Luiperdwyfie verinneweer drie mans
Francoise Steynberg – Drie mans is beseer toe ’n luiperd hulle Maandagnamiddag op die plaas #Goabeb in die Usakos-distrik aangeval het.
Die voorval het omstreeks 17:00 naby Spitzkoppe in die #Gaingu-bewaringsgebied plaasgevind toe mnr. Esegiel Pitifo (48) bokke in die veld opgepas het.
“Die luiperd het aanvanklik ’n bok aangeval en Pitifo is aan die linkerarm gebyt toe hy gestoei het om die bok uit die kat se kake te red,” lui ’n polisieverslag.
“Pitifo kon daarin slaag om sy vriende by die huis met sy selfoon te bel. Toe sy vriende, mnre. Frans Garub (39) en Enricko Garoseb (40), opdaag, is hulle ook deur die luiperd aangeval.”
Volgens die verslag het Garoseb ernstige beserings aan sy kop en regterarm opgedoen, terwyl Garub ’n oop wond het nadat hy op die kop gebyt is.
Die slagoffers is na die Usakos-staatshopsitaal vir behandeling geneem en is in ’n stabiele toestand.
Volgens die woordvoerder van die ministerie van die omgewing, bosbou en toerisme, mnr. Romeo Muyunda, is personeel gisteroggend na die toneel uitgestuur om ’n ondersoek van stapel te stuur.
“Personeellede het die luiperd se spore gevolg en tot dusver kon ons vasstel die luiperdwyfie het twee welpies,” het Muyunda gesê.
Hy het gesê die ministerie oorweeg dit om die luiperds in die gebied te vang en verskuif waar hulle minder probleme veroorsaak.
“Ons staan ook die slagoffers by met betalings vir hul beserings. Volgens die hersiene beleid van mens-dier-konflikbestuur beloop betalings vir beserings sonder die verlies van ’n ledemaat N$10 000; vir verlies van ’n ledemaat N$30 000, en N$50 000 as ’n slagoffer medies ongeskik verklaar is.”
Muyunda sê die ministerie betreur die voorval en simpatiseer met die slagoffers.
“Ons doen ’n beroep op die publiek om versigtig te wees en gevaarlike roofdiere nie op so ’n manier te benader nie. Voorvalle soos hierdie moet by die ministerie, die polisie of die naaste bewaringsgebied gerapporteer word sonder dat menselewens soos in hierdie geval in gevaar gestel word,” het die woordvoerder gemaan.
- [email protected]

Kommentaar
Republikein
Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie