Lig in die Psemas-tonnel
Lig in die Psemas-tonnel

Lig in die Psemas-tonnel

Na verskeie forensiese ondersoeke wat duidelik gewys het die staat se mediese fonds ly miljoene se verliese, gaan ’n proses begin om dit te herstruktureer.
Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht - “Daar was moeilike tye, maar hier word nou boeie uitgegooi en daar is lig in die tonnel.”

Dít was gister die positiewe boodskap van ’n mediese diensverskaffer oor ’n deelnemende proses wat eersdaags afskop om die staat se mediese fonds, Psemas, uit ’n donker moeras te lig.

Die besturende direkteur van Paramount Healthcare (Pty) Ltd., mnr. Hein Venter, het veral die deursigtigheid van die proses, sowel as die rol en werk van subkomitees uitgesonder.

“Ek ondersteun die aksieplan vorentoe, gegewe die feit dat alle rolspelers nou sal hande vat in die soeke na ideale strukture.”

Volgens Venter gaan Psemas se huidige struktuur ’n nuwe blaadjie omslaan, met nuwe kontrakte wat met diensverskaffers gesluit sal word terwyl bestaande kontrakte sal uitloop.

“Dit is ’n herstrukturering van die formaat, voordele en wyse waarop betalings gemaak word.”

Die debat rondom die beplande veranderings het egter nog nie begin nie, maar sal rolspelers uit die ministeries van gesondheid en maatskaplike dienste, finansies, die private sektor en diensverskaffers insluit.

’n Komitee is ook informeel aangewys en lede wat betrokke by die daarstelling van ’n "nuwe Psemas” sal wees, is geïdentifiseer.

“Rolspelers is al geïdentifiseer. Dit word baie nou gedryf met die private sektor en die minister van finansies.”

Venter het egter gemaan dit is nie iets wat “binne ’n maand” gaan gebeur nie.

Die herstrukturering sluit onder meer navorsing, aktuariële modulering en ouditering in. Die beplande implementeringsdatum van die "nuwe" Psemas is vir aanstaande jaar beplan.

Intussen is Psemas-uitbetalings vir die Januarie-betaallopie glo reeds 100% aan aptekers uitbetaal, terwyl ander diensverskaffers in die mediese bedryf, soos wat vroeër van die minister van finansies, mnr. Calle Schlettwein, versoek is, 64% van die uitstaande uitbetalings sal ontvang.

Die oorblywende 36%-tekort sal in April uitbetaal word. Die betaling van die Februarie-betaallopie behoort in April ná die ouditering van eise plaasgevind het, gedoen te word.

“In Mei sal die fokus op die Maart-betaallopie val en einde Mei, begin Junie behoort die laaste betaling voltooi te wees.”

Estelle du Bruyn berig uit die parlement Schlettwein het gister in sy repliek op die nasionale begroting gesê die fonds het ongeveer 104 000 hooflede met elk gemiddeld 13 afhanklikes. Die bedrag wat vir Psemas begroot is in die 2016-'17-boekjaar, het N$2,2 miljard beloop, ‘n verhoging van 22,7% teenoor die vorige jaar. Die toename in eise was volgens hom aansienlik meer as die groei in ledetal, wat maar 5% was.

“Dit was duidelik die eispatroon het verander. Gevolglik was die totale Psemas-begroting teen Desember 2016 uitgeput, met die uitgawes wat geweldige druk op die kontantvloei geplaas het.

“Die ministerie van finansies het in samewerking met die mediese verenigings ondersoek ingestel en bevind daar was talle onetiese eise. Verdere ondersoek word nou na hierdie bedrieglike eise ingestel.”

Schlettwein het voorts gesê die regering onderneem om N$200 miljoen in agterstallige betalings aan diensverskaffers te betaal, wat 64% van die totale uitstaande skuld is. Daar sal vir die res van die agterstallige betalings in die 2017-'18-begroting voorsien word. Hy het egter daarop gewys dat waar bedrog met eise gepleeg is, dit nie uitbetaal sal word nie.

Die minister het die hoop uitgespreek dat die operasionele model van Psemas verbeter kan word en sê biometriese kaarte is een van die moontlikhede wat ondersoek word om die misbruik van mediesefondskaarte te keer.

Hy het sy dank teenoor mediese verenigings wat bystand met die ondersoek verleen het, uitgespreek en gesê hy hoop die skema word binnekort hervorm.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!