Lodge-moord: Slagoffer se suster getuig
Lodge-moord: Slagoffer se suster getuig

Lodge-moord: Slagoffer se suster getuig

Jacqueline Louw
Jacqueline Louw - Die vermoorde Fiona Ann Holton se jongste suster, me. Jenny Wilson, het vandeesweek voor regter Christie Liebenberg getuig oor haar suster se liefde vir diere en die natuur asook haar bydrae tot natuurbewaring in Namibië.
Holton het haar in Namibië gevestig nadat sy met ’n Namibiese natuurbewaarder getrou het. Ná haar man se dood het sy in Namibië aan­gebly en by verskeie lodges in Namibië gewerk. Ironies het sy by Etosha, haar ­geliefkoosde nasionale park, aan haar einde gekom.
Jesaya Nikanor is op 25 Julie skuldig bevind dat hy Holton ge­durende die nag van 20 en 21 September 2008 in haar huis by die Etosha Safari Camp vermoor en verkrag het. Nikanor en ’n handlanger het ’n dag voor die moord ’n lugverkoeler in die huis van die oorledene geïnstalleer. Kollegas van Holton het haar dood in haar huis aangetref toe hulle ondersoek ­ingestel het omdat sy nie vir diens by die lodge opgedaag het nie.
Wilson het vertel hoe traumaties dit vir haar en haar suster Belinda Vandenbos was om hul suster in die lykshuis uit te ken. “Dit is iets wat niemand vir ’n suster behoort te doen nie; om jou suster in ’n lykshuis uit te ken nie.”
Die drie susters se vader is in dieselfde jaar van die moord aan ’n gebroke hart oorlede. “Ons wil nie hê dat ander deur dieselfde ondervinding moet gaan nie. Ons wil hê dat daardie persoon (Nikanor) vir altyd opgesluit word,” het Wilson in die hof gesê.
Mnr. Mese Tjituri het gister sy argument vir versagtende omstandighede namens Nikanor aan die hof voorgelê.
Nikanor is die vader van 17 kinders by 14 verskillende vroue en nóg ’n vrou is op die oomblik swanger met ’n tweeling van hom. Hy het getrou bygedra tot die onderhoud van sy kinders omdat al die moeders werkloos is en het ook sy bejaarde moeder onderhou. Hy het nooit sy eie vader geken nie.
Nikanor hou vol dat hy die teiken van wetstoepassingsagente in die moordsaak was en onskuldig is.
Tjituri het gepleit dat die vonnis op skuldigbevindings vir moord en verkragting gelyktydig uitgedien moes word omdat die dade tydens een geleentheid gepleeg is.
Advokaat Filistas Shikerete-Vendura het namens die staat die erns en die gruwelikheid van die verkragting en moord uitgewys en dat dit plaasgevind het in die oorledene se huis, wat ’n plek van veiligheid behoort te wees. Sy het voorts gepleit dat die twee oortredings beide ernstig is en dus apart gestraf behoort te word. Sy het aangevoer dat die moord met voorbedagte rade gepleeg is, soos deur ­getuienis gedurende die verhoor bewys. Volgens haar weier Nikanor om sy dade te erken en toon geen berou nie.
Vendura het gepleit dat ’n swaar vonnis vir beide klagte opgelê word - 18 jaar of meer vir die verkragting en 35 jaar vir die moord en die twee tydperke moet opeenvolgend uit­gedien word. Haar argument was dat Nikanor permanent uit die same­lewing verwyder behoort te word.
Regter Liebenberg sal die vonnis op 6 September oplê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!