Los DRK uit, sê Geingob

Denver Kisting
Denver Kisting – Pres. Hage Geingob sê niemand het die reg om wat in die Demokratiese Republiek die Kongo (DRK) gebeur, te bevraagteken nie.

Volgens hom het die hoërhof in dié land beslis pres. Felix Tshisekedi is die wettig verkose staatshoof.

“Diegene wat verslaan is, het die land se instellings gebruik. Hulle het hulle tot die hoërhof gewend en die hoërhof het sy beslissing gegee,” het Geingob laat gistermiddag by Staatshuis aan die media gesê.

Tshisekedi en ’n afvaardiging het gister op ’n twee dae lange besoek aan Namibië aangekom.

Hy het vroeër vanjaar by pres. Joseph Kabila oorgeneem nadat die land laat in Desember ’n verkiesing gehad het.

Hy en Geingob het die media kortliks te woord gestaan nadat hulle eers agter toe deure samesprekings gevoer het. “Ons verwelkom die behoorlik verkose president van die DRK,” het Geingob benadruk.

Die Namibiese staatshoof het toegegee “dis nie maklik om ’n land ná ’n chaotiese situasie te lei nie”.

Maar, sê Geingob, hy is vol vertroue dat die “DRK in goeie hande is” nadat hy na die planne wat Tshisekedi vir sy land het, geluister het.

Op sy beurt het Tshisekedi gesê dit is ’n prioriteit om bande met lidlande van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SADC) te bou om ontwikkeling in die streek uiteindelik te bevorder.

Voor enige ontwikkeling egter kan geskied, moet daar vrede wees, het hy deur middel van ’n tolk gesê.

“Ons is al amper 20 jaar sonder vrede.”

Dit is ook veral moeilik om ’n land te bou te midde van die jare lange onluste in daardie land, het Tshisekedi gesê. “Onder daardie omstandighede is dit baie moeilik om ’n land te ontwikkel.”

Hy sê hulle is dankbaar vir Geingob en die SADC se steun.

Die korrupte plundering van die land se hulpbronne het gepaard gegaan met die ineenstorting van die DRK se administrasie, sê Tshisekedi.

Hy gaan ook poog om die land se inwoners se waardigheid te herstel, sê hy.

“Die mense is die fondasie.”

In dié stadium lyk dit of Kabila vervolging, wat met sy termyn verband hou, gaan vryspring.

“Ons is versigtig met die oorgang van mag.”

Geingob sê dit is nie uniek aan die Afrikavasteland om immuniteit aan ’n voormalige of huidige staatshoof toe te staan nie.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!