Álmal moet Jan Taks nou help
Jo-Maré Duddy - Met die inkomste van die Suider-Afrikaanse Doeane-unie (Sacu) wat in die huidige begrotingsjaar na verwagting sowat N$2 miljard minder as die vorige jaar gaan wees, is dit noodsaaklik dat elke belastingbetaler sy kant móét bring.
“Ons is almal in dieselfde bootjie. As ons ’n gat daarin maak, gaan ons almal sink,” het die minister van finansies, mnr. Calle Schlettwein, gister gesê.
Schlettwein het met verskeie sakeleiers vergader ná Namibia Equity Brokers (NEB) en Cirrus Capital die voorgestelde wysigings aan die inkomstebelastingwet ontleed en bevind het dit sal die reeds sukkelende ekonomie – veral die sakesektor – méér laat spartel.
“Almal van ons moet oorleef sodat ons kan groei,” het Schlettwein gesê. Namibië het reeds nege opeenvolgende kwartale van negatiewe groei agter die rug en resessionêre druk in die algemeen sal vir die res van die jaar gevoel word, sê hy.
Groei verwelk steeds en lewe moet in die heersende uitdagende omgewing deur ’n pakket van ingrypings in die ekonomie ingeblaas word, sê Schlettwein.
Die rits belastingwysigings wat Schlettwein reeds in sy begroting in Maart aangekondig het wat na verwagting in 2019-’20 geïmplementeer sal word, sal die regering sowat N$500 miljoen ekstra in die sak bring. Volgens hom is die voorgestelde wysigings nie ’n wet van Mede en Perse nie en is daar ruimte vir beraadslaging.
Hy het die aansienlike belastingverligting van 2013-’14 – ’n ekonomiese bloeitydperk – benadruk en gesê elke individuele belastingbetaler het toe daarby gebaat.
STROP
Nou verwag Jan Taks van elke belastingbetaler om tot die lewering van staatsdienste by te dra. Die alternatief is om dié dienste te sny – veral in die gesondheid- en onderwyssektore wat reeds onder druk is, sê Schlettwein.
Volgens hom het die regering nie net een nie, maar dríé stroppe om sy nek: Skuld, besteding en inkomste.
Weens die regering se hoë skuldlas kan hy nie nie té veel leen nie en moet dit versigtig gedoen word. Besteding moet gesny word, maar nie té drasties nie en die gehalte van besteding moet verbeter word. Inkomste moet verhoog word, maar die land moet ook nie dood belas word nie, sê Schlettwein. Matigheid voor oë moet deurgaans die wagwoord wees.
KAPITAALUITVLOEI
Die regering is bekommerd oor die kapitaal wat die land uitstroom, sê hy. Daar bestaan geen twyfel dat die regering se beleid van begrotingskonsolidering ’n demper op ekonomiese groei plaas nie. In tye soos dié is beleggings uit die private sektor nodig om die ekonomie te steun, sê Schlettwein.
Sowat N$8,4 miljard se direkte belegging het egter die afgelope jaar uit Namibië gevloei. Die vereiste vir beleggings van plaaslike batebestuurders in Namibië is effe opgestoot, maar kapitaal wat die land verlaat, is steeds té hoog, sê hy.
“Ons wil dit nie verbied nie.”
BELASTING
Regverdigheid is die vernaamste beginsel van die voorgestelde belastingwysigings, sê Schlettwein.
Trusts sal teen dieselfde koers as niemynmaatskappye belas word. “Entiteite wat dieselfde inkomstevlakke het, sal dieselfde belas word.”
Die hele belastingstelsel behoort progressief te wees, aldus die minister. Tans dra individue proporsioneel ’n swaarder las as verhandelende trusts.
Belasting moet billik wees en ekonomiese doeltreffendheid bevorder, sê hy. Namibië se bestaande pakket van aansporingsmaatreëls vir die vervaardigingsbedryf is “lekker om te hê, maar het nòg beleggings gelok, nòg het vervaardiging se aandeel in uitvoere verhoog”.
Neem ’n mens die vryskeldings, aftrekkings en verliese in ag wat oorgedra kan word, word dié bedryf met 5% belas, sê Schlettwein. Dié aansporingsmaatreëls word dus teen ’n netto verlies vir die ekonomie gehandhaaf en sal as ’n “spesiale ekonomiese sone” herskep word.
Schlettwein sê sekere kommentaar op die voorgestelde wysigings maak oënskynlik kapsie teen hoër-inkomsteverdieners wat belasting op dividend- en buitelandse inkomste moet betaal. Dit lyk ook of dit poog om skuiwergate te beskerm wat sekere groot spelers in die bedryf toelaat om as trusts besigheid te doen en sodoende belasting te ontduik, sê hy.
“Sommige liefdadigheidsorganisasies en kerke besit winkelkomplekse en doen ander sake en tog betaal hulle nie belasting nie,” sê Schlettwein.

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie