Ligloop vir nog ’n gelaaide K-woord
Andrew Poolman – Jy het waarskynlik al die laaste tyd bespeur hoe die spotnaam “Karen” op sosiale media gebruik word.
Niemand is heeltemal seker wie die naam die eerste keer so gebruik het nie. Iedergeval, “Karen” het ’n gedaanteverwisseling ondergaan as die allesomvattende noemnaam vir die eiegeregtigde, ryk, wit, voorstedelike viswyf wat daarop aandring om met jou baas te praat – ondanks die feit dat sy in die meeste gevalle aan die verkeerde kant van die gebeure was.
Dié soort karakter sal jou byvoorbeeld nie by die AmeriKKKaanse leier, die goue kalf in die wit huis, gaan verkla nie, nee. Sy dring aan op ’n woordjie met sy baas, Vladimir Putin.
Haar tipe bel graag die polisie oor onbenullighede, soos enige groepie mense wat in ’n openbare plek kuier en vir haar soos buiteperde (“dark horses”) lyk.
In die generiese meme word sy met ’n tipiese haarstyl voorgestel — die asimmetriese bob met skelblonde “highlights” en ’n duur sonbril.
In die era van coronavirus en sy dodelike toer deur Amerika, het “Karen” die uitgesproke minderheid middeljarige wit vroue geword wat weier om aan sosiale afstand of maskers gehoor te gee.
Of die een wat by die restaurant haar stem verhef omdat haar bestelling nog nie gereed is nie, terwyl die arme personeel weens coronavirus uitgedun is en sukkel om by te hou.
’n “Karen” staan vir ’n selfsugtige aandrang op haar regte en ’n sterk begeerte om te kla. Sy is oorgehaal om andere sleg te sê of selfs in gevaar te stel, solank sy haar sin kry.
Karen reken sy kan met enigiets wegkom en inderdaad is video’s op sosiale media wat haar in die verleentheid stel, gewoonlik die ergste nagevolg.
Die Karen-meme (Engelse uitspraak, nie Namlish nie) vermaak diegene wat dit geniet om te sien hoe die mees bevoorregtes hulself in die voet skiet. Dit bevat ’n element van donker humor en vingerwysing: “Ons sien jou bevoorregte status, selfs as jy dit nie wil raaksien nie.”
Dis ’n neerhalende term en het ook ietwat van ’n seksistiese kleur: “Karen raak mos bietjie mal as sy histeries is.”
Daar bestaan ongetwyfeld Karens van alle rasse, maar die waarskynlike rede hoekom anderskleuriges nie in die meme gebruik word nie, is omdat haar soort gedrag in Amerika tragies kan eindig vir iemand wat nie wit is nie.
Toevallig op dieselfde dag waarop ’n geboeide George Floyd in Minneapolis helder oordag deur ’n polisie-skurk met sy knie verwurg is ten aanskoue van ’n verbysterde wêreld, was daar die ewe wyd verspreide video van Amy Cooper, alias die New York Central Park “Karen”.
’n Voëlkyker in die park het haar beleefd aangepraat om die parkreëls te gehoorsaam en haar hond se halsband aan te sit. Dadelik was sy op haar perdjie en het in die huilstem van ’n Oscar-aktrise die polisie ontbied omdat die swart man “haar lewe bedreig”.
Die man, Christian Cooper, se selfoonvideo van die insident (reeds miljoene kere gekyk) het onmiddellik oproer veroorsaak en onder meer daartoe gelei dat haar hond deur Animal Rescue weggeneem is. Haar werkgewer het haar ook afgedank op grond van die rassistiese wyse waarop sy basies polisiegeweld op hom wou laat neerdaal.
Die Floyd-tragedie en Central Park “Karen”, beide op grond van die video-belewenis, is bestem om nog vir ’n tyd lank teen mekaar afgespeel te word terwyl die “Verenigde” State van Amerika met sy diep ingeburgerde ongelykheid, rassisme, blatante verdoeseling van polisievergrype en ander kwessies worstel.
Totdat die volgende “Karen” weer toeslaan ...

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie