Lionel Messi: Sprokie se slot ene trane
Lionel Messi: Sprokie se slot ene trane

Lionel Messi: Sprokie se slot ene trane

Sokker
Hy is 20 jaar gelede as ’n piepklein outjie deur Barcelona gewerf. Sedertdien het Lionel Messi verskeie van die hoofstukke in Barcelona se suksesboek geskryf. Louis de Villiers skryf dat die slot hom tot trane dryf.
Laas dat sportmanne se kom en gaan die uwe so hewig ontstig het, was toe die WP se briljante broers Du Plessis, Carel en Michael, in 1987 vir Transvaal gaan speel het.
Dit was omtrent vir jou ’n geweeklaag, maar toe Lionel Messi vroeër die week die raad van FC Barcelona per geregistreerde pos (burofax in Spanje) laat weet hy wil dadelik van sy kontrak vrygestel word, het trane oor die wêreld heen gevloei.
Dis net meer as 20 jaar sedert die Barcelona-raad aanvanklik gehuiwer het om die piepklein voorspelertjie uit Rosario te teken. Destyds was dit ongehoord om sulke jong spelers oorsee te werf en die raad was stywenek. Charly Rexach, ’n raadslid, was egter bang die klub verloor hom en het sommer op die lughawe ’n kontrak op ’n papierservet opgetrek vir die Messi-familie om daar en dan te teken.
Hy was so skaam dat sy maats in die jeugspan, onder wie Cesc Fabregas en Gerard Pique getel het, aanvanklik gedink het hy is stom.
Maar op die veld het sy voete gepraat en ons lang beleërde culés het langafstand gerugte gehoor dat daar ’n superster-in-wording uit La Masia vir Juvenil A speel.
Die res van die wêreld het ook gehoor dat die versukkelde Barcelona ’n jeugspan vir die eeue aanmekaar geflans het. Fabregas is eers Arsenal toe en Pique na Manchester United. Die Gunners het na Messi gevry, maar hy was traag om nogmaals alles te laat staan en oorsee te trek.
Die res is geskiedenis.
In die seisoen van 2004-’05 het hy saam met die eerste span begin oefen. Die flambojante Ronaldinho, wat Barcelona dié seisoen na sy eerste titel in ses seisoene gevoer het, het die klein Argentyntjie onder sy vlerk geneem.
Ronaldinho het sy selfvertroue die wêreld se goed gedoen, maar was ’n kuiergat soos min en sy jonger trawant se fiksheid het begin ly onder al die partytjies en Argentynse steaks. Sulke talent kon jy egter nie onder ’n maatemmer in paartie nie.
In 2008, toe Pep Guardiola die leisels by Barcelona vat, was Messi uitgekuier met die klub se hiërargie. Die Katalaanse superklub is een van die min waar die raad demokraties verkies word, maar soos ons oral in die wêreld sien, is demokrasie g’n waarborg van insig of doeltreffendheid nie.
Guardiola het egter die jongeling in die spilpunt van sy span verander, oorreed om minder te kuier en die gevolg was dat Barcelona, tradisioneel ’n ongeluk op soek na ’n plek om te gebeur, en tot almal se verbystering, in die toonaangewendste klub ter wêreld verander het.
Messi het ’n veel akkurater doelskieter geword. Dis deesdae moeilik om te onthou dat sy korrel eens op ’n tyd die swak plek in sy spel was, want die Argentyn het al wat doelerekord is herskryf.
Gerd Müller, die legendariese Bomber van Bayern- en Duitsland-faam, het in 1972 ’n onoortrefbare 85 doele in een kalenderjaar geskiet.
Veertig jaar later het Messi dit natuurlik oortref met ’n ongelooflike 91.
Sy Barcelona-doeletotaal staan op 485 in 444 wedstryde, statistiek wat nie werklik in moderne sokker realisties klink nie.
Barcelona vernietig homself gewoonlik sodra hy suksesvol begin raak, maar met die Messi-as, soos hy toe al allerweë bekend gestaan het, op sy allerbeste, was die gewone gate in die struktuur minder duidelik.
’n Nuwe raad het voor die ou versoeking geswig en spelers ten duurste begin werf, terwyl die jeugakademie verwaarloos is.
Luis Suárez en Neymar was suksesvol, maar nadat dié beleid in 2015 die klub se laaste Kampioeneliga beteken het, het alles agteruitgegaan.
Sedertdien het die klub amper ’n miljard euro’s geblaas sonder dat enige nuwe aankoop ’n noemenswaardige verskil kon maak.
Neymar, die kroonprins, is Parys toe. Suárez, Pique, Sergio Busquets en Ivan Rakitic het oud geword.
As jy Barcelona wou troef, moes jy naderhand net vir Messi aan bande lê. Dat Barcelona nietemin in 2018 en 2019 La Liga kon wen, vertel jou dis makliker gesê as gedaan.
Maar soos salarisse gegroei het, het uitslae verswak.
Messi verdien deesdae sowat €100 miljoen per jaar, waarmee jy sweerlik drie baie goeie jong spelers kan koop.
En Barcelona gaan lank reeds die kreeftegang wat tot ’n spits gedryf is met die afgedankste loesing van 8-2 wat hy teen Bayern München op die lyf geloop het.
Die nuwe bestuurder, Ronald Koeman, het g’n gras onder sy voete laat groei om al die senior spelers te laat weet om ander werk te soek nie.
En vir Messi gesê sy dae van bevoorregting is verby.
’n Vieslike regsgeding dreig, maar die culés is feitlik voor die voet in Messi se kamp. Niemand is groter as die klub nie, ja, maar sy geval is waarskynlik ’n uitsondering.
Hy het ons eens versukkelde klub in ’n sprokiesverhaal omgetower.
In 1987, toe die Du Plessis-broers Nuweland verlaat het, het ek gevrees dit sou nooit weer so lekker wees om WP te ondersteun nie.
Ek was reg.
Nou weet ek dieselfde voorgevoel oor Barcelona is 100% in die kol.
Adiós, Lionel. Ons was jou nie werd nie. – Netwerk24/Rapport


FOTO
Agge nee! Lionel Messi kan dit nie glo nie nadat Barcelona met 8-2 deur Bayern München in die Europese Kampioeneliga vermorsel is. Foto Reuters

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!