Lubowski wil Geingob in die oë kyk

Die vrou van ’n vermoorde vryheidsheld sê sy is nie verras die president beskuldig haar van leuens nie.
Denver Kisting
Denver Kisting – Me. Gabrielle Lubowski, die weduwee van die Swapo-swaargewig mnr. Anton Lubowski, sê sy wil hê pres. Hage Geingob moet haar in die oë kyk en vertel van haar man se laaste dag op aarde.

“Dit is my wens, omdat dit vir my afsluiting sal bring,” het sy gister uit Kaapstad laat weet.

Behalwe dat sy oor haar man se laaste dag wil hoor, wil sy ook hê Geingob moet haar inlig oor hulle twee se interaksie gedurende 1989.

Volgens Gabrielle is sy nie verbaas dat pres. Geingob haar van leuens beskuldig nie.

“Glo my, ná 30 jaar se soektog na die waarheid ken ek die menslike natuur soos die palm van my hand. Niks verras my meer nie,” sê sy.

Sy sê sy stel nie in gesprekke met pres. Hage Geingob se prokureur belang nie.

Sy het gistermiddag via WhatsApp aan Republikein gesê: “Ek wil net regstreeks met pres. Geingob in verbinding tree. Ek stel nie belang in en is nie geneë daarmee om met prokureurs te doen te hê nie.”

Dít kom nadat ’n storm Woensdag losgebars het toe ’n ope brief van me. Lubowski aan Geingob aan die lig gekom het.

In dié brief sê sy sy verkwalik Geingob vir haar man se dood bykans dertig jaar gelede.

Volgens Gabrielle probeer sy al amper drie dekades om ’n gesprek met Geingob te voer oor haar man se sluipmoord die aand van 12 September op die vooraand van Namibië se onafhanklikwording.

Anton was toe 37 jaar oud.

Geingob het eergister by monde van sy prokureur, mnr. Sisa Namandje, teruggekap en Lubowski tot Maandag kans gegee om haar aantygings terug te trek, wat volgens hom lasterlik is.

Hiernaas het sy ook tot dan om onvoorwaardelik om verskoning te vra vir dié beweringe wat volgens die staatshoof alles leuens is.

Namandje het gistermiddag gesê die president se regspan wag nog om van Gabrielle te hoor.

“Nog niks nie,” was sy skriftelike antwoord.

Niemand is tot dusver van Anton Lubowski se moord aangekla en verhoor nie.

In haar ope brief onthul Gabrielle die afgelope week dat Geingob die laaste mens was met wie haar man gepraat het voor sy dood.

Sy sê Anton wou inligting met die president deel wat só vertroulik was dat hulle nie eens by sy (Anton se) huis kon koffie drink nie, maar al langs Kaiserstraat (die hedendaagse Onafhanklikheidsrylaan) moes gaan stap sodat niemand die gesprek kon hoor nie.

Lubowski is enkele ure later voor sy huis doodgeskiet.

Gabrielle het gister benadruk haar “ope brief” was nie veronderstel om aan die groot klok gehang te word nie.

“Ja, dit was nie vir die publiek bedoel nie. Ek het ’n tweede brief voorberei om aan die publiek uit te stuur.”

Die aanklaer-generaal, me. Martha Imalwa, het in 2014 in ’n onderhoud met die dagblad The Namibian gesê geen vervolging sal in Namibië kan geskied nie weens die gebrekkige aard van die bewyse tot die vervolgingsgesag se beskikking.

Imalwa, Suid-Afrika se Waarheid- en Versoeningskommissie (TRC) en ’n geregtelike ondersoek in Namibië het bevind agente van ’n geheime eenheid in die Suid-Afrikaanse weermag was by Lubowski se moord betrokke.

Kommentaar

Republikein 2024-11-22

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 23° | 38° Rundu: 24° | 35° Eenhana: 23° | 35° Oshakati: 25° | 34° Ruacana: 24° | 35° Tsumeb: 22° | 33° Otjiwarongo: 20° | 32° Omaruru: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Gobabis: 23° | 34° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 16° Walvis Bay: 14° | 23° Rehoboth: 21° | 34° Mariental: 21° | 36° Keetmanshoop: 18° | 36° Aranos: 22° | 36° Lüderitz: 15° | 26° Ariamsvlei: 18° | 36° Oranjemund: 14° | 22° Luanda: 24° | 25° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 34° Mbabane: 18° | 32° Maseru: 15° | 32° Antananarivo: 17° | 29° Lilongwe: 22° | 35° Maputo: 22° | 36° Windhoek: 21° | 33° Cape Town: 16° | 23° Durban: 20° | 26° Johannesburg: 18° | 33° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 36° Harare: 20° | 31° #REF! #REF!