Listeriose-vrese laat varkboere ly
Listeriose-vrese laat varkboere ly

Listeriose-vrese laat varkboere ly

Sommige ontleders voorspel wel die bedryf sal relatief vinnig herstel as die gevaar van listeriose eers begin afneem.
Die People First-varkplaas in Rustenburg het gewoonlik 150 varke per maand geslag. Nou word geen varke meer geslag nie.

Drie maande nadat die Suid-Afrikaanse regering die oorsprong van die wêreld se dodelikste listeriose-uitbreking aan Tiger Brands, die land se grootste voedselvervaardiger, gekoppel het, bou die druk op die land se varkprodusente steeds op.

Die bedryf moes reeds meer as 2 000 mense afdank, varkvleispryse het tot die goedkoopste in vier jaar gedaal en kleiner boere loop gevaar om “uit te boer”, sê belangegroepe in die bedryf.

People First, ’n koöperatiewe bedryf wat klein varkies van groter varkboerderye koop en dan vleis aan plaaslike slaghuise verskaf, het nie meer enige lewende hawe oor nie.

Die mede-eienaar, Petrus Lepota, het besluit om nie weer nuwe voorraad aan te koop nie. Hy verloor geld deur teen die huidige pryse te verkoop. Verder moes hy werkers aflê en daar is geen waarborg dat die situasie binnekort sal verbeter nie.

“Ons kan nie daaroor bespiegel nie. Ons kan net bid,” sê Lepota.

Aaron Motsoaledi, die minister van gesondheid, het op 4 Maart gesê ’n uitbreking van listeriose wat nou reeds tot die dood van 208 mense gelei het en 1 038 mense siek gemaak het, kan teruggespeur word tot verwerkte vleisprodukte.

Tiger Brands het fabrieke gesluit sodat dit deeglik skoongemaak kan word en meer as 4 000 ton produkte herroep en vernietig.

Op 24 Mei het die maatskappy met die bekendmaking van sy halfjaarsyfers gesê die aanlegte sal minstens tot einde September toe wees.

Suid-Afrikaners is aangeraai om enige verkoelde verwerkte vleisprodukte soos weense worsies en polonie te vermy.

Dit het die aanvraag na varkvleisprodukte aansienlik verlaag en pryse het met 40% teruggesak.

Maar varkboere het nie die luukse om slagtings uit te stel totdat pryse verbeter nie. Daarvoor is die risiko te groot dat die gehalte en geur van die vleis sal verswak, sê Richard Krige, die bestuurder van Desert Star Piggeries in Caledon.

Die krisis druk varkprodusente in finansiële selfmoord in. Ons produseer varke teen 2018-koste en verkoop die vleis teen pryse wat laer as 2014 se vlakke is.

“Die krisis druk varkprodusente in finansiële selfmoord in,” sê David Osborne, stigter van Number Two Piggeries, een van die land se grootste verskaffers van varkvleis.

“Ons produseer varke teen 2018-koste en verkoop die vleis teen pryse wat laer as 2014 se vlakke is.”

Hoewel boerdery met lewende hawe ’n baie klein deel van die Suid-Afrikaanse ekonomie is, is werkverlies in enige sektor ’n groot terugslag vir die land, wat met ’n werkloosheidskoers van 27% stoei.

Daarby kan die voortdurende afskaling van produksie uiteindelik tot ’n tekort en gevolglik hoër pryse lei. Dit sal weer voedselpryse laat opskiet en inflasie aanwakker.

Pryse kan binne 12 tot 18 maande verdubbel as die verwagte tekorte begin realiseer, toon projeksies van die Suid-Afrikaanse Vereniging van Vleisverwerkers.

“Daar is geen aansporing vir produsente om hul produksievlakke te verhoog nie,” sê Paul Makube, landbou-ekonoom van FNB.

“As die aanvraag herstel, veral vir verwerkte vleis, sal die voorraad relatief laag wees.”

Sommige ontleders voorspel wel die bedryf sal relatief vinnig herstel as die gevaar van listeriose eers begin afneem. Die aantal gevalle wat aangemeld word, het reeds skerp gedaal, volgens die Nasionale Instituut van Oordraagbare Siektes.

As verbruikers dit eers besef, behoort pryse te herstel, sê Wessel Lemmer, senior landbou-ekonoom van Absa.

Maar boere bly versigtig.

Desert Star se Krige sê hy het ’n vroeëre bestelling vir meer as 200 sôe gekanselleer weens vrese vir oorproduksie.

“Ons moet die mark weer in balans bring. Ons kan altyd weer groei as die aanvraag optel.” – Bloomberg/Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!