Lonmin het hoop vir die toekoms
Lonmin het hoop vir die toekoms

Lonmin het hoop vir die toekoms

Kan resultate sien
Jo-Mare Duddy Booysen
Elvira Wood - Lonmin het nog ’n lang pad om te stap na ’n positiewe balansstaat, maar sy uitvoerende hoof, Ben Magara, is positief oor die platinummaatskappy se toekoms.

“Ek is baie opgewonde oor Lonmin. Ons kom ons beloftes wat ons ’n jaar gelede gemaak het na en ons kan die resultate sien,” het hy gister in ’n onderhoud by die Joburg Indaba in Sandton gesê.

Lonmin het die afgelope jare die wind sterk van voor gekry. Ná die 2012-staking, waartydens 44 mense dood is, waaronder die 34 mense wat in die Marikana-slagting doodgeskiet is, was daar ’n verlammende vyf maande lange staking in 2014, asook ’n mislukte meganisasieprogram van bykans US$1 miljard. Dit alles gepaardgaande met ’n skerp daling in die platinumprys.

Lonmin het in 2015 ’n hulpkreet aan sy belanghebbendes gestuur. Magara sê: “Ons kon nie ons kop in die sand druk en maak of niks fout is nie. Ons moes ’n plan maak.”

Volgens hom was dit juis baie goeie en gereelde kommunikasie met alle belanghebbendes, veral met die arbeidsmag, wat Lonmin weer op sy voete gehelp het.

“Amcu is die grootste vakbond waarmee ons onderhandel. Ons het dit baie duidelik aan hom gestel ons het geen keuse nie. Óf 6 000 mense word uit diens gestel óf ons hele arbeidsmag van meer as 34 000 gaan hul werk verloor. Daar was bloot nie ’n keuse van geen werkverliese nie.

“Ek is baie trots om te sê ons het geen arbeidsprotes of staking gehad in dié hele proses nie,” sê Magara.

Arbeidsverhoudinge

Hy erken egter arbeidsverhoudinge bly een van die grootste uitdagings vir die maatskappy, veral teen die agtergrond van die Marikana-slagting.

“Ons werk baie nou saam met ons arbeidsmag en fokus op faktore soos finansiële opvoeding en skuldbestuur, om net twee te noem, om hulle te help.

“Ons erken ook die groot behoefte aan behuising. Dit neem ongelukkig tyd, maar ons werk daaraan,” sê hy.

Die internasionale menseregteorganisasie Amnestie Internasionaal (AI) het Lonmin in Augustus vanjaar in ’n verslag veroordeel weens sy versuim om te voldoen aan sy maatskaplike en arbeidsplan van 2006, waarin hy onderneem het om teen 2011 5 500 huise vir sy werkers te bou.

Lonmin het egter toe gesê hy het sedert 2012 2 684 behuisingseenhede gebou en beplan om nog 11 000 te bou in verskeie inisiatiewe, waarvan sommige plaaslike owerhede betrek.

Die maatskappy het egter wel gewaarsku dat hy die R100 miljoen per jaar wat vir behuising begroot is, kan hersien weens die moeilike ekonomiese omstandighede.

Nóg ’n groot mylpaal, volgens Magara, is die US$407 miljoen wat einde 2015 met ’n regte-uitgifte ingesamel is.

“Net soos wat die arbeidsmag kan staak en groot probleme vir ’n mynmaatskappy veroorsaak, kan aandeelhouers ook weier om saam te werk.

“Ons is baie dankbaar dat ons aandeelhouers ons plan gesteun het,” sê Magara.

Skuld

Lonmin het ook sy bankiers oortuig om skuld wat in Mei 2016 betaalbaar was, te herfinansier.

“Ons moes die afgelope jaar baie moeilike besluite neem, maar ons het hoëkoste-skagte gesluit, 6 000 mense uit diens gestel en herstruktureer. Dit wys aan ons belanghebbendes ons is op die regte pad.

“Die lae platinumprys bly ’n groot uitdaging maar ons glo, soos vele ander in dié sektor, ons het wel nou die laagtepunt van die pryssiklus bereik.

“Dit is net ’n kwessie van tyd voor die prys weer sal styg en dan wil ons reg wees om voordeel vir almal daaruit te trek,” sê hy.

Lonmin se aandeelprys het die laaste vier jaar met 96% gesak van R953,05 op 28 Oktober 2012 tot R34,29 gister om 12:00. Die prys het egter stelselmatig verbeter van sy laagtepunt van R8,70 op 21 Januarie 2016. - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!