Lig aan einde van tonnel vir studente in Kuba
Lig aan einde van tonnel vir studente in Kuba

Lig aan einde van tonnel vir studente in Kuba

Gesondheidsministerie kry vervoerkontrakteur om benodigdhede na Kuba te vervoer.
Augetto Graig
Augetto Graig



Namibiese studente in Kuba wag al vier maande vir versorgingspakkies wat hul families reeds in Junie vanjaar gereed gehad het om na hulle te stuur.

Verskeie studente het hul benarde situasie deur die sosialemediaplatform Twitter direk onder pres. Hage Geingob se aandag probeer bring.

Onder die #hagegeingob-hutsmerk het hulle hul pleidooie aan Geingob in verskeie tale gerig.

Die Namibiese minister van justisie, me. Yvonne Dausab, was een van die eerste regeringsamptenare om terug te twiet.

Halfdrie gisteroggend het Dausab 'n positiewe boodskap vanaf die minister van gesondheid en maatskaplike dienste, dr. Kalumbi Shangula, aan die studente oorgedra. Volgens Shangula is 'n vervoerkontrakteur geïdentifiseer en 'n koopkontrak ter waarde van N$600 000 is uitgereik.

“Die vrag vertrek (vandag, 17 September) vanaf Windhoek na Johannesburg en dan na Havana met die Suid-Afrikaanse Lugdiens (SAA),” sê die boodskap.

'n Namibiese mediese student in Kuba, wat onder die skuilnaam Paul skryf, het meer inligting oor die huidige situasie aan Republikein verskaf. Volgens hom kan hulle nie oor hul situasie kla nie, om die betrekkinge tussen Namibië en Kuba te bewaar.

“Dit is 'n riem onder my hart om te weet daar is mense wat bereid is om 'n stem aan ons pleidooie te gee,” skryf hy.

“Ons studenteraadslede (Namiso) hier in Kuba het op 11 Mei 'n brief aan die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste geskryf waarin ons ons verknorsing aan hulle bekend maak oor die omstandighede waaronder ons tydens die pandemie verkeer,” vertel hy.

“Die ministerie het op 5 Junie laat weet dat elke student 'n tas van 50 kg op ons eie onkoste kan (laat) voorberei. Baie van die studente het geld huis toe gestuur, sodat hul mense tuis die items kan koop. Ander se ouers het uit hul eie sakke die items gekoop.

“Tot ons teleurstelling het ons op 12 Junie terugvoering van die ministerie ontvang. Die boodskap was dat die geskeduleerde vlug nie meer sou plaasvind nie – sonder enige verduideliking,” skryf Paul.

Die uitvoerende direkteur van gesondheid, mnr. Ben Nangombe, sê egter hy het amptelik op 24 Augustus aan die studente geskryf om hulle op hoogte te hou.

“Ons het inperking in Namibië en as gevolg daarvan is internasionale vlugte gekanselleer. Dit is net deur huurvlugte wat ons die tasse daar kan kry. Dit kos sowat N$3 miljoen om 'n vlug na Addis Abeba te reël; met 'n vlug oor die Atlantiese Oseaan is die koste buitensporig,” sê hy.

Nangombe het bevestig die ministerie het tussen 4,5 en 5 ton sorgpakkies vir die studente in Kuba ontvang.

Aanvanklik, met die hulp van die ministerie van internasionale betrekkinge en samewerking, is met SAA gereël dat 'n vlug na Kuba eers in Windhoek sou land, om die tasse saam te neem.

“Maar toe hulle hier land, was hulle reeds oorlaai en hulle kon nie die tasse saamvat nie. Nog 'n opsie was om die nodige items in lande soos Venezuela of die Dominikaanse Republiek, wat naby aan Kuba geleë is, te koop, maar dit sou ook nie werk nie,” sê Nangombe. “Ons het nie as 'n ministerie ons eie vliegtuig om te stuur nie. Die ministerie is nou met die verkrygingsproses besig om die nodige lugvervoer aan te skaf.”

Paul gee meer insig van die studente se huidige omstandighede.

“Kuba is 'n onafhanklike en soewereine sosialistiese staat, met sanksies wat deur die VSA teen die land ingestel is. Die studente het die ministerie gevra om die tasse te stuur waarop ons belowe is dat dit sou gebeur. Sedertdien het vlugte al van Suid-Afrika na Kuba vertrek, maar daar is nog geen teken van ons tasse nie. Hierdie tasse bevat skoonheidsprodukte, medikasie en 'n paar kos­items wat skaars in Kuba is.

“Ons is tans in kwarantyn, met goedere wat steeds skaars is. Studente leef sonder higiëniese produkte.

“Kuba doen alles in sy vermoë om aan ongeveer 250 studente (ons) se behoeftes te voorsien, maar hulle kan net soveel doen. Die vier jaar wat ons hier is, was nie altyd maklik nie, maar studente behou die geloof dat ons almal oorwinnaars sal wees wanneer 2023 aanbreek,” skryf hy.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!