LPM-leiers steeds verban

Die Speaker het nie die polisie opdrag gegee om LPM-lede toegang tot die parlement te weier nie.
Augetto Graig
Augetto Graig

Ondersteuners van die leiers van die Landless People’s Movement (LPM) het gister na die parlementsgebou in die hoofstad opgeruk voordat hulle deur die polisie gestuit is.

Hulle het tevergeefs daarop aangedring dat die Speaker, prof. Peter Katjavivi, hul klagskrif in ontvangs neem.

Katjavivi het verlede Donderdag, ná pres. Hage Geingob se staatsrede, die LPM-leiers, mnre. Bernadus Swartbooi en Henny Seibeb, uit die Nasionale Vergadering geskop.

Dié besluit is gister deur die parlement se staande komitee oor reëls en bevele gehandhaaf. Die kwessie sal nou na die komitee oor voorregte verwys word om te besluit oor die weg vorentoe.

Seibeb en Swartbooi het nogtans gistermiddag se parlementsitting probeer bywoon.

Die polisie het Swartbooi en sy ondersteuners toegang tot die perseel verbied, waarna hy ’n ander ingang sonder sukses probeer het.

Intussen is ander parlementslede insluitend mnr. Harald Kambrude, mee. Anseline Beukes en Utaara Mootu ook toegang tot die parlement verbied, tot hulle hul LPM-kleredrag uitgetrek het.

Mootu het tevergeefs gevra dat die polisie haar toegang tot haar kantoor gee. Kambrude is later deur polisiebeamptes by die parlementgebou se voordeur uitgejaag. Mootu kon uiteindelik die parlementsgebou bereik en die adjunkspeaker en voorsitter van die huiskomitee, me. Loide Kasingo, het haar ’n spreekbeurt gegee.

Kasingo het daarna die sitting verdaag en het Mootu persoonlik na Katjavivi geneem.

Met die hervatting van die vergadering het sy gesê Katjavivi het aan Mootu verduidelik die parlement het nie ’n bevel uitgereik wat stipuleer dat die polisie toegang tot enige parlementslede moet weier nie.

“Dit was ’n misverstand met die polisie se interpretasie van die reëls. Die Speaker vergader nou met die polisie om hul reg in te lig,” het sy gesê.



NUDO se parlementslid, mnr. Joseph Kauandenge, het gewaarsku die parlement moet die situasie versigtig hanteer om nie die indruk te skep dat die instansie ’n spesifieke politieke party wil straf nie.

Mnr. Mike Kavekotora van die RDP het kapsie gemaak dat Kasingo nie in beheer van die huis is nie.

“As ons die neiging ontleed lyk dit soos polisiekaping. Die uitvoerende gesag neem die parlement oor deur die polisie te gebruik. Wie het die opdrag gegee dat die polisie die parlementslede moet toegang weier? As dit nie julle was nie, wie was dit dan?” het hy gevra.

Intussen het Swartbooi reeds sy partylede by die hek van die parlementtuine van die verwikkelinge ingelig.

Volgens hom het Katjavivi op ’n onlangse prokureursbrief van Dr Weder, Kauta & Hoveka geantwoord en hy sou na die prokureurs se kantoor gaan om vandag ’n dringende hofaansoek in te dien.

Die LPM se regslui voer aan die speaker kon die LPM-leiers net volgens reël 111 die huis belet het. Die komitee vir reëls kon hulle dan volgens reël 112 geskors het. In stede hiervan het Katjavivi hom op reël 124 beroep, wat net onder buitengewone omstandighede ingespan mag word.

“Ons kan nie voor Swapo buig nie,” het hy sy ondersteuners gesê.

“Hierdie is klein gevegte, maar julle is vegters vir demokrasie, vegters vir vryheid wat vir waarheid en regverdigheid staan. Moet nie terugstaan nie, moet nie terugval nie,” het hy gesê. “Môre is julle in beheer,” het hy hulle belowe.

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!