Livingstone en ’n groentetuin
Tanja Bause - In die middel van ’n digte bos naby die Shangwali-nedersetting in die Caprivi staan ’n klein baksteenhuisie. Dié huisie huisves die David Livingstone-museum.
Mnr. Linus Mukwata is die man agter die museum, wat Livingstone se reis van Kuruman in Suid-Afrika af na Shangwali vertel. Dít met foto’s en kaarte wat op doek geverf is.
Livingstone het glo hier gewoon voordat hy verder en dieper in Afrika in gereis het.
Shangwali is sowat 130 kilometer wes van Katima Mulilo in die Zambezistreek geleë.
“My pa het my as kind stories oor die ontdekkingsreisiger Livingstone en sy bande met hoofman Sekeletu vertel. Hy het gesê Livingstone wou van Shangwali sy tuiste maak en die Evangelie na die Afrikamense neem,” het hy gesê.
Livingstone was meer as ’n sendeling. Hy wou slawerny in Afrika afskaf - veral onder die sterker stamme wat slawe van die swakker stamme en groepe gemaak het.
Mukwata het me. Stella Kilby, die agter-agterkleindogter van twee sendelinge, mnr. Holloway en me. Anne Helmore, in Brittanje opgespoor.
Kilby het ná Livingstone in Shangwali gewoon.
Sy het hom die tragiese verhaal van haar voorouers vertel. Kilby het Shangwali in 1999 besoek en N$30 000 aan Mukwata geskenk sodat hy die museum op die been kon bring.
“Met die geld het ek bakstene op Katima Mulilo gekoop en dit na die plek buite Shangwali geneem. Ek en lede van die gemeenskap het die klein museum saam gebou en ’n grasdak opgesit,” het hy gesê.
Mukwata het vertel Livingstone en hoofman Sekeletu het sterk bande gevorm.
In 1855 het Livingstone besluit om verder te reis en het die hoofman belowe hy sal terugkeer. Hy het egter van plan verander en in ’n brief aan die London Missionary Society geskryf en gevra dat hulle ander sendelinge na Shangwali stuur.
Hulle het vir mnr. Holloway Helmore en sy familie gestuur, asook vir mnr. Roger Price.
Beide Helmore en Price was sendelinge in Suid-Afrika.
Hoofman Sekeletu het nie vir Helmore vertrou nie en was ongemaklik met sy teenwoordigheid.
“Wat toe gebeur het, is deur ons voorouers van geslag tot geslag oorgedra. Hulle het geglo die hoofman het die sendelinge se vleis en water vergiftig,” het Mukwata gesê.
Op 7 Maart 1860 is Henry, Helmore se driejarige seun, oorlede.
Kort daarna het die vyf maande oue Eliza Price, sy medesendeling se dogter, ook gesterf.
Op 11 Maart is Helmore se agtjarige dogter Selina dood en ’n dag later sy vrou Anne.
Holloway self is op 21 April op 44-jarige ouderdom oorlede.
“Roger Price het toe besluit om Shangwali saam met Helmore se twee weeskinders te verlaat. Sy vrou, Isabella, is op die pad deur Zambië oorlede,” het Mukwata vertel.
Die museum staan vandag op die plek waar Livingstone en hoofman Sekeletu vergaderings gehou het en waar die sendelinge gesterf het.
“Geskiedenis is geskiedenis en dit is deel van ons. Ons moet dit vir ons nageslagte bewaar - of dit nou goed of sleg was. Ons moet dit lewend hou,” het Mukwata gesê.
Hy het ’n brief aan die London Missionary Society geskryf en vertel van sy plan om die museum op te rig.
Hulle het vir hom foto’s gestuur van Livingstone, Helmore en Price, asook van hul gesinne, wat vandag in die museum gesien kan word.
“Die landkaarte wat op doek geverf is, is deur studente aan die Universiteit van die Vrystaat geteken, wat vir drie weke hier gewoon het,” het hy gesê.
In 2016 het die Europese Unie, in samewerking met die Namibiese Wetenskaplike Vereniging, die grasdak met ’n permanente dak vervang.
Hulle het ook straataanwysings aangebring wat na die museum lei.
“Die museum is nie net belangrik omdat dit die geskiedenis van die omgewing en Livingstone bewaar nie, dit is ook belangrik vir toerisme. Ons kan toeriste met dié museum lok en hulle iets anders as net die natuur, diere en lodges bied,” het hy gesê.
Groentetuin
Mukwata is tans besig om die David Livingstone-groentetuin op ’n stuk grond van twee hektaar te vestig.
“Ek en van my vriende het die eerste geld geskenk sodat ons ’n trekker kon huur om mee te ploeg. Die Here het vir ons land en water gegee en ons doen niks daarmee nie. Dit is tyd dat ons groente plant en selfvoorsienend word,” het hy gesê.
Mukwata beoog om lede van die gemeenskap en kinders van skole in die omgewing te leer om met groente te boer.
“Daar is geen rede waarom ons al ons groente van Suid-Afrika af moet invoer nie. Ons kan dit hier plant en die land daarvan voorsien. Ons moet net werk en dit doen.”
Mense wat belangstel om sade of tuingereedskap te skenk, of op enige manier by die groenteprojek betrokke te raak, kan vir Mukwata by 081 397 2185 skakel.
Godsdiens, handel en beskawing
David Livingstone was ’n ontdekkingsreisiger en sendeling in Afrika.
Hy is in 1813 in Blantyre, in Skotland, as die tweede van sewe kinders gebore.
Op 10-jarige ouderdom het hy en sy broer John by Henry Moteith & Co. se katoenfabriek begin werk om sy arm familie te ondersteun.
Hy het tot hy 26 was hier gewerk. Die eentonigheid van die werk het hom geleer om uithouvermoë te hê, asook empatie met almal wat werk.
In 1834 het Livingstone geld begin spaar om twee jaar later by Anderson’s College in Glasgow medies te studeer.
Hy wou graag ’n sendeling in China wees, maar met die uitbreek van die eerste opiumoorlog het die London Missionary Society eerder Wes-Indië aanbeveel.
In 1840 het Livingstone die sendeling Robert Moffat leer ken. Moffat, van Kuruman in Suid-Afrika, was met vakansie in Wes-Indië.
Livingstone was opgewonde oor Moffat se plan om sendingwerk in Afrika uit te brei.
Hy’s ook beïnvloed deur T.F. Buxton, ’n teenstander van slawerny, se argumente dat Afrika se slawehandel deur die invloed van "wettige handel" en die verspreiding van die Christendom vernietig kon word.
Livingstone het sy ambisies toe op Suider-Afrika begin fokus.
In 1840 het hy na Suid-Afrika gereis.
Sowat 15 jaar later was hy die eerste Europeër wat die Mosi-oTunya, ofte wel “die rook wat donder”, in die huidige Zimbabwe gesien het.
Hy het die watervalle na sy land se koningin, Victoria, vernoem.
Livingstone was een van die eerste Westerlinge wat tussen 1854 en 1856 'n transkontinentale reis oor Afrika meegemaak het - van Luanda by die Atlantiese Oseaan tot by Quelimane by die Indiese Oseaan en die Zambeziriviermond.
Ondanks verskeie pogings, veral van die Portugese, is Sentraal- en Suider-Afrika in hierdie stadium nog nie deur Europeërs oor die breedtegraad oorgesteek nie.
Wat in Livingstone as ontdekkingsreisiger se guns getel het, was dat hy gewoonlik baie lig gereis het.
Hy het ook die vermoë gehad om hoofmanne te verseker hy is nie 'n bedreiging vir hulle nie. Ander ekspedisieleiers het talle gewapende soldate en gehuurde poortwagters, wat voorraad moes dra, by hulle gehad en is as potensiële aanvallers of mense op soek na slawe beskou.
Daarenteen het Livingstone met net 'n paar dienaars en portiers gereis, en net ’n paar gewere vir beskerming. Hy het voorraad langs die pad geruil.
Hy het 'n Christelike boodskap versprei, maar dit nie op mense afgedwing nie. Hy het ook die plaaslike hoofmanne se kultuur en tradisies verstaan.
Livingstone was suksesvol in sy onderhandelinge om ander groepe se grond as deurgang te gebruik. Plaaslike hoofmanne was dikwels gasvry teenoor hom en het hom ondersteun.
Hy het sy groot Trans-Afrika-reis van Luanda na Linyanti met die hulp van 27 Afrikane aangepak wat Sekeletu, hoofman van die Kololo, vir hom geleen het.
Hoofman Sekeletu het ook vir Livingstone 114 manne vir die reis van Linyanti na Quelimane by die Indiese Oseaan geleen.
Hier het hy die vestiging van handel- en godsdienssendings in Sentraal-Afrika bepleit.
Die afskaffing van Afrika-slawehandel was egter sy hoofdoel.
Sy leuse, wat vandag op sy standbeeld by die Victoria-waterval geskryf staan, was “Christendom, handel en beskawing”.
Hy het gehoop die kombinasie van dié drie doelwitte sou 'n alternatief vir slawehandel wees en dat dit Afrikane in die oë van Europeërs waardigheid sou gee.
Hy het geglo die navigasie van die Zambezirivier as 'n Christelike kommersiële snelweg na die binneland sou hom hierdie doelwitte laat bereik.
Livingstone het geglo eerder as om te preek, is hy geestelik geroep om kommersiële handelsroetes te vind wat slawehandelroetes kon vervang.
In 1857 het hy by die London Missionary Society bedank.
Die Britse regering het ingestem om sy idee te finansier en Livingstone keer toe na Afrika terug as hoof van die tweede Zambesi-ekspedisie om Suidoos-Afrika se natuurlike hulpbronne te ondersoek en die Zambezirivier vir moontlike handel oop te maak.
Die ekspedisie het van 1858 tot 1864 geduur. Dit was ook die eerste ekspedisie wat die Malawi-meer bereik het. In 1864 is Livingstone terug Brittanje toe ná die regering sy finansiering gestaak het.
Twee jaar later is hy Zanzibar toe, dié keer om die oorsprong van die Nylrivier te vind. Op 8 November 1867 het hy die eerste Europeër geword om die Bangweulu-meer te sien.
Livingstone is in1873 op 60-jarige ouderdom in hoofman Chitambo se nedersetting, Iiala, suidoos van die Bangweulu-meer in Zambië, aan malaria en interne bloeding weens disenterie dood.
Sy lojale diensknegte, Chuma en Susi, het sy hart verwyder en dit onder 'n boom begrawe naby die plek waar hy gesterf het.
Die boom is al as óf 'n Mvula-boom óf 'n kremetartboom geïdentifiseer.
Volgens dié plek, nou bekend as die Livingstone-gedenkteken, het hy op 4 Mei gesterf - die datum wat Chuma en Susi aangegee het, en wat ook op die boomstamme uitgekerf is.
Maar die meeste bronne oorweeg 1 Mei, die datum van Livingstone se laaste dagboekinskrywing, as sy regte sterfdatum.
Chuma en Susi het sy oorskot, saam met sy dagboek, meer as 1 600 km na die kusdorp Bagamoyo gedra, waar hulle dit na Brittanje teruggestuur het om begrawe te word.
Hy is in Westminster-abdy in Londen begrawe.
Livingstone het geografiese ontdekkings vir Europa gemaak.
Hy was die inspirasie vir diegene wat slawehandel uiteindelik afgeskaf het. Hy het ook ontdekkingsreisigers en sendelinge geïnspireer.
Hy het Sentraal-Afrika vir sendelinge toeganklik gemaak wat Afrikane opvoeding en gesondheidsorg wou bied, asook handel deur die African Lakes Company.
Baie Afrika-hoofmanne en plaaslike mense het hom hoog geag en sy naam het verhoudings tussen hulle en die Britte vergemaklik.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie