Lonmin skuif hoofkantoor om koste te sny
Lonmin skuif hoofkantoor om koste te sny

Lonmin skuif hoofkantoor om koste te sny

Elvira Wood - Lonmin gaan sy hoofkantoor van Johannesburg na die Marikana-myn skuif om koste te sny. Die maatskappy, wat platinum in veral Noordwes myn, het dié aankondiging tydens die bekendstelling van sy halfjaarresultate tot einde Maart gemaak.
Ben Magara, uitvoerende hoof van Lonmin, sê: “Dit is waar ons werk en dit is waar ons myn.”
Hy sê dat die skuif die maatskappy “miljoene rande sal bespaar” maar dat dit eerder gedoen word om die bestuur nader aan die werksfront te bring.
Lonmin het swaar getrek in die halfjaar tot einde Maart en 'n bedryfsverlies van US$181 miljoen is aangeteken. Dit sluit 'n waardedalingskoste van US$146 miljoen in.
Die waardedalingskoste is weens “ons verandering in vooruitsigte op eenheidskoste gekombineer met die versterking van die rand teenoor die (Amerikaanse) dollar”, sê die maat­skappy in 'n Sens-verklaring.
Sonder dié koste was die bedryfsverlies US$35 miljoen teenoor 'n bedryfsverlies van US$15 miljoen vir die ooreenstemmende tydperk wat nie 'n waardedalingskoste ingesluit het nie.
Hy het verder 387 000 ton erts gedurende die halfjaar verwerk wat 7,6% minder is as die ooreenstemmende tydperk in 2016. Hy het 47 624 onse van platinumgroepmetale (PGM) gelewer wat 13,7% minder was as in die eerste helfte van 2016.
Boonop het sy koste per eenheid tot R12 059 per ons van die PGM gestyg. Die maatskappy sê hy verwag eenheidskoste sal vanjaar tussen R11 300 en R11 800 per ons van PGM wees, wat hoër is as die R10 800 tot R11 300 wat hy voorspel het.
Dit is glo weens die laer produksie in die eerste kwartaal van 2017.
Lonmin se inkomste was 6% laer op US$486 miljoen en sy netto kontantbalans is 34% laer op US$75 miljoen teenoor 'n jaar gelede.
Hy het geen verdienste voor rente, belasting, waardevermindering en amortisasie (ebitda) gelewer nie. Die maatskappy het steeds 56 werksdae verloor weens veiligheidsonderbrekings kragtens art. 54 van die Wet op Mynveiligheid en -gesondheid. Drie van sy mynwerkers het in die halfjaar gesterf weens ongelukke­ in sy myne.
Magara sê egter die een ding waarop die myn nie afskaal nie, is sy behuisingsprojekte.
Die maatskappy kom die afgelope jare onder skoot oor die swak lewensomstandighede waarin talle van sy werknemers en die gemeenskap om die Marikana-myn hulself bevind.
Lonmin het voorheen gesê hy het 2 684 wooneenhede sedert 2012 gebou en beplan om nog 11 000 deur verskeie projekte te bou, waarvan sommige die plaaslike owerhede sal betrek.
Oor Lonmin se prestasie die afgelope halfjaar het Magara erken: “Ons kan baie beter doen.” – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!