LPM vaar uit teen u2018Animal Farmu2019
LPM vaar uit teen u2018Animal Farmu2019

LPM vaar uit teen ‘Animal Farm’

Volgens ’n opposisieparty is sommige lede van die samelewing, soos stigterspres. Sam Nujoma, belangriker as ander.
Denver Kisting
Denver Kisting – Die Landless People’s Movement (LPM) sê by monde van sy nasionale woordvoerder, me. Sade Gawanas, die manier hoe daar op kritiek teen stigterspres. Sam Nujoma gereageer word, herinner aan die roman Animal Farm.

Volgens haar is dit duidelik sommige lede van die samelewing, soos Nujoma, word belangriker geag as ander soos daar in die roman uitgebeeld word.

“Dit bewys hoe selektief die misbruik van kantore, soos (onder meer) die kantoor van die president, Cassinga- en Viëtnam-oorlewendes en die kantoor van die stigterspresident is (en) verkies om met die tersaaklike aangeleentheid om te gaan wat ongelooflik teleurstellend is.”

Baie van dié liggame swyg reeds die afgelope drie dekades oor ander menseregtevergrype, sê Gawanas.

“Hoe is dit skielik vir hulle gerieflik om die progressiewe uitlatings van eerbare (Bernadus) Swartbooi en eerbare (Henny) Seibeb in die parlement te veroordeel? Hulle moes ook kennis gedra het van die wreedhede van Lubango, van Cassinga en alle ander betreurenswaardige situasies wat onder die bevrydingstryd ontvou het.”

Die LPM se teenaanval kom nadat hul twee leiers, Swartbooi en Seibeb, in die spervuur beland het omdat hulle onlangs in die Nasionale Vergadering (NV) vir Nujoma as ’n boef en leuenaar uitgekryt het.

Gawanas het die afgelope week gesê: “Dit het gekos dat dr. Sam geïdentifiseer word as ’n leuenaar vir hulle om relevant te wees in die sfeer van vereenselwing. Dit is ’n gebrekkige poging om rampspoedige toepaslikheid te soek op ’n tydstip wanneer hulle heeltemal irrelevant is tot die toekoms van die land.”

Gawanas sê voorts die LPM is verstom dat Swartbooi en Seibeb se kritici nie te velde trek teen die grootskaalse beweerde plundering van die land se hulpbronne wat skynbaar aan die orde van die dag is nie.

Sy sê voorts: “Jul standpunt is belaglik, sameswerend en ’n verleentheid. Ware bevryders van dié land, wat hul lewens opgeoffer het, draai waarskynlik in hul grafte om. Ware bevryders sal nie sulke afskuwelike woorde spreek en ongewapende burgers dreig nie. Tel asseblief jul woorde.”

Gawanas beaam die vier LPM-LP’s geniet parlementêre immuniteit en bly verbind tot progressiewe gesprekvoering.

Mnr. Paul Shipale, Nujoma se senior spesiale assistent, het verlede week teen die opposisieleiers uitgevaar wat na hom as ’n boef verwys het.

Volgens Shipale het “die tweetal” van die Landless People’s Movement (LPM) nie maniere nie.

Hy sê hulle was gewalg toe hulle die onlangse skermutseling in die NV aanskou het.

Shipale het ook skerp gereageer daarop dat Nujoma ’n leuenaar en ’n verloorder genoem is.

Hy meen dié beledigings is “onparlementêr, onpatrioties en lafhartig” omdat dit gemik is op ’n bejaarde staatsman wat nie in die NV is om homself te verdedig nie.

Shipale sê voorts: “Die kantoor van die stigterspresident sien dié ongeregverdigde aanval jeens die stigterspresident uiters uitlokkend en versteur die vrede en bestendigheid in die land.”

- [email protected]

Kommentaar

Republikein 2025-04-11

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer