Listeriose: Is daar weer rede tot paniek?
Listeriose: Is daar weer rede tot paniek?

Listeriose: Is daar weer rede tot paniek?

Vida Booysen



Klante wat Woolworths se Savory Rice Mix-produk gekoop het, kan dit na die winkelgroep terugneem en hul geld terugkry, sê Woolworths in 'n verklaring.

Die produk is herroep nadat een van Woolworths se verskaffers, Greenyard Factory, as 'n moontlike bron van 'n listeriose-uitbraak in Europa geïdentifiseer is.

Die fabriek in Hongarye verskaf suikermielies wat in Woolworths se rysmengsel gebruik word.

Die winkelgroep het beklemtoon dat hy die produk as 'n voorsorgmaatreël onttrek nadat die Hongaarse owerhede 'n internasionale opdrag uitgereik het om enige produkte wat geraak is te verwyder.

Dít volg weer op die Wêreldgesondheidsorganisasie se aanbeveling einde Maart vanjaar dat lande hul nasionale voedselveiligheid- en siektewaarnemingstelsels moet opskerp om soortgelyke uitbrekings soos die een in Suid-Afrika, wat 200 lewens geëis het, te voorkom.

Dié voorval beklemtoon net weer dat die voedselvoorsieningsketting voortdurend deur bedreigings van buite aangeval word, sê Emma Corder, Suid-Afrikaanse bestuurder van Nilfisk, 'n maatskappy wat nywerheidsaanlegte reinig.

Sy noem die voorbeeld van vyf mense wat in die VSA dood is weens 'n E.coli-besmetting wat hulle opgedoen het deur blaarslaai te eet.

“Die probleem is dat die voedselketting geïntegreer is op maniere wat besmetting 'n baie sterk moont­likheid maak.”

Die risiko is nie net bakteries van aard nie, maar ook ekonomies, as 'n mens in ag neem hoe die gevolge uitkring vir al die verskaffers wat betrokke is, waarsku Corder.

Die Suid-Afrikaanse varkvleisbedryf het, volgens sy produsenteorganisasie, verliese van meer as R800 miljoen per maand gely toe die vraag na varkvleis weens listeriose-vrese gedaal het.

Dié ernstige verlies kan selfs in Statistieke Suid-Afrika se vleis­prysinflasie gesien word, wat van sy hoogtepunt van 15,6% in September verlede jaar tot 7,8% in Mei vanjaar gedaal het.

Die Suid-Afrikaanse Varkvleisprodusente-organisasie het egter teen die einde van Junie gesê die situasie rakende listeriose het verbeter, met groot verskaffers wat berig dat pryse aan die herstel is en dat die aanvraag na verwerkte kouevleis weer styg.

Maar Suid-Afrika kan nie bekostig om sy waaksaamheid te verslap nie, waarsku Francois Baird, stigter van die organisasie FairPlay, 'n kampvegter vir regverdige en billike handelsbeleid.

“Suid-Afrikaanse owerhede het prysenswaardige stappe gedoen om die listeriose-uitbreking in bedwang te kry en plaaslike inspeksies te verskerp. Maar wat nou ontbreek, is maatreëls om te verseker dat besmette vleis nie ingevoer word nie.”

Corder waarsku ook dat verskaffers van ander produkte wat deur bakteriële infeksies bedreig word, soos rou groente en melk, streng veiligheidsmaatreëls moet handhaaf en nie nou laat slaplê nie.

Woolworths, soos verskeie ander voedselverskaffers, bestuur en voorkom mikrobiese besmetting van voedsel proaktief en het baie streng protokolle.

– Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!