Lugdienste vra hulp weens kansellasie van vlugte
Lugdienste vra hulp weens kansellasie van vlugte

Lugdienste vra hulp weens kansellasie van vlugte

Die lugdiensbedryf vra die regering om rentekoerse te verlaag, kredietgeriewe te verleng, die belastinglas op die lugvaartbedryf te verlig en infrastruktuurheffings te verlaag.
Francois Williams – Die finansiële lewensvatbaarheid van Suid-Afrika se hele lugdiensbedryf word deur Covid-19 bedreig.

Die bedryf kan langtermynskade opdoen weens die krisis, met die meeste maatskappye wat plaaslike en internasionale reis verbied.

Die lugdiensbedryf vra dus die regering om rentekoerse te verlaag, kredietgeriewe te verleng, die belastinglas op die lugvaartbedryf te verlig en infrastruktuurheffings soos lughawetariewe en landingsgeld te verlaag.

Só sê Linden Birns, Suid-Afrikaanse kommentator oor die lugdienssektor.

Meer as 70 000 mense werk regstreeks in die bedryf en 472 000 werkers in die breër ekonomie word ondersteun deur die besteding in die bedryf. Die lugdienssektor verteenwoordig sowat 3,2% van die bruto binnelandse produk en verteenwoordig sowat $9,4 miljard se waarde, wys die mees onlangse ekonometriese studie van die plaaslike lugvaartbedryf wat Oxford Economics in 2017 namens die Internasionale Lugvervoervereniging (Iata) gedoen het.

Birns waarsku al dié werkgeleenthede en waarde word deur Covid-19 bedreig.

Lugdienste is tans nog snoep met inligting oor hoeveel minder besprekings hulle lok, maar sowel FlySafair as British Airways waarsku kliënte dat hul inbelsentrums oorlaai word met passasiers wat herbesprekings wil doen.

Hy waarsku verskeie staatsondernemings en staatsagentskappe is ook grootliks of heeltemal van lugvervoer vir hul inkomste afhanklik, en sal erg geraak word deur die reisverbod wat pres. Cyril Ramaphosa Sondagaand afgekondig het.

Dit sluit in die Lughawensmaatskappy (Acsa) in, wat landingsgeld hef vir elke vliegtuig wat by sy kommersiële lughawens land, die Lugverkeersnavigasiediens, die Suid-Afrikaanse Weerdiens asook die Burgerlugvaartowerheid. Die Suid-Afrikaanse Inkomstediens word geraak deur enige afname in lugvervoer omdat daar minder belasting op toegevoegde waarde (BTW) en ander belasting is wat gehef sal word.

FlySafair sê op sy webblad sy vlugte gaan nog soos normaal voort, en hy bied ook gratis vlugveranderings aan vir mense wat nie meer oor die komende maande kan reis nie.

Die Suid-Afrikaanse Lugdiens het nog nie op navrae gereageer nie. Comair, wat kulula.com en die plaaslike franchise van British Airways bedryf, sê sy vlugte duur soos normaal voort en hy sal passasiers akkommodeer deur nie ekstra te vra wanneer vlugte herbespreek word nie. Terugbetalings vir kansellasies sal hanteer word volgens tariefreëls waaroor daar inligting op Comair en kulula.com se webruimtes is, het ’n Comair-woordvoerder gesê.

Birns waarsku verder die bedryf het meer duidelikheid van die regering nodig oor hoe die verbod op byeenkomste van meer as 100 mense in die lugvervoerstelsel toegepas moet word gegewe die volgende:

· Die meeste vliegtuie op die groot binnelandse roetes het gewoonlik plek vir sowat 180 passasiers, terwyl langafstandvlugte na en van Suid-Afrika tussen 250 en 550 passasiers huisves;

· Die toue mense by instaphekke;

· Die bedryf van busse wat passasiers tussen die lughawegeboue en die vliegtuie op die aanloopbaan vervoer;

· Die toue mense by die inboektoonbanke van lughawens se vertreksale;

· Die toue mense by veiligheidshekke vir binnelandse en internasionale reise;

· Die toue mense by immigrasie- en paspoortbeheerpunte;

· Die skares mense by bagasiehanteringsgeriewe en waar hulle deur doeanepunte moet beweeg;

· Die skares mense by aankomsale in lughawens wat passasiers kom groet en oplaai.

Die goedkoper vliegtuigbrandstof weens die skerp val in oliepryse kan volgens Birns wel lugdienste bevoordeel, maar dit hang af hoeveel van hul brandstofaankope verskans is teen die vorige hoër pryse.

Iata het verlede week voorspel die korona-pandemie kan die lugdiensbedryf internasionaal $113 miljard kos, maar dit was nog voordat verskeie lande oor die naweek nuwe reisbeperkings aangekondig het. – Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer