Lig in tonnel by Meatco
Lig in tonnel by Meatco

Lig in tonnel by Meatco

Die plan om Meatco uit sy ellende te lig, is op koers, sê die bestuur.
Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer



Meatco se vierpuntplan wat in Februarie as noodmaat­reël ingestel is om dié uitvoer-abattoir en vleisverwerker van ondergang te red, werp vrugte af.

“Ons is beslis besig om resultate te sien,” het mnr. Jannie Breytenbach gister in 'n openhartige onderhoud gesê. Hy is in Februarie as die waarnemende uitvoerende hoof aangestel ná Meatco en adv. Vekuii Rukoro, sy voorganger, se paaie ná 'n skikkingsooreenkoms geskei het.

Hy sê dié plan van die uitvoerende bestuur en die direksie is om deurset en operasionele doeltreffendheid te verhoog, die kontantvloei beter te bestuur en verhoudinge met belanghebbendes te verbeter.

Meatco het vir die finansiële jaar geëindig 31 Januarie 2018 'n verlies van N$64,3 miljoen voor belasting getoon, teenoor 'n wins van N$22,5 miljoen in die voorafgaande boekjaar. Daar was ook 'n kontantvloeitekort vanuit operasionele aktiwiteite van N$185,5 miljoen vergeleke met die surplus van N$139,9 miljoen die vorige jaar.



REGRUKPLAN

Tydens die jaarvergadering in Junie het beesprodusente eenparig geëis dat die direksie binne ses maande 'n regrukplan met praktiese stappe aan hulle verskaf.

“Produsente het alle vertroue in die direksie verloor weens sy ondeursigtige optrede, die ondoeltreffende wyse waarop die raad na produsente se belange omsien, en die gevaar dat Meatco as sake-entiteit besig is om onder te gaan,” het hulle in die mosie aangevoer.

Breytenbach het gister gesê Meatco sal teen “Oktober of November” met sy produsente vergader en hulle oor sy vordering inlig.

Een van die pynlike besluite ter wille van groter doeltreffenheid van werksaamhede was om 188 mense af te lê. Volgens Breytenbach kon dié syfer tot 74 afgebring word nadat 114 mense vrywilliglik ingestem het tot vroeë aftrede of uittrede.

“Ons is nou daar waar ons kyk hoe ons hierdie 74 mense op ander plekke binne die maatskappy kan akkommodeer sonder dat dit bykomende koste beteken.” Hy sê Meatco wil nie mense op straat laat beland nie en probeer hierdie “sensitiewe kwessie” daarvolgens bestuur.



VERHOUDING MET PRODUSENTE

Naas die proses van vaartbelyning is die produsente 'n reuseprioriteit. “Ons wil dit vir produsente makliker maak om slagbeurte te bespreek en hul beeste te lewer. Ons wil produsente ook meer betaal. Meatco het verlede jaar minder as die pariteitsprys betaal en nie beeste gekry om te slag nie.”

Hy sê die verhouding tussen Meatco en sy produsente het die laaste paar jaar skipbreuk gelei en moet herstel word.

Mnr. Heiner Böhme, hoof van lewendehawe-verkryging, sê ofskoon Meatco ná konsultasies met die kommissaris van binnelandse inkomste, mnr. Justus Mwafongwe, vroeër vanjaar die betaling van BTW aan produsente gestaak het, is die besluit laat vaar.

“Ons het besluit om die boere te akkommodeer, al beteken dit dat daar tussen N$60 en N$80 miljoen se BTW-terugbetalings is waarop ons wag en waarop ons intussen bankrente moet betaal.”



'MEER AS MEATCO'

Breytenbach sê Meatco het reeds met belanghebbers soos die banke en die regering vergader en hoewel informele gesprekke met produsente-organisasies gevoer is, moet hierop uitgebrei word.

“Produsente was teleurgesteld met goed wat gebeur het, wat nie in ons as bestuur en selfs in die direksie se hande was nie,” sê hy met verwysing na ongelukkigheid oor nominasies vir die direksie.

Breytenbach sê uiteindelik gaan dit oor veel meer as Meatco, maar oor die voortbestaan van die rooivleisbedryf in die land. “Produsente het hul beeste na die B-klas abattoirs begin neem en al meer jong diere word lewend uitgevoer. Ons stem saam ons het 'n plaaslike slagmark nodig en ons stem ook saam ons het die buitelandse lewendehawemark nodig. Maar ons moet ook die waarde van Meatco en die buitelandse markte besef.”

Breytenbach sê dit is belangrik dat die balans herstel word aangesien die groot getalle speenkalwers wat die land tans lewend verlaat, tot 'n verkleining en 'n verjonging van die nasionale beeskudde lei. “Ons moet na die uitvloei van roumateriaal kyk en dit beter bestuur.”

Kommentaar

Republikein 2024-11-27

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 21° | 36° Rundu: 24° | 34° Eenhana: 21° | 36° Oshakati: 22° | 36° Ruacana: 19° | 36° Tsumeb: 24° | 37° Otjiwarongo: 19° | 35° Omaruru: 18° | 36° Windhoek: 18° | 32° Gobabis: 17° | 32° Henties Bay: 14° | 20° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 16° | 31° Mariental: 16° | 31° Keetmanshoop: 14° | 30° Aranos: 16° | 31° Lüderitz: 13° | 29° Ariamsvlei: 14° | 30° Oranjemund: 12° | 26° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 17° | 32° Lubumbashi: 17° | 25° Mbabane: 12° | 19° Maseru: 9° | 20° Antananarivo: 18° | 30° Lilongwe: 22° | 34° Maputo: 20° | 25° Windhoek: 18° | 32° Cape Town: 16° | 23° Durban: 15° | 24° Johannesburg: 14° | 25° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 19° | 21° Harare: 18° | 26° #REF! #REF!