Ludwigsdorf-skieters in hof
Ludwigsdorf-skieters in hof

Ludwigsdorf-skieters in hof

Twee van die bende van sewe wat die afgelope tyd glo 'n skrikbewind in die oostelike area van Windhoek voer, het gister 'n eerste hofverskyning gemaak.
Jacqueline Louw
Jacqueline Louw - Mnre. Jafet Nashidengo Haikela en Nghilifavali Giver Johannes, wat na bewering deel is van 'n groep van sewe mans wat Maandagnag in die Ludwigsdorf/Klein Windhoek-area op die polisie en sekuriteitswagte, en toe ook op 'n lid van die buurtwag geskiet het, het gister in die landdroshof in Windhoek verskyn.

Dié twee, wat vroeg Dinsdagoggend in hegtenis geneem is, staan tereg op klagte van huisbraak met die doel om te steel, diefstal, die besit van 'n vuurwapen sonder 'n lisensie en die afvuur van 'n vuurwapen in 'n openbare plek of op straat.

Die beskuldigdes het voor landdros Gerrit van Pletzen verskyn en aangedui hulle sal hul eie verdediging hanteer.

Staatsaanklaer Tatelo Lusepani het die hof versoek om die saak vir verdere ondersoek uit te stel en het ook aangedui die staat is gekant teen die toestaan van borgtog omdat daar nog verdagtes is wat aangekeer moet word en gesteelde items is wat teruggevind moet word.

Die klag van huisbraak hou verband met die inbraak by 'n huis Dinsdagoggend waar onder meer kampeertoerusting, klere, 'n grimeersak en 'n hidrouliese pomp ter waarde van N$9 570 gesteel is.

Een van die beskuldigdes het probeer om 'n rewolwer weg te steek wat toe in die mik van 'n boom gevind is.

'n Lid van die buurtwag het Maandagnag se skietery as 'n mini-oorlog beskryf met sowat 12 skote wat heen en weer afgevuur is. Hy het verder vertel die boewe het die polisiebeamptes en veiligheidswagte in Dr. Kwame Nkrumah-straat gesien en op hulle begin skiet. Daar is teruggevuur en die boewe het met die Klein Windhoek-rivier afgeloop en in Zieglerstraat op 'n lid van die buurtwag afgekom. Daar is ook op hom begin skiet met nog teenvuur wat gevolg het.

'n Anonieme bron het Republikein meegedeel daar was die afgelope maand en 'n half 32 misdaadvoorvalle in die Eros-, Ludwigsdorf-, en Avis-woonbuurte. “Ons word deur 'n groep gewapende bendelede geterroriseer”, het hy gesê.

Die saak is tot 10 November uitgestel.

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!