Lughawetender van miljarde dollar gekanselleer
Lughawetender van miljarde dollar gekanselleer

Lughawetender van miljarde dollar gekanselleer

Namibië se hoogste hof het die plan vir die uitbreiding van die land se hooflughawe laat skipbreuk ly met die tersydestelling van ’n kontrak wat die projek aan ’n Chinese maatskappy toegeken het.
Jacqueline Louw
Jacqueline Louw – Drie regters van die Windhoek-hooggeregshof het Dinsdag beslis die kontrak van miljarde dollar vir die opgradering van die Internasionale Lughawe Hosea Kutako wat aan die Chinese maatskappy Anhui Foreign Economic Construction Group toegeken is, behoort ter syde gestel te word.

Die drie appèlregters het die toekenning van die kontrak vir die opgradering van die lughawe aan Anhui onwettig en nietig verklaar. Die uitspraak volg ná die aanhoor van ’n appèlaansoek waarin die toekenning van die kontrak aan Anhui deur die president en die ministers van finansies asook werke en vervoer betwis word.

Regter Dave Smuts het bevind die permanente sekretaris van werke en vervoer en die ministerie self het nie die bevoegdheid gehad om die kontrak vir die opgradering en uitbreiding van die lughawe toe te ken nie. Verder is daar nie voldoen aan die bepalings van die Tenderraadwet in die toekenning van die opgraderingsprojek aan Anhui wat sowat US$447,8 miljoen sou kos nie. Volgens die huidige wisselkoers beloop dié bedrag sowat N$6 miljard.

Hoofregter Peter Shivute en appèlregter Sylvester Mainga het met regter Smuts se beslissing saamgestem. Alhoewel die president en die ministers van finansies asook werke en vervoer ’n deel van die appèl teen die hoërhofuitspraak deur regter Shafimana Ueitele in September verlede jaar gewen het, is hul appèl teen ’n verdere gedeelte daarvan van die hand gewys.

In hierdie deel van sy uitspraak het Ueitele bevind die minister van werke en vervoer het nie ooreenkomstig die lughawensmaatskappyewet gehandel toe hy op bevel van president Hage Geingob aan die Namibië Lughawensmaatskappy (NAC) die opdrag gegee het om alle aktiwiteite in verband met die uitbreiding van die lughawe stop te sit nie. Die drie appèlregters het bevind dat hierdie aspek van Ueitele se uitspraak korrek was.

Regter Smuts en sy kollegas het ooreengestem dat die toekenning van die kontrak aan Anhui foutief was omdat die prosedures van die Tenderraad nie nagekom is in die toekenning van die tender nie. “Die prosedures van die Tenderraad moet nagekom word vir die geldige verkryging van kapitaalprojekte van die regering,” het Smuts aangedui.

Gedurende Desember 2015 en vroeg in Januarie 2016 het verskeie Namibiese koerante berig oor beweerde nie-nakoming van statutêre voorskrifte deur die NAC, beweerde omkopery en korrupsie aan die kant van Anhui, dat meer mededingende tenders geïgnoreer is en ook die omvang van besteding bevraagteken.

Na aanleiding van hierdie beweringe in die pers oor die toekenning van die tender aan Anhui, het die president bekend gemaak dat die toekenning van die tender gekanselleer sal word. Die minister van werke en vervoer het daarna die NAC in Desember 2015 opdrag gegee om die tenderproses vir die opgraderingsprojek te kanselleer sodat die tenderproses opnuut kan begin.

Smuts het in sy uitspraak genoem dat die minister slegs so ’n kennisgewing kon gee indien hy dit nodig vir nasionale sekuriteit óf vir die nakoming van ’n internasionale verpligting van die staat geag het, wat nie die geval was nie. Daarbenewens was daar ook nie ’n kennisgewing in die Staatskoerant tot dié effek gepubliseer voor die kennisgewing aan die NAC nie.

“Wanneer die minister die regte uitoefen wat deur die Lughawensmaatskappyewet aan hom verleen is, behoort hy binne die grense van die wet te handel,” het regter Smuts opgemerk. Hy het verder gesê “openbare belang in die verkryging van projekte deur middel van staatsgeld, veral op die skaal in die vooruitsig gestel vir die opgradering van die lughawe, vereis dat daar nougeset en op deursigtige wyse aan statutêre bepalings voldoen word”.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!