• Tuisblad
  • Sake
  • Listeriose: Groepgedinge teen Tiger Brands verenig
Listeriose: Groepgedinge teen Tiger Brands verenig
Listeriose: Groepgedinge teen Tiger Brands verenig

Listeriose: Groepgedinge teen Tiger Brands verenig

Hanlie Stadler – Die twee afsonderlike groepgedinge wat listeriose-slagoffers of hul familielede teen Tiger Brands aanhangig wil maak, is nou verenig.

Een van Tiger Brands se Enterprise-poloniefabrieke is begin vanjaar deur die departement van gesondheid uitgewys as die bron van die literiose-epidemie waarin byna 200 mense sedert Desember verlede jaar dood is en nog honderde siek geword het.

Tiger Brands sê in ’n verklaring verteenwoordigers van die maatskappy en van die eisers het met die adjunkregterpresident van die hooggeregshof in Gauteng vergader.

Twee afsonderlike aansoeke is ingedien om die slagoffers se saak teen Tiger Brands tot ’n groepgeding te laat sertifiseer. Een is ingedien deur Richard Spoor en die ander deur LHL Attorneys.

Ná die samesprekings het LHL sy saak laat vaar.

Al die partye het oor die breë bepalings van ’n konsepbevel vir die sertifisering ooreengekom. ’n Regter moet nou vir die sertifiseringsaansoek aangewys word.

Sertifisering van ’n groepgeding is die belangrike eerste stap voordat ’n groepgeding kan begin. Dit identifiseer die mense wat deel vorm van die geding en watter kategorieë eisers geskep word na gelang van hoe ernstig hulle geraak is. In dié geval word vier kategorieë eisers voorgestel.

Die feit dat die maatskappy met die proses saamwerk, kom glad nie neer op ’n skulderkentenis deur Tiger Brands nie, beklemtoon die maatskappy.

’n Hofsaak sal ná die sertifisering moet bepaal of Tiger Brands aanspreeklik gehou kan word vir skadevergoeding met betrekking tot elke groep eisers.

Indien wel, sal die waarde van die skadevergoeding vir elke klas eisers daarna bepaal word.

Die voordeel van ’n groepgeding is dat elke eiser nie afsonderlik sy saak hoef te bewys nie. Elkeen sal egter ook gebonde wees aan die bevinding van die hof.

Tiger Brands sê hy werk steeds ten nouste saam met sy versekeraars om te verseker dat die proses so doeltreffend moontlik bestuur word. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer