Lisensie of nie, staatsvoertuie ry
Lisensie of nie, staatsvoertuie ry

Lisensie of nie, staatsvoertuie ry

Die bestuurders en eienaars van voertuie met staatsregistrasiemerke waarvan die lisensieskyfies verval het, word reeds vir maande nie vervolg nie.
Adam Hartman
Adam Hartman op Swakopmund – Verkeersbeamptes in alle streke voer steeds ’n vroeër opdrag vanuit hul hoogste gesag uit om nie verkeerskaartjies aan regeringsvoertuie met vervalde lisensieskyfies uit te reik nie, maar wel die voertuie toe te laat om te reis.

Die inspekteur-generaal van die Namibiese polisie (Nampol), lt.genl. Sebastian Ndeitunga, het op 16 Julie verlede jaar hierdie opdrag aan alle streekbevelvoerders uitgereik. Sy kantoor het glo tevore talle klagtes ontvang oor bestuurders van staatsvoertuie wat verkeerskaartjies ontvang het vir lisensieskyfies wat verval het – wat na bewering daartoe gelei het dat die droogtehulp-verspreidingsprogram in landelike gebiede nie kon realiseer nie.

Spesifiek is verwys na ’n voorval waarin me. Milka Tjiveta van die vlugtelingbestuursprogram op 29 Julie met N$1 000 (of ’n hofdagvaarding) by Ongwediva se taxistaanplek beboet is nadat sy glo ’n regeringsvoertuig bestuur het waarvan die lisensie vyf maande tevore (28 Februarie 2021) verval het.

Tjiveta het die voorval agterna wel by die ministerie van werke en vervoer se kantoor in Windhoek aangemeld, wat op sy beurt bevestig het van dié ministerie se lisensieskyfies moet nog uitgereik en by die staatsgarage afgehaal word. Hulle het “belowe om die volgende dag soontoe te gaan om te kyk of dit gereed is”.

Die volgende dag is Tjiveta se lisensieskyfie vir GRN 23246 afgehaal en na Oshakati gekoerier om op die voertuig geplaas te word.

Intussen het die ministerie van binnelandse sake se uitvoerende direkteur, mnr. Etienne Maritz, ’n brief (gedateer 6 Julie) aan me. Esther Kaapanda, sy eweknie van werke en vervoer, gerig waarin hy haar in kennis gestel het van sy versoek aan die polisie om nie regeringsvoertuie met vervalde lisensieskywe te vervolg nie.

“U geagte kantoor word hiermee in kennis gestel dat, weens die aard van die dienste wat deur die departement van binnelandse sake gelewer word, noodsaaklike dienste wat deur die ministerie gelewer word nie gestaak of uitgestel kan word weens vertragings in die hernuwing van lisensieskyfies deur die staatsgarage nie.

“Dit lei daartoe dat verkeerskaartjies by padblokkades aan ons personeellede uitgereik word terwyl hulle staatsvoertuie op amptelike sendings en opdragte bestuur,” het Maritz geskryf.

Hy het gesê sy kantoor het glo Nampol se verkeersdepartement in kennis gestel, wat op sy beurt “begrip het vir die vertragings wat ondervind word” met die hernuwing van lisensieskyfies vir staatsvoertuie.

Maritz se brief is gou opgevolg deur Ndeitunga se opdrag aan streekpolisiebevelvoerders. Ons susterpublikasie Erongo 24/7 het dié korrespondensie onder oë gehad.

Toe die nasionale polisiewoordvoerder, adj. komm. Kauna Shikwambi, om kommentaar genader is oor of die opdrag steeds geldig is, en hoe dié opdrag beskou moet word in die lig dat gewone landsburgers vervolg word weens lisensieskywe wat verval het (minstens 26 oortreders is gedurende die afgelope feesseisoen net in Erongo die toepaslike boete van N$1 000 opgelê), het sy erken die brief wat “ongelukkig en op geheimsinnige wyse in die betrokke mediahuis se besit beland het”, is eg.

Sy het verduidelik vrystelling is gegee om ononderbroke dienslewering te fasiliteer en om alle noodsaaklike dienste te ondersteun, terwyl die ministerie van vervoer se regspan “die kwessie van die lisensies opklaar”.

“Die inspekteur-generaal se opdrag bly van krag tot verdere kennisgewing,” het sy aan Erongo 24/7 gesê.

Shikwambi sê statistiek oor hoeveel kaartjies sedert die begin van 2021 aan staatsvoertuie met vervalde lisensies uitgereik is, is nie gereed nie, maar sal in ’n latere stadium verskaf word.

Volgens haar was die opdrag van ’n tydelike aard en gedoen in die beste belang van alle Namibiërs, aangesien hulle negatief geraak kan word in die afwesigheid van noodsaaklike staatsdienste.

“Hoewel die Namibiese polisie nie hier is om die sogenaamde partydige benadering met die bogenoemde reaksie te regverdig nie, is dit eweneens onvanpas om die omstandighede rondom die staatsvoertuie gelyk te stel aan dié van gewone lede van die publiek – aangesien staatsvoertuie daar is om die hele nasie te bedien, terwyl voertuie van siviele burgers daar is om hul onderskeie individuele behoeftes te dien,” het Shikwambi ter afsluiting gesê.

Erongo 24/7 het wel die ministerie van vervoer se direkteur van vervoerbeleid en regulasies, mnr. Cedric Limbo, om kommentaar gekontak, maar die belofte dat hy sou terugbel, het nie gerealiseer nie en ’n opvolgoproep deur die publikasie het ook onbeantwoord gebly.

[email protected]

FOTO
Bestuurders en eienaars van staatsvoertuie met lisensieskyfies wat verval het, word van vervolging vrygestel. Foto Namibian Sun, ter illustrasie

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!