LPM 'is 'n politieke party'
LPM 'is 'n politieke party'

LPM 'is 'n politieke party'

Die Landless People’s Movement wil die leisels van die regering oorneem.
Catherine Sasman
Catherine Sasman - Leiers van die Landless People’s Movement (LPM) sê hoewel die organisasie nog by die Verkiesingskommissie van Namibië (ECN) geregistreer moet word, is dit 'n politieke party vir “alle praktiese doeleindes” en sal dit in alle erns aan die 2019- en 2020-verkiesings deelneem.

Bernadus Swartbooi het onlangs tydens 'n perskonferensie gesê die LPM het 'n "sterk en groeiende teenwoordigheid" in veral 11 streke en 3 500 geregistreerde lede in sewe streke.

Volgens hom is die LPM in gesprek met vyf ander politieke partye, sowel as tradisionele owerhede, terwyl hulle aan programme werk om die party se beleidsdimensie te versterk.

Hy wou egter nie die name bekend maak van die partye waarmee die LPM in gesprek is nie en het gesê verskeie moontlikhede van samewerking en deelname aan die verkiesings word nog uitgewerk.

“Ons in die LPM is nie vir die grap hier nie,” het hy gesê. “Ons mik vir die oorname van die regering.”

Die LPM het gesê hy sal in die vierkiesings veral fokus op streeksrade en plaaslike owerhede.

Volgens Swartbooi moet die dienste van plaaslike owerhede “hermunisipaliseer” word, oftewel na plaaslike vlak teruggebring word waar dienste self hanteer word, eerder as om “uitgekontrakteer” te word. Raadslede en ander regeringsagente moet ook aanspreeklik gehou word deur die gemeenskappe wat hulle bedien.

“Vroeër het munisipaliteite self paaie en huise gebou. Plaaslike leiers het beter op die behoeftes van hul mense gereageer. Nie vandag nie,” het hy gesê.

‘INTIMIDASIE, STEMKNOEIERY’

Swartbooi het gesê “pogings deur dié wat aan bewind is” en selfs goewerneurs probeer LPM-ondersteuners weglok met beloftes soos die heroorweging van aansoeke om veteranestatus, visvangkwotas, bevorderings asook beloftes van werksgeleenthede in die regering.

“Asof visvangkwotas en ander hulpbronne aan die Swapo-party behoort.”

“Hulle [Swapo] verloor lede teen ‘n vinnige tempo. Ons is bewus daarvan dat Swapo op voetsoolvlak verloor en hulle deur verkiesings sal wil knoei.”

Swartbooi het gesê die LPM bespreek ook met ander politieke partye die gebruik van die elektroniese stemmasjiene (EVM's), wat volgens gerugte deur Indiese tegnici “gemanipuleer” word vir “voorafbepaalde” uitslae tydens verkiesings.

“Die versoek vir 'n papierroete vir hierdie masjiene kan ‘n lokval wees waarin die papierroete resultate weergee wat reeds deur Indiese tegnici ‘ontwerp’ is. Ons ondersoek dit en sal tegnici hieroor raadpleeg,” het Swartbooi gesê.

Volgens hom beweer die LPM nie dat individue by die ECN “medepligtiges” is in stemknoeiery en die manipulering van verkiesingsresultate nie. “Ons sê wel dat ons oplettend is vir die moontlikhede en lewens wat bedreig kan word om 'n sekere uitkoms te bewerkstellig.”

Hy het gesê daar is ook gerugte dat die LPM een setel sal kry sodat “honger Swartbooi” stilgemaak kan word.

“Ons word vertel dat die uitvoerende gesag vir ons een setel in die parlement sal gee. Ons is egter nie bewus daarvan dat die uitvoerende gesag die uitslag van verkiesings bepaal nie,” het Swartbooi gesê.

DREIGEND

Die LPM-leiers het ook gesê indien hulle in die parlement ingestem word, sal hulle korrupte politici en hul familielede wegdryf wat voordeel uit korrupsie getrek het.

“Ons gaan nie ‘n oog knip nie, want ons kan nie toelaat dat hierdie land eers ‘n Zimbabwe word en dan daarna dinge wil hervorm nie.

“Hierdie land is in 'n gemors - wat só diep is dat diegene wat dit geskep het, nie eens weet hoe om daaruit te kom nie. Dit is hoekom ons sê dit is tjaila-tyd,” het Swartbooi gesê.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!