyers vir die saamgaan, vir die steun en vertroue in my en die geldinsameling. Baie dankie Kyron vir jou raad, bystand en oefenplan wat my deurgetrek het. Die Hoka-drafskoene wat ek by jou gekoop het, is die heel beste en ek sal dit vir enige drawwer aanbeveel. Jy is die beste afrigter denkbaar!

“Dankie aan Karel, my man, en my seuns wat my die geleentheid gegun en my altyd bygestaan het. Dankie aan Christa en Ferdie Ungerer vir jul gasvryheid en heerlike kuier. Julle almal is ongelooflike mense.”

– [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer