Ligter vonnis vir Schiefer
Ligter vonnis vir Schiefer

Ligter vonnis vir Schiefer

'n Suksesvolle appèlhofaansoek deur die man wat beide sy ouers vermoor het, het Dinsdag tot 'n vermindering van sy vonnis gelei.
Jacqueline Louw
Jacqueline Louw



Drie appèlregters het Dinsdag in die guns beslis van die 28-jarige Romeo Manellitto Schiefer, wat na die hooggeregshof geappelleer het teen die tronkstraf van 48 jaar wat bykans drie jaar gelede in die hoërhof in Windhoek aan hom opgelê is vir twee klagte van moord.

Hy is in Oktober 2013 tot 28 jaar tronkstraf gevonnis vir elk van die twee moordklagte deur regter Naomi Shivute in die hoërhof in Windhoek. Agt jaar van die een vonnis sou saam met die ander vonnis uitgedien word.

Die hooggeregshof het Dinsdag die twee vonnisse van 28 jaar elk bevestig, maar het beveel dat 14 jaar van die een vonnis saam met die ander vonnis uitgedien moet word, wat beteken dat Schiefer 42 jaar gevangenisstraf in plaas van 48 jaar sal uitdien.

Ná 'n verhoor waarin Schiefer skuld ontken het op die klagte dat hy sy ouers op 18 Januarie 2008 in hul huis in Khomasdal vermoor het, het regter Shivute hom in September 2013 in die hoërhof in Windhoek skuldig bevind op twee klagte van moord en 'n klag van diefstal.

Schiefer was nie suksesvol in 'n appèl in die hoërhof teen hierdie beslissing nie. Verlof om slegs teen sy vonnisoplegging te appelleer is egter deur die hooggeregshof toegestaan.

Schiefer het sy pa, mnr Frans Schiefer (50), deur die kop geskiet terwyl hy in sy bed gelê het en sy ma, me. Francina Schiefer (50), herhaaldelik met 'n mes gesteek en nege keer met 'n pistool geskiet. Hy was 18 toe hy sy ouers vermoor het.

Schiefer se prokureur, mnr. Winnie Christians, het Schiefer se jeugdigheid ten tyde van die voorval as versagtende omstandighede aangevoer in sy appèl teen die vonnis. ­Christians het betoog die regter het 'n fout begaan toe sy 'n 48-jaar vonnis opgelê het aan 'n persoon wat 18 jaar oud was toe die misdaad gepleeg is.

Die hoërhof het bevind die staat het bo enige redelike twyfel deur omstandigheids- en forensiese getuienis, asook 'n skuldbekentenis van Schiefer, bewys hy is skuldig aan die moorde.

In die skuldbekentenis, wat Schiefer 'n dag nadat hy sy ouers doodgemaak het, aan 'n senior polisieoffisier gemaak het, het hy gesê hy is “aangehits” om die moorde te pleeg.

Hy het glo besluit “dit was genoeg” toe sy ma hom gevloek het en hom daarvan beskuldig het dat hy nie wou studeer nie en dat hy haar geld mors deur “rond te loop en niks te doen nie”.

Schiefer het 'n mes geneem en sy ma aangeval. Daarna het hy sy pa se pistool gaan haal en hom in die kop geskiet.

Ná hy sy pa geskiet het, het hy kombuis toe gegaan en die deur wat sy ma gesluit het, oopgeskiet. Sy ma het na sy ouers se slaapkamer gevlug en Schiefer het haar daar geskiet en ook weer met 'n mes gesteek.

Ná die moord het hy ander klere aangetrek en saam met 'n vriend uitgegaan totdat hy 'n foonoproep van een van sy broers ontvang het om huis toe te gaan.

Regter Shivute was korrek in haar bevinding dat Schiefer nie enige berou oor die moord op sy ouers getoon het nie, het regter Elton Hoff opgemerk.

Regter Shivute het die feit dat Schiefer 'n eerste oortreder was, sy jeug en die tydperk van meer as ses jaar wat hy in aanhouding spandeer het voor hy gevonnis is, as versagtende omstandighede in sy vonnisoplegging gemeld, het Hoff gesê.

“Hy is 'n eerste, jeugdige oortreder, die misdade is sonder enige voorbedagte rade gepleeg en die appellant het nie 'n geskiedenis van gewelddadige optrede gehad nie,” het Hoff in sy uitspraak genoem.

Hoff het gesê indien hy die verhoorregter was, sou hy beveel het dat 'n langer gedeelte van die een vonnis saam met die ander vonnis uitgedien word.

Adjunk-hoofregter Petrus Damaseb en appèlregter Dave Smuts het met die appèluitspraak saamgestem.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!