Low Key jaag ontmoeting met Garcia

Nestor Tobias het opnuut 'n uiters ambisieuse volgende doelwit gestel vir die topvegter in sy stal.
Tielman van Lill
Tielman van Lill - Ná Jeremiah Nakathila (Low Key) se uitklopoorwinning verlede maand in Kaapstad teen Prince Dlomo van Suid-Afrika, het dié Afrika-superveergewigkampioen (59 kg) van die Wêreldboksorganisasie (WBO) sy oog op die WBO-wêreldtitel van Masayuki Ito ingestel.

Nakathila se sege teen Dlomo op 28 Desember by die Kasteel de Goede Hoop was teen 'n laat plaasvervanger. Die Namibiër het sy Afrika-superveergewigtitel vir die vyfde keer suksesvol verdedig. Sy reeks oorwinnings vandat hy op 18 November in Ekaterinburg, Rusland, sy enigste nederlaag met punte teen Evgeny Chuprakov gely het toe hulle vir die WBO se vakante interkontinentale titel geveg het, is indrukwekkend.

Die Namibiër beklee tans die nommer drie posisie op die WBO se wêreldranglys van aanspraakmakers op Ito se kroon, wat maar skaars vir ses maande op die 28-jarige Japanner se kop sit.

Ito het dié vakante titel op 28 Julie 2018 in Kissimmee, Amerika, teen Christopher Diaz (Puerto Rico) ingepalm. Intussen het hy sy wêreldgordel op 30 Desember suksesvol met 'n tegniese uitklophou teen die einste Evgeny Chuprakov in Tokio verdedig.

Om by Ito uit te kom, sal Nakathila eers by die 23-jarige Lamont Roach (nr. 2) en 20-jarige Ryan Garcia (nr. 1) verby moet beweeg. Beide is Amerikaners wat ewe breed in die Namibiër se pad staan. Nakathila wil egter geen tyd verspeel nie en gaan Garcia uitdaag.

Garcia het as 18-jarige sy professionele debuut op 9 Junie 2016 as geldbokser in Tijuana, Mexiko, gemaak. Daardie jaar het Garcia vreesloos sewe gevegte ingeryg waarvan vier in Tjiuana beklink is. Geen wonder dat ESPN hom toe as sy vonds vir 2016 bekroon het nie. Hy het sover 17 gevegte op 'n streep gewen, waarvan 14 met uitklophoue was.

Nestor Tobias, eienaar en voorsitter van die MTC Nestor Tobias Boksakademie, verduidelik die Nakathila-kamp se planne.

“Ons gaan 'n geveg tussen Garcia en Nakathila aanvra en hoop dat die WBO sy toestemming gee dat dit as 'n uitdungeveg vir die wêreldtitel dien. Dit sal natuurlik 'n grote wees, want daar word reeds hardop gesê dat Garcia een van die sport se volgende supersterre is.

“Nakathila is egter reg om Garcia uit te skakel, sodat hy vir Ito vierkant in sy visier kan kry. Met sulke groot gevegte in die vooruitsig kan dit vir Low Key 'n ongelooflike jaar word,” het Tobias verduidelik.

Agter Garcia se aantreklike seunsgesiggie skuil egter 'n uitkloppersentasie van 82 in die beroepskryt, asook 'n bekroonde amateurloopbaan waarin hy 215 keer gewen en 15 keer verloor het. As 15-malige Amerikaanse nasionale kampioen is hy dus lankal nie meer 'n katjie wat sonder handskoene aangepak moet word nie.

Garcia wat 1.78 m in sy sokkies staan, veg met 'n ortodokse regterhandse styl met 'n reikwydte van 178 cm. Indien Tobias daarin sou slaag om Garcia deur die toue te laat klim, sal Nakathila beter as in enige van sy vorige beste vertonings moet wees.

• Lamont Roach, die WBO se tweede aanspraakmaker op Ito se wêreldgordel, wat op 19 April 2014 in Washington DC sy buiging as beroepsbokser gemaak het, is g'n Neanderdal nie.

Die Amerikaner spog self met 'n indrukwekkende vertoningslys van 18 seges met sewe uitklophoue, terwyl hy verlede jaar Aprilmaand een keer gelykop teen Orlando Cruz van Puerto Rico in San Juan geboks het.



ENIGSTE?

Volgens Tobias se nuusverklaring is Mikka Shonena die “enigste” ander Namibiese bokser wat tans op 'n wêreldranglys erken word.

Shonena, 'n weltergewig (66.6 kg), is tans in die negende posisie op die ranglys van die WBO wie se titel deur Terence Crawford gehou word. Manny Pacquaio (WBA), Keith Thurman (WBA superkampioen), Errol Spence (IBF) en Shawn Porter (WBC) hou die ander betekenisvolle titels in die gewigsklas.

Tobias se stelling is egter nie die volle waarheid nie. Hoewel kenners allerweë die Wêreldboksraad (WBC), Wêreldboksvereniging (WBA), Internasionale Boksfederasie (IBF) en WBO as die “groot vier” beheerliggame erken, het Paulus Ambunda op 29 September 2018 teen Muhamad Ridhwan die Internasionale Boksorganisasie (IBO) se vakante superkapokgewigwêreldtitel (55 kg) in Singapoer teen die plaaslike held met punte oor 12 rondes opgeraap.

Met huidige en onlangse titelhouers soos Wladimir Klitschko, Anthony Joshua, Kevin Lerena, Gennady Golovkin, Floyd Mayweather, Pacquiao en talle ander is dit ook nie korrek om die IBO onder die niksseggende beheerliggame te skaar nie.

Ambunda, wat van promotors verander het nadat hy tevore in Tobias se kamp was, se volgende geveg is 'n herontmoeting teen die 31-jarige Ridhwan op 29 Maart in Singapoer vir die WBC se vakante silwertitel in die veergewigklas (57 kg).

'n Positiewe uitslag kan Ambunda die eerste Namibiër maak wat “wêreldtitels” in drie gewigsklasse verower.

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer