Loervink: Aansoek om borgtog uitgestel
Loervink: Aansoek om borgtog uitgestel

Loervink: Aansoek om borgtog uitgestel

Erwin Leuschner - Die veroordeelde Suid-Afrikaanse loervink, mnr. Gavin Booth (51), se aansoek om borgtog sal volgende Dinsdag in die landdroshof op Swakopmund voortgesit word.

Booth is ’n jaar tronkstraf opgelê vir huisbraak met die doel om crimen iniura te pleeg.

Staatsaanklaer Latoya Katjitundu en die prokureur mnr. Marinus Scholz sal voorleggings vir die formele borgtogaansoek indien.

Booth dien tans sy vonnis uit ná hy in Maart in hegtenis geneem is.

Hy is betrap toe hy naakfoto’s van ’n toeris by ’n gewilde hotel op die dorp geneem het.

Die toeris was besig om te stort toe Booth ’n klein badkamervenster oopgemaak het, sy kop deur die venster gedruk het en foto’s met sy selfoon begin neem het.

Die voorval is op kringtelevisiekameras vasgelê en die beeldmateriaal het as belangrike bewysstuk in die hof gedien.

Kort ná vonnisoplegging het Booth in die hooggeregshof ’n aansoek om appèl daarteen ingedien.

In afwagting op die uitslag hiervan het hy ’n formele borgtogaansoek van stapel gestuur.

Tydens die aansoek het hy in die hof getuig hy het sedert sy gevangenisskap “God gevind” het ’n nuwe hoofstuk in sy lewe begin.

Kommentaar

Republikein 2025-04-20

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer