Ligloop Pirates, hier kom die Samba Boys!
Ligloop Pirates, hier kom die Samba Boys!

Ligloop Pirates, hier kom die Samba Boys!

African Stars het van afrigter verwissel te midde van sy aanslag op die CAF Kampioene­liga en die NPL.
NAMPA
Mnr. Patrick Kauta, voorsitter van Momentum African Stars, sê die sokkerklub het die afgelope ruk heelwat met sy deelname aan die Konfederasie van Afrika-sokker (CAF) se Kampioene-liga geleer.

Stars het in sy eerste ronde met 'n aggregaattelling van 2-1 teen Volcan Club de Morini van die Comores ná die weg- en tuiswedstryde geseëvier.

In ronde twee is die Suid-Afrikaanse kampioenklub Orlando Pirates sy volgende mededinger, vir wie Stars die afgelope Saterdag in Soweto tot 'n gelykopuitslag (0-0) beperk het.

Stars was aanvanklik veronderstel om vanaand sy wedstrydverpligting in die MTC FNB Namibiese Premierliga (NPL) teen Civics na te kom. Maar genadiglik het logika geseëvier en is dié botsing uitgestel sodat die Samba Boys vars kan bly om Pirates Saterdag in sy Kampioeneliga-herontmoeting te pak.

Die spelers se bene en stamina word gespaar om Saterdag 16:00 in die Sam Nujoma-stadion op hul beste teen die Seerowers uit die buurland te wees.

Kauta glo Stars kan die besoekers klop en sal aan die einde van sy Kampioeneliga-veldtog 'n dokument saamstel wat aan enige ander NPL-klubs beskikbaar gestel sal word wat ook streef om as professionele spanne te funksioneer.

“Ons mikpunt is om Stars soos 'n professionele klub te bedryf. Sodra ons Orlando Pirates komende naweek klop, kan ek julle sonder omhaal sê ons is die eerste volwaardige professionele klub in Namibië.

“Die NPL en die Namibiese Sokkervereniging (NFA) moet nouer saamwerk, want in die RSA het die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa) al die logistieke reëlings hanteer.

“Die NPL het geen verteenwoordiger daar gehad nie en ons moes met Safa skakel wanneer ons vasgehaak het. Ons het wel plaaslik met die NFA saamgewerk, anders het ons teen 'n muur vasgeloop. Ons het die NPL versoek om ons wedstryd teen Civics uit te stel, want Pirates het reeds lank vooraf dieselfde met sy middelweekbotsing teen Mamelodi Sundowns gedoen wat ook (vanaand) sou plaasvind.

“Hulle dink ons denkwyse is te amateuragtig of ons weet nie wat ons aanvang nie,” het Kauta bygevoeg.



SAMARIA(TAAN)

Bobby Samaria, hoofafrigter wat Stars in die 2017-'18-seisoen tot die huidige NPL-kampioenspan as 'n gedugte eenheid saamgesnoer het, se hulp is verlede week ingeroep om die Samba Boys weer op die wenpad te kry.

Samaria het ingestem en word as die samaritaan bestempel wat Stars in sy uur van nood te hulp gesnel het. Hy het Stars ná 'n loesing van 5-1 die vorige naweek teen FNB Black Africa, binne 'n week reggeruk om die magtige Seerowers ('n voormalige CAF Kampioeneliga-wenner) tot 'n doellose uitslag te beperk.

Ná sy onmiddellike sukses is Samaria opnuut as hoofbreier van Stars aangestel en sal tot aan die einde van die 2018-'19-seisoen die sweep by die klub klap.

Samaria vervang Robert Nauseb, die gewese Brave Warrior met wie Stars vroeër vanjaar 'n tweejaarkontrak gesluit het om die span vir die 2018-'19 NPL-seisoen af te rig. Kauta het egter uitgewys dat Stars onder leiding van Nauseb die helfte van sy wedstryde verloor en te veel doele afgestaan het.

“Samaria is nou die man in beheer van Stars. Ons het met Nauseb rakende die 20 maande gesels wat van sy kontrak oorgebly het, maar hierdie besonderhede bly 'n geheim,” sê die klubvoorsitter.

Onder Nauseb se afrigting het Stars vier NPL-wedstryde gespeel, asook twee Kampioeneliga-botsings waarvan hulle een teen Volcan Club de Morini gewen en een gelykop gespeel het.

In die NPL het Stars twee keer gewen en twee verloor, wat die span met 'n negatiewe doelverskil van minus twee laat. Die nederlaag met 5-1 teen Black Africa was vir Nauseb se werkgewers die laaste strooi.

Nog 'n NPL-kragmeting wat Saterdag sou plaasvind, is uitgestel om die volle aandag op die deurslaggewende stryd tussen Momentum African Stars en Pirates (RSA) te hou. Die botsings tussen FNB Orlando Pirates van Katutura en Eleven Arrows van Walvisbaai in ronde 7 is ook uitgestel.

Die ontmoeting tussen Civics en Young African wat Sondag sou plaasvind, sal môreaand agtuur in die Sam Nujoma-stadion afskop.

Dit sal Okahandja United en Young Brazilian – beide groentjies in die NPL – se eerste ontmoeting wees wanneer hulle vandag om 17:00 by die Nau-Aib-stadion op Okahandja kragte meet. 

- Nampa

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!