Lorriebestuurder skilder historiese kerk
Lorriebestuurder skilder historiese kerk

Lorriebestuurder skilder historiese kerk

Tanja Bause
Die afgelope week staan ’n man by die Christuskirche in Windhoek en skilder die 107 jaar oue kerk.

Mnr. Leonard Abrahams (57) het besluit om dié toeriste-aantreklikheid op doek vas te lê. Terwyl die meeste kunstenaars in ’n ateljee sit en skilder, het Abrahams besluit om reg voor die landmerk te staan om dit te skilder.

“Ek verkies om op die perseel te wees en te skilder omdat dinge beter en anders lyk wanneer jy dit met jou oë in die regte lewe beskou,” het hy gesê.

Terwyl hy sy verfkwaste in bruin, rooi en grys verf druk om te skilder, verduidelik hy dat sy keuse om op die perseel te werk, bepaal hoe lank dit vat voor hy met ’n skildery klaar is.

“Ek is nou al vir ’n week lank besig met die skildery en dit kan nóg ’n week neem voor dit klaar is. Dit hang alles van die weer en reën af,” het hy gesê.

Abrahams gebruik olieverf en ’n potlood vir sy skeppings. Hy gebruik geen meetinstrumente nie, maar slegs sy oë om die voorwerpe wat hy teken, te meet.

“Ek skilder meestal die natuurlewe, sosiale en politieke satire, portrette en kommersiële en historiese argitektuur.”

Hy het bygevoeg dat die blou lug, die droë grasperk en die Onafhanklikheidsmuseum in die agtergrond, heel waarskynlik nie op die finale skildery sal verskyn nie.

Abrahams sê hy het tydens sy skoolloopbaan geskilder, maar dat sy talent nie kos op die tafel sit nie.

“Ek kan nie voltyds skilder en verf nie omdat ek ’n pa en familieman is wat verpligtinge moet nakom.”

Hy werk as ’n vragmotorbestuurder vir Meatco en het ook al dié gebou geskilder.

“Maar dit lyk nie soos die Meatco-gebou nie, want ek het dit op ’n futuristiese manier geskilder. Skilder gaan nie net oor die voorwerp soos jy dit sien nie. Die kunstenaar kan ook sy verbeelding gebruik en dit aanpas.”

Hy het gesê hy het besluit om die Meatco-gebou te skilder omdat die maatskappy hom gedurende die laaste 11 jaar wat hy daar in diens is, baie gehelp het.

Abrahams wil binne die volgende paar maande ’n uitstalling van sy werk in Windhoek hou. - Nampa

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!