Lug in tonnel

Henriette Lamprecht
Henriette Lamprecht – Die ministerie van gesondheid en maatskaplike dienste is reeds vir 'n geruime tyd – voor die uitbreking van die Covid-19-­pandemie – bewus van die feit dat die verskaffing van suurstof in openbare gesondheidsgeriewe gebrekkig of afwesig is.

Die uitvoerende direkteur, mnr. Ben Nangombe, sê tot en met Maart verlede jaar toe die eerste Covid-geval in Namibië aangemeld is, het geriewe “relatief goed” gedoen.

Tans word egter 'n gebrek aan suurstof in veral die Katutura- en Windhoek Sentrale ­Hospitaal ervaar, maar word daar nou met verskaffers onderhandel om die aantal suurstofsilinders te verhoog.

Die rede hiervoor is dat daar tans 'n hoë aanvraag en ook 'n hoë aantal Covid-pasiënte in die Katutura-hospitaal se Covid-eenheid is, sê Nangombe.

Volgens hom is suurstofsilinders en suurstofstelsels ontwerp om mekaar te komplementeer en sou daar 'n onder­breking in toevoer wees, moet silinders gebruik word.

“Daar is meganismes in plek om voorsiening te verseker,” het hy gesê.

Nangombe sê die ministerie kon intussen 'n grootmaat-suurstoftenk installeer wat ononderbroke suurstof waarborg.

'n Individuele stelsel is ook “in rekordtyd” geïnstalleer wat ­suurstof genereer en met die Covid-eenheid en die intensiewesorg- en isolasie-eenhede by die Windhoek Sentrale Hospitale verbind is.

Die ministerie het ook volgens Nangombe 'n “sterk” voorlegging aan die Globale Fonds se Covid-19 Reaksie­meganisme gedoen wat fokus op hulpbronne en dan die verskaffing van infrastruktuur vir suurstof.

'n Tender is ook toegeken vir die installering van 'n netwerk van ­toevoerpype in openbare gesondheidsgeriewe om die voorsiening van suurstof te verhoog.

Hiervoor is 12 openbare gesondheidsgeriewe geïdentifiseer waar suurstofstelsels onmiddellik opgradeer moet word.

Volgens Nangombe het private maatskappye ook hul bereidwilligheid aangedui om die installering van suurstof in die openbare gesondheidsektor te finansier.

Hy het erken die twee staatshospitale is tans oorweldig weens veral die hoë aantal Covid-pasiënte. Die kapasiteit in die Covid-eenheid is intussen van 68 na 74 beddens verhoog, terwyl die moontlikheid ook ondersoek word om die gebou wat voorheen die Nasionale Instituut vir Patologie (NIP) gehuisves het, in 'n Covid-eenheid te omskep.

'n Beroep is ook op die ministerie van verdediging en veterane sake gedoen om die militêre hospitaal in Khomas te herontplooi, terwyl ­verpleegsters by geriewe met min ­pasiënte ook in die hoofstad ontplooi gaan word.

Nangombe het na die opgradering en installering van nuwe suurstofstelsels verwys as “duur ingrypings”, maar dat inwoners ook hul deel moet doen om die verlies van lewens te verhoed en te verminder. Hy het ook na die Indiese variant verwys en dat genoomtoetsing plaaslik nog geen teken daarvan in die land getoon het nie.
[email protected]

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!