Liggaamsdele van Khashoggi 'in put'
Liggaamsdele van Khashoggi 'in put'

Liggaamsdele van Khashoggi 'in put'

Volgens Mirror het die Turkse president gevra vir 'n onafhanklike ondersoek na die moord en gesê misdaadverhore moet in Istanboel gehou word.
Liggaamsdele van die vermoorde joernalis Jamal Khashoggi is glo in 'n put by die Saoedi-konsulaat in Istanboel gekry.

Volgens berigte beweer Dogu ­Perincek, leier van die Turkse party Rodina, “betroubare bronne in ­Istanboel se veiligheidsdiens het aan my gesê Khashoggi is in 'n put in die tuin van die Soedi-konsul-generaal se huis gekry”.

Turkse owerhede het volgens die Britse koerant Mirror nog nie kommentaar op dié bewerings gelewer nie.

Mirror haal The Middle East Eye aan wat sê 'n span van 50 hoogs vaardige intelligensie- en militêre agente is meer as 'n jaar gelede gestig.

Toe die moordenaars na Riaad ­terugkeer, het hulle Kha­shoggi se ­afgesnyde vingers aan kroonprins Mohammed bin Salman van Saoedi-Arabië gegee.

“Die kroonprins het altyd gesê hy sal enige skrywer wat hom kritiseer se vingers afsny,” het 'n bron glo aan The Middle East Eye gesê.

Ander bronne het aan die koerant gesê die intelligensie-offisier Maher Abdulaziz Mutrib, 'n lyfwag van prins Mohammed, het 'n deel van die joer­nalis se liggaam in 'n groot sak uit Turkye geneem.

Hy het op die dag van die moord die land in 'n private straler verlaat en sy bagasie is nie ondersoek toe die vliegtuig van die Ataturk-lughawe op­gestyg het nie, berig Mirror.

Die 33-jarige kroonprins het volgens Mirror na bewering vir Khashoggi, 'n Saoedi-burger wat naby Washington DC gewoon het, kort voor die moord gebel om hom te probeer oorreed om na die land terug te keer. Khashoggi het geweier uit vrees dat hy vermoor sal word, is berig.



NIE ONDERSOEK STAAK NIE

Maandag het pres. Recep Tayyip Erdogan van Turkye in 'n toespraak in die parlement gesê Turkye sal nie die ondersoek na die 59-jarige ­Khashoggi se dood staak voordat alle vrae beantwoord is nie, berig Reuters.

“Intelligensie- en veiligheidsinstansies het bewyse dat die moord beplan is . . . Om die blaam vir so 'n saak op die skouers van veiligheids- en intelligensielede te plaas, sal nie ons of die internasionale gemeenskap tevrede stel nie,” het hy gesê.

Khashoggi, 'n rubriekskrywer van The Washington Post en 'n kritikus van prins Mohammed, het drie weke gelede verdwyn nadat hy die Saoedi-konsulaat in Istanboel binnegegaan het om dokumente vir sy ­voorgenome huwelik te kry.

Turkse amptenare het vermoed Khashoggi is binne die konsulaat deur Saoedi-agente vermoor en sy liggaam opgesny.

Erdogan het gesê drie agente het 'n dag voor die moord op vermoedelik 'n verkenningsending in Istanboel aangekom.

Die volgende dag het 15 mense by die konsulaat aangekom.

“Hoekom het dié mense mekaar op die dag van die moord in ­Istanboel ontmoet? Ons soek antwoorde hierop. Van wie kry dié mense hul ­opdragte?” het Erdogan Maandag in sy toespraak gesê.

Hy het gesê hy trek nie die kroonprins se eerlikheid in twyfel nie, maar hy aanvaar nie die bewering dat 'n “rampokker-eenheid” vir die moord verantwoordelik is nie.

Volgens Mirror het die president gevra vir 'n onafhanklike ondersoek na die moord en gesê misdaad­verhore moet in Istanboel gehou word. 

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!