Luiperds loop wyer draaie
Navorsers sê 'n vorige skatting van die plaaslike luiperdbevolking was verkeerd.
Elvira Hattingh
'n Sensusopname toon 'n sterk toename in die verspreiding van Namibië se luiperds.
Dié roofdiere kom ook nou voor waar wetenskaplikes hulle nog nie voorheen ontdek het nie.
Terselfdertyd meen navorsers alhoewel die skatting van die totale luiperdbevolking laer is as in 2011, het luiperdgetalle nie afgeneem nie en is eerder die teenoorgestelde die geval.
Die Namibië Universiteit vir Wetenskap en Tegnologie (Nust) se prof. Morgan Hauptfleisch was vandeesweek tydens die Namibië Professionele Jagvereniging (Napha) se 46ste jaarvergadering aan die woord. Hy het gesê alhoewel luiperds in Namibië tans op 11 733 geraam word, terwyl dit volgens die 2011-studie 14 154 was, dui dit nie op 'n afname nie.
“Dit is eerder 'n regstelling van die vorige getal. Onthou, die studie het ook bevind mens-dier-konflik en die verspreiding van luiperds het verhoog, en mense handhaaf die persepsie dat luiperdgetalle styg.
“Die media het aanvanklik berig daar was 'n afname in luiperdgetalle. Dit is nie net verkeerd nie, maar ook onverantwoordelik.
“Ons kon in die afgelope studie die data verfyn en daarom is die skatting laer. Boonop het hierdie studie oor luukshede beskik soos genoeg geld, wat beteken het ons kon baie meer data in die veld insamel.
“Terselfdertyd het ons kennis oor karnivore oor die afgelope vyf jaar aansienlik verbeter,” het Hauptfleisch verduidelik.
Hy het gesê die luiperdsensus het gebruik gemaak van honderde kamera-lokvalle landswyd, asook opnames wat deur net minder as 400 grondeienaars ingevul is.
Die kamera-lokvalle het meer as 7 miljoen foto's geneem.
KWOTAS
'n Analise is ook gedoen van die trofeeluiperds wat oor die afgelope tien jaar gejag is, soos gerapporteer aan die ministerie van die omgewing en toerisme.
“Namibië staan jaarliks 'n jagkwota van 250 permitte vir luiperds toe. Dit beteken ons laat toe dat 1,8% van die huidige luiperdbevolking benut word.
“Streng gesproke moet ons jaarliks net toelaat dat 211 gejag word, maar as ons kyk na die aantal luiperds wat wel jaarliks gejag word, is dit veel minder. Oor die afgelope tien jaar kon ons nie die kwota van 250 luiperds per jaar vul nie.
“Die rede hiervoor is onder meer dat die gebiede waar luiperds loop baie groot is - veral wat luiperdmannetjies betref.
“Wanneer 'n jagkwota dus vir 'n spesifieke plaas gegee word, is dit baie beperkend, want die roofdiere beweeg oor talle plase.
Dis een van die grootste redes waarom die jag van luiperds dikwels onsuksesvol is.
“Ek stel dus voor dat die jagkwota nié verminder word nie. Nog 'n voorstel is dat 'n jagpermit vir luiperds uitgereik word wat oor 'n groter gebied geldig is, eerder as op individuele plase,” het Hauptfleisch gesê.
PLAASEIENAARS
Hauptfleisch sê altesaam 85% van die grondeienaars wat aan die luiperdsensus deelgeneem het, het aangedui die roofdiere kom wel op hul plase voor.
“Talle plaaseienaars glo luiperdgetalle is besig om te styg. Data toon dat luiperds die tweede grootste oorsaak van mens-dier-konflik was, met jakkalse wat eerste op die lys oor die afgelope twee jaar was,” het hy gesê.
Luiperds is nou ook wyer oor die land verspreid.
“Die vorige opname wys luiperds het bykans nooit in die Kalahari-dele van die land voorgekom nie, terwyl die jongste opname toon hulle het nou 'n medium tot hoë teenwoordigheid daar.
“In gebiede waar voorheen 'n medium tot hoë digtheid van luiperds was, kom nou selfs meer voor. Na raming was daar 'n 40%-toename in mediumdigtheidgebiede en 'n toename van 16% in hoë-digtheidsgebiede.
“Dié data stem ook ooreen met syfers oor mens-dier-konflik, asook mense se opvatting dat luiperdsyfers verhoog het,” het hy gesê.
– [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie