Lions baken van lig wanneer skemer kom
Enkele alzheimerpasiënte woon reeds in ’n sorgsentrum op Hentiesbaai, wat nou 15 aanvullende eenhede gaan kry.
Des Erasmus - Sewe weke gelede was daar net ‘n kaal erf. Vrydag het ‘n struktuur daar reeds dakhoogte bereik waar nog 15 eenhede vir die vakansieoord se sorgsentrum gebou word. In die proses beweeg Hentiesbaai se selfsorg vir die dorp se oudstes en siekstes teen ‘n stinkspoed vorentoe.
Die 15 eenhede kom as aanvullend tot die Hentiesbaaise sorgsentrum waar reeds na die hulpbehoewendes omgesien word wat nie meer net op hulself aangewese kan wees nie. Vir enkele alzheimerpasiënte word reeds daar voorsiening gemaak, maar wanneer die huidige bouprojek voltooi is, gaan ook die mense in die skemer van hul lewe hul eie plekkie kry.
Die touleier van die saamstaanpoging is die dorp se Lions (Distrik 410 A). Spanwerk is die wagwoord waar verworwe kundigheid op ‘n ouderdom van 60 jaar met verpligte aftrede soos nat vadoeke by die agterdeur uitgesmyt word. Die projekte deur die wakkerste Lions in Suider-Afrika word aangevul met welwillendheid en dienste deur Hentiesbaai se eie mense en groot besighede. In die proses word ‘n oord van welwillendheid geskep met die verskeie komponente wat nie eers ‘n sterkmansklipgooi uitmekaar lê nie. En dít feitlik in die middedorp.
Waar die betonmenger nou vir die uitbreiding van die sorgeenheid loop, word sommer met ‘n vinger gewys na die huis wat plek gaan maak vir die tuiste van alzheimerpasiënte.
Dit gaan die volgende groot projek wees.
Aanvanklik was tenders vir die huidige bouwerk van 15 eenhede gevra. In die resessietoestande kon die Lions nie bykom nie. Toe is op selfbou besluit met die verskaffing van verwante dienste wat aan verskillende kenners op hul gebiede toegeken is. In die proses word miljoene dollars aan boukoste gespaar. Oor die ganse projek is Frans Joubert van Hentiesbaai as toesighouer en koördineerder aangestel. Boumateriaal is deur die Lions self by welmenende verskaffers teen afslagpryse bekom.
Op ’n naam vir die 15 nuwe eenhede is reeds besluit, maar verlof moet nog net van nasate verkry word om dit aan te kondig.
‘n Verwante vertakking van die Lions van Hentiesbaai is Nurses on Wheels. Daarmee bedien opgeleide verpleegsters verswaktes tuis waar hulle nie meer vir hulself kan sorg nie. Die gesondheidsorg op wiele dien ook as tussenganger tussen siek mense en die dorp se eie dokter. Vir die versorging en vervoer van siekes is daar ook ‘n werkende ooreenkoms met ‘n plaaslike nooddiens.
‘n Ellelange lys bestaan van welsynsdienste waarby die Lions van Hentiesbaai betrokke is: ‘n Smousgat wat tot vyf keer per maand gehou word, ‘n toetsgeleentheid vir gesigsgestremdes, berading oor vigs en gesinsbeplanning, ’n bystandsdiens vir gehoorgestremdes, maandelikse toetse vir suikersiekte, bloeddruk en cholesterol en ‘n bewusmakingsveldtog oor kanker.
In ‘n verwante projek word sogenaamde omgee-etes verskaf.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie