Lorriedrywers se lewens steeds by grens versuur

Een van die vragmotorbestuurders sê hulle moet nog elke derde dag as hulle Namibië binnekom vir Covid getoets word en N$750 betaal.
Yandi Du Plessis
Yandi du Plessis – Langafstand-lorriedrywers sê die vergunning dat hulle nie 'n Covid-19-toetsuitslag hoef te toon wat 72 uur of korter gelede gedoen is wanneer hulle na die land terugreis nie, word nie in die praktyk toegepas nie.

Volgens 'n bekommerde voormalige lorriedrywer wat na Republikein uitgereik het, word in dié geval nie daad by woord gevoeg nie.

“Die reël dat die PCR-toets vir sewe dae geldig is vir lorriedrywers, word glad nie op die Ariamsvlei-grenspos gevolg nie. Daar moet ons steeds elke 72 uur getoets word,” sê nog 'n langafstand-lorriedrywer.

“Hulle sê die gewysigde reëls is nog nie vir hulle gestuur nie. Volgens die gesondheidsowerhede se kantoor by die grenspos, weet hulle van niks.”

Elke derde dag as jy Namibië binnekom, moet drywers getoets word en N$750 betaal, vertel hy.

“Dit is vir lorriedrywers 'n bittere saak. Hulle is baie ongelukkig, want die reëls sê duidelik lorriedrywers hoef net elke sewe dae getoets te word.

“Ek is op 6 Augustus getoets en het my uitslag die volgende dag gekry. Ek is Namibië toe om 'n vrag te gaan aflaai, en het daarna teruggehaas na Suid-Afrika. Toe ek op 10 Augustus Namibië weer wou binnekom, het my toets volgens hulle klaar verval.”

Volgens hom stuur lorriedrywers op nóg 'n staking af as dinge nie binnekort regkom nie. Die hele land se drywers gaan staak oor dié onregverdigheid op die grenspos, sê hy.

“Dit veroorsaak 'n groot vertraging. As jy op die grens aankom, wag daar 'n lang toustaan. Wanneer jy getoets word, moet jy 24 uur op die grens staan en wag vir die uitslag.

“Intussen is jou dokumente klaarge­maak en jy is onder druk om af te laai. Dit veroorsaak baie stres vir lorriedrywers, want jy kry boonop moeilikheid van die base se kant af. Daar is van hulle wat weier om elke 72 uur vir 'n PCR-toets te betaal.”

[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!