Lucky Star skyn vir sukkelende verbruikers
Lucky Star skyn vir sukkelende verbruikers

Lucky Star skyn vir sukkelende verbruikers

Jo-Mare Duddy Booysen
Nellie Brand- Jonker

Die eienaar van Suid-Afrika se geliefde blikkiesvis Lucky Star het beloof hy sal alles moontlik doen om prysverhogings te midde van stygende voedselprysinflasie te beperk.
Die afgelope ses maande tot einde Maart, vergeleke met die ooreenstemmende tyd, het Lucky Star se volume verkope met 13% gestyg.
Francois Kuttel, uitvoerende hoof van die genoteerde Oceana-groep, sê Lucky Star het mark­aandeel gewen omdat hulle baie hard gewerk het om die pryse dieselfde te hou of verhogings tot die minimum te beperk omdat dit so ’n belangrike bron van proteïne vir armer Suid-Afrikaners is.
“Verbruikers is onder groot druk en Lucky Star is ’n koste-effektiewe bron van proteïen.”
Hy sê hulle gaan ’n sterk promosieveldtog begin om markaandeel van hoender te wen.
’n Prysverhoging van 6% is begin April aan die mark deurgegee.
Die vorige een was 14 maande gelede en aan die begin van verlede jaar is ’n 8%-verhoging deurgegee.
“In hierdie infla­sionêre omgewing is dit baie goeie beheer om so min prysstygings te hê as gekyk word na die omvang van stygings in ander kospryse.”
Volgens hom is dit moontlik gemaak deur kostedoeltreffendheid in die inmaakfabrieke en verskaffingsketting wat kostedruk teengewerk het.
Dit sluit in dat vis wat voorheen in Thailand geblik is, hierheen gebring word en in sy fabrieke aan die Weskus en in Namibië verwerk word.
Oceana vang ook in Namibië vis en het op Walvisbaai ’n fabriek. Oceana vang ook marsbanker en stokvis.
Kuttel sê die produksie van die inmaakfabrieke het meer as verdubbel danksy die feit dat die vis nou hier verwerk word. Nuwe werksgeleent­hede is geskep en bestaande werkers kon meer ure werk.
In Suid-Afrika word sekere visregte vanjaar hersien.
Lucky Star se verkope het in die res van Afrika met 8% gedaal.
Kuttel skryf dit toe aan die probleem om buitelandse valuta in lande soos Mosambiek, Zambië en Zimbabwe in te kry.
Die inkomste uit geblikte vis asook vismeel is verreweg die grootste bydraer tot die maat­skappy se inkomste. Dit het met 20% tot R1,89 miljard gestyg.
Sy inkomste uit stokvis en marsbanker het gedaal.
Sy onderneming wat Weskus-kreef vang, se inkomste en bedryfswins het ook gedaal weens swakker vangste.
Die Wêreldnatuurfonds (WWF) het verlede week Weskus-kreef op sy volhoubare seekos-inisiatief vir Suider-Afrika (Sassi) se rooilys geplaas.
Kuttel sê dit is weens onwettige vangste dat die bron nie meer volhoubaar gevang kan word nie.
Volgens hom werk die bedryf met die WWF en die departement van landbou, bosbou en visserye om maatstawwe te kry om die probleem op te los. Die maat­skappy se inkomste het in geheel met 40% tot R3,6 miljard gestyg in die halfjaar, deels oor die verkryging van ’n Daybrook-vismeelfabriek in Amerika. Dié verkryging uitgesluit het sy inkomste met 13% gestyg, grootliks vanweë beter verkope van blikkiesvis en stokvis, sy koudstoorgeriewe wat beter benut is en die gunstige wisselkoers.
Bedryfswins het met 67% tot R587 miljoen gestyg. Sonder Daybrook het dit met 13% gestyg.
- Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!