• Tuisblad
  • Sport
  • Los lynregter in vrede, vra Novak woedende aanhangers
Los lynregter in vrede, vra Novak woedende aanhangers
Los lynregter in vrede, vra Novak woedende aanhangers

Los lynregter in vrede, vra Novak woedende aanhangers

Tennis
Novak Djokovic het ’n beroep gedoen om deernis vir die lynregter wat hy met ’n bal op die keel getref het nadat die beampte op sosiale media onder aanhangers van dié Serwiese tennisster deurgeloop het.
Djokovic, die wêreld se voorste speler, is Sondag op dramatiese wyse van die Amerikaanse Ope gediskwalifiseer. Hy het swaar geleef in die eerste stel van sy vierderonde-stryd teen die Spanjaard Pablo Carreno Busta. Sy frustrasies het oorgekook toe hy sy eie afslaanpot verloor en met 5-6 agter was.
Hy het vererg ’n bal na die agterkant van die baan geslaan en dit het ’n vroue-lynregter op haar keel getref. Sy het onmiddellik inmekaargesak, gesnak na haar asem en hoorbaar geskree.
Sommige van Djokovic se aanhangers het haar op sosiale media geteiken nadat die Serwiese media die identiteit van haar amptelike Instagram-profiel bekend gemaak het.
“Skaam jou. Ou vrou vol boosheid,” skryf ’n ontstoke aanhanger op die beampte se Instagram-rekening, terwyl ander haar daarvan beskuldig het dat sy voorgegee het dat sy seergekry het, en haar as ’n “swak aktrise” beskryf het.
Djokovic het op sosiale media vir die lynregter in die bres getree, terwyl hy diegene bedank het wat vir hom positiewe boodskappe van ondersteuning gestuur het.
“Onthou ook asseblief die lynregter wat deur die bal getref is, het ook ons gemeenskap se ondersteuning nodig. Sy het niks verkeerd gedoen nie. Ek versoek julle om haar veral in hierdie tyd te ondersteun en deernis te betoon,” skryf Djokovic.
“Ons groei, word sterker en oorkom danksy hierdie oomblikke. Ek deel my liefde met almal. Europa, hier kom ek.”
Djokovic was ná die voorval in ’n oogwink by haar om seker te maak dat sy weer kan opstaan – maar die skade was gedoen.
’n Woordvoerder van die toernooi het bevestig dat die lynregter nie ernstig beseer is nie.
Soeren Friemel, toernooi-skeidsregter, het op die baan verskyn en die kwessie met die skeidsregter, Aurelie Tourte, asook die Grand Slam-beampte, Andreas Egli, bespreek. Hulle het daarna ’n lang gesprek met die driemalige kampioen gehad.
Djokovic, wat dit duidelik gestel het dat hy nie die lynregter met opset getref het nie, het hoorbaar gesê: “Sy hoef nie hiervoor hospitaal toe te gaan nie.” Nadat hy 12 minute lank sy kant van die saak gestel het, was dit neusie verby.
“Ek glo nie ons het enige ander keuse gehad as om Novak te diskwalifiseer nie,” het Friemel later aan joernaliste gesê.
“Die feite was duidelik . . . die lynregter was duidelik beseer en Novak was kwaad en het die bal roekeloos geslaan.”
Die Amerikaanse Tennisvereniging (USTA) het later in ’n verklaring gesê die skeidsregter het besluit om Djokovic te diskwalifiseer omdat hy “ ’n bal opsetlik gevaarlik of roekeloos op die baan geslaan het, of nalatig was en die gevolge van sy aksies geringgeskat het”. – Reuters, Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!