'Lindie wou net nóg iemand red'

Namibiërs is keelvol vir geslagsgeweld nadat 'n geliefde kunstenaar en kampvegter vir diereregte Vrydag wreed op Swakopmund vermoor is.
Francoise Steynberg
Francoise Steynberg - "As ek jou nie kan kry, dan kan niemand jou kry nie.

“Ek sal jou kop afsny en op die tafel sit, sodat jou kind dit eerste sien as sy by die trappe afkom."

Dít was glo die doodsdreigemente aan me. Lindie Prinsloo (39) wat Vrydag omstreeks 16:00 met 'n gapende wond aan haar keel in 'n plas bloed in die badkamer van haar huurhuis gevind is. Haar sesjarige dogtertjie, Amelie, het toe wel volgens dié dreigemente op dié gru-moordtoneel afgekom.

"Amelie het TV gekyk en aan die slaap geraak. Toe sy wakker word, wou sy 'n teepartytjie saam met haar ma hou. Sy het haar ma gesoek en haar lyk in die badkamer gekry," het die oorledene se jongste broer, mnr. Human Prinsloo (31), gister uit Outjo aan Republikein vertel.

Hy sê Amelie het vertel sy het baie bloed gesien en vir haar kat, Snowy, gesê om vir haar drukkies te gee, "want mamma is regtig dood".

Sy het net daar gesit en wag en "gelukkig het Lindie se beste vriend, mnr. Adam Labuschagne, opgedaag," het Human gesê.

Hy en sy ouers, mnr. Boxer en me. Anita Prinsloo van Outjo, het dadelik ná die skoknuus Swakopmund toe gejaag waar sy suster, me. Leanie du Preez (35), ook bly. Hul broer, Nico (33), woon in Kanada.

TRAUMABERADING

"Ons het traumaberading vir Amelie gereël.

“Sy sal by haar oupa en ouma met wie sy 'n noue band het, op Outjo bly," het Human gesê. Ds. Manus Olivier van die NG Kerk op Swakopmund het ook berading aan die familie gegee.

Die man met wie Prinsloo in 'n verhouding was, mnr. Ivan Pitt (29), het hul gesamentlike woning Vrydag in haar wit Kia-voertuig met die registrasiemerke N 1556 S verlaat. Hy was gister teen druktyd nog nie opgespoor nie nadat die polisie en buurtwagte die hele naweek na hom gesoek het.

Die koördineerder van misdaadondersoeke in die Erongostreek, adj.komm. Erastus Iikuyu, het gister aan Tanja Bause gesê die man word vir ondervraging gesoek. Iikuyu het gesê die oorledene se selfoon of selfone is ook weg en word nie geantwoord nie.

Tot dusver is geen padblokkades opgestel of 'n polisiehelikopter ingespan nie, het hy by navraag gesê, "maar die polisie vra dringend die hulp van die publiek oor die hele land om te help om die man en voertuig op te spoor".

Enige iemand met inligting word versoek om sers. Kongoro by 081 229 0149, Iikuyu by 081 246 4757 of die naaste polisiekantoor te kontak.

AANRANDINGSKLAGTE

Klagte van aanranding en aanranding deur dreigemente is vroeër deur Prinsloo teen Pitt ingedien nadat hy glo gedreig het om haar dood te maak.

"Hy het 'n mes teen haar keel gehou en vir haar gesê 'as ek jou nie kan kry nie, dan kan niemand jou kry nie'. Hy het nooit opgehou om haar te bel en te pes nie, selfs uit die tronk uit," vertel Human.

"Ons familie was baie gekant teen die verhouding. Die vrou met wie hy voorheen in 'n verhouding was en by wie hy 'n dogter het, se oupa het ons teen hom gewaarsku. Die vrou en kind het ook glo weggetrek Engeland toe," vertel Human.

"Ons het gehoor hy is met dwelms deurmekaar, maar Lindie het vir ons gesê hy het dit gelos. Sy was iemand wat altyd alles en almal wou red. Sy wou net nóg 'n afvlerkvoël red."

Human sê hul familie probeer om nie aan die moordenaar te dink nie. "Die buurtwagte help baie om hom op te spoor en vriende gaan 'n privaat speurder aanstel."

Begrafnisreëlings sal gefinaliseer word sodra Nico en sy vrou uit Kanada arriveer. Lindie sal op Outjo begrawe word.

HULDEBLYKE

Intussen stroom huldeblyke in vir dié geliefde kunstenaar en kampvegter vir diereregte, maar ook noodkrete teen geslagsgeweld en maklike borgtog aan verdagtes van ernstige misdaad.

Daar is selfs aanlyn petisies opgestel om weer die doodstraf in Namibië in te stel.

"My hart rou vir Namibië. Namibië, jou roksome raak bloedbelope van vroue en kinders se bloed," sê 'n enkelma en kunstenaar van Walvisbaai.

"Hier is 'n pragtige mamma wat spook om haar dogtertjie alleen groot te kry. Sy is dapper en pak nuwe besighede aan om met kuns te probeer geld maak. En iemand maak haar nie net seer nie, nee, hy sny haar keel oop!"

KAMPVEGTER VIR DIERE

In 2013 het Prinsloo met die Have-a-Heart-projek op Outjo begin om troeteldiere in lae inkomste gebiede te steriliseer en kastreer. Intussen het Have-a-Heart gegroei en verskillende spanne vrywilligers werk nou in 24 dorpe oraloor die land waar al meer as 5 000 diere geopereer is.

Twee jaar gelede het Prinsloo die eerste aanlyn kunsuitstalling ten bate van Have-a-Heart georganiseer en sowat N$10 000 ingesamel. Voordat sy Swakopmund toe getrek het, het sy as grafiese ontwerper op Outjo gewerk.

Op die kusdorp het sy onder meer die onderneming Jamieson16 begin wat unieke ontwerpe op ’n verskeidenheid van materiale druk.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!