Lyding deur die lens

Die fotojoernalis Greg Marinovich se ‘Shots from the Edge’ is ’n skokkende dog ontroerende boek waarin hy met die fyn oog van ’n visuele kunstenaar die lyding van gewone mense in die mees hopelose oorlogsituasies laat lééf.

Dit is ’n voorreg om onlangse geskiedenis deur die oë en woorde van ’n begaafde fotograaf en verteller te ervaar. Marinovich is al met ’n Pulitzerprys sowel as die Alan Patonprys (vir sy indringende ondersoek na die Marikana-slagting) bekroon.

Selfs met ’n derde herlees bly sy nuutste boek, Shots from the Edge, ’n ontroerende en skokkende ervaring: Ontroerend omdat hy met deernis en soms selfs humor oor die haglikste omstandighede berig; skokkend omdat hy met sy fyn waarnemings – hy registreer detail met die oog van ’n visuele kunstenaar – die lyding van gewone mense in die mees hopelose situasies laat lééf.

Elke hoofstuk word ingelei deur ’n sober, nie-sentimele swart-en-wit foto. Niks – nóg foto nóg teks – is daarop gemik om sensasie te skep, en tog slaan elke hoofstuk hárd. Dikwels berig hy self wat hy sien, meer dikwels laat hy mense praat wat midde-in die waansin van futiele oorloë moet oorleef. Daarby weef Marinovich onopsigtelik die historiese konteks en oorsprong van grusame kontemporêre oorloë in.

Ek lees graag geskiedenisboeke, maar het nog nooit die onmiddellikheid van oorlog en die lesse, indien dit ooit sou bestaan, van die onlangse en verdere verlede so goed verstaan nie.

Die oorlog in Bosnië-Herzegowina (en die ganse ou Joego-Slawië) som Marinovich sober op: Ten spyte van Tito se Kool-Aid, wat mense laat glo het “broth­erhood and unity would overcome any historical animosities”, het die oorlog ontaard langs etnies-sektariese skeidingslyne (bl. 10), wat in die 1990’s tot enorme slagting en wreedheid gelei het.

Teenoor die stommiteite van verskeie kante se soldate (een soldaat, geklee in slegs ’n Speedo, brand met ’n RPG los op oorlogsfotograwe) sien Marinovich die hongersnood, angs, woede en uiteindelik gelate lyding van onder andere die inwoners van Sarajewo.

In Mogadisjoe, Somalië, jukstaponeer hy die verhaal van ’n vreeslose 15-jarige soldaat wat reeds drie broers in die oorlog verloor het, met die rasseprobleem (tussen swart stamme en die Somaliërs met die sagte hare van die noorde): Daar word gediskrimineer teen die Somaliërs met die harde hare, oftewel die swart stamme wat oorspronklik grond daar besit het, wat as slawe deur Arabiese stamme onderdruk is en wie se lot verder vererger het gedurende Italiaanse kolonialisme.

Voeg daarby die Amerikaanse Operation Restore Hope (met Seal-skerpskutters wat uiters verdag optree). En te midde van hierdie bykans hopelose situasie sit twee 16-jariges gereed om te trou, omring deur families wat ouwêreldse rituele volg.

In Somalië beskryf Marinovich die tweesnydende swaard van toenemende Sjaria-wetgewing, wat ironies vir dele van die bevolking ’n verlossing bied van die totale wetteloosheid – verkragtings, rooftogte, aanvalle en moorde van verskeie kante – in die land.

Angola se oorlog word skielik lewendig ná ’n beskrywing van Papa Kitoko se “mental institution” vir oorloggetraumatiseerdes.

In Mosambiek word kratte Kalasjnikofs ingevoer onder die dekmantel van plaasinstrumente, en die Nkomati-verdrag blyk net leë woorde te gewees het. Trouens, Marinovich se kennis van oorlogwapens gee telkens insig in die verwikkeldheid van wêreldmoondhede se betrokkenheid by oorloë wat op die oog af slegs “on the edge” plaasvind. Die “shots” in die titel verwys natuurlik na kamera- én wapenskote.

Niks is daarop gemik om sensasie te skep nie; tog slaan dit hárd.

Zaïre en Rwanda, die “killing fields” van Afrika, word in twee van die ontstellendste hoofstukke beskryf. Die boek Openbaring word hier werklikheid: hongersnood, verkragtings, onbeskryflike wreedhede teenoor vlugtelinge (wat dikwels eens bure, vriende en familie was wat bier in die hand saam sokker gekyk het), onvermydelike siektes soos cholera wat saamstroom met die haglike voorttrekkende mense. Massagrafte wat tot teen die gehuggies oopgestoot word met skrapers, die verslaenes van liggaam en gees wat nie kan wegbeweeg nie en sit en staar na die naderende slote, “as if welcoming the fact that their graves were coming to them” (bl. 64).

Die hoofstuk oor Rwanda beskryf verder die probleme van kinders wat uit derduisende verkragtings verwek is, en die verminkings (veral die afkap van hande van “vyande”, dikwels kinders). ’n Oorwerkte dokter in een van die veldhospitale wat krassend buite gaan staan en lag en net kan skree: “It is a tribunal from heav­en!” (bl. 67).

In aansluiting tot hierdie hoofstukke beskryf Marinovich ook die verskrikkings in Gulu in Noord-Uganda, die Lord’s Resistance Army, hoofsaaklik saamgeflans uit ontvoerde kinders wat dikwels onskuldig voor hul hutte sit en huiswerk doen het voordat die magte van die hel op hulle en hul gesinne se lewens losgebars het. Marinovich laat ’n jong meisie van 13 wat die onmenslikheid ervaar het in haar eie huiwerende, stil stem vertel.

Suid-Afrika word ook in ’n paar hoofstukke bespreek. Marinovich het veel hiervan saam met medefotograwe ervaar, gesien en op film vasgevang: xenofobie in Johannesburg (1995), wat helaas voortduur; die Msinga-veldslag in die dieselfde tyd (wat sy wortels in die hostel-oorloë in Johannesburg het); vars waarnemings oor die Eugene de Kock-hofsaak en die aanspreeklikheid van regeringslui; ’n totaal nuwe perspektief op Sharpeville deur die vertelling van ’n oorlewende, Ike.

Daar is nog ’n paar hoofstukke, onder meer oor Indië (die kastestelsel met al sy onregte, tot vandag toe), en Palestina, die messiaanse terugkeer van Jasser Arafat, en die daaglikse vernietiging van enige hoop op herstel.

Daar is ook interessante, selfs vermaaklike vertellings oor die probleme wat fotograwe soos Marinovich ervaar: hoe om in die 1990’s, toe digitale fotografie nog in sy kinderskoene was, kamerafilms te vervoer, ontwikkel, beskerm en uiteindelik foto’s by die wêreld se nuusagentskappe uit te kry; of hoe om veilige vervoer in die mees afgeleë oorlogsones te beding. Tolke blyk ook ’n probleem te wees, hetsy weens onverskilligheid, partydigheid of doodeenvoudig taalgebreke.

Hoe, vra ’n mens jouself af, kan jy in die eerste plek as leser, maar ook die oorspronklike waarnemer, fotograaf, verteller (Marinovich self), leef met die beperkte insig in die onverstaanbare en onontkombare irrasionaliteit en wreedheid van mense teenoor mekaar, met die wete dat “beskawing” so ’n brose laag is wat telkens uitmekaar skeur?

Dalk som die skrywer dit self die beste op in sy opdrag: “Over the years, my friends, both casual and close, have kept me sane. My family continues to do so.” - Netwerk24

Kommentaar

Republikein 2024-11-15

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 31° Rundu: 20° | 34° Eenhana: 21° | 34° Oshakati: 23° | 33° Ruacana: 20° | 30° Tsumeb: 21° | 33° Otjiwarongo: 20° | 31° Omaruru: 25° | 34° Windhoek: 20° | 31° Gobabis: 21° | 33° Henties Bay: 16° | 24° Swakopmund: 16° | 17° Walvis Bay: 16° | 23° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 22° | 38° Aranos: 23° | 36° Lüderitz: 16° | 28° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 20° | 34° Lubumbashi: 18° | 33° Mbabane: 16° | 31° Maseru: 14° | 30° Antananarivo: 13° | 32° Lilongwe: 19° | 32° Maputo: 19° | 33° Windhoek: 20° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 18° | 27° Johannesburg: 16° | 29° Dar es Salaam: 25° | 31° Lusaka: 19° | 29° Harare: 16° | 26° #REF! #REF!