Lyke het hul selfies geruïneer

Henriette Lamprecht
Hendrik Hancke



Twaalf toeriste wat vrolike selfies geneem het by die Joodse volksmoord-monument in Berlyn het 'n nare skok gekry toe hulle deel geword het van die Israelse kunstenaar Shahak Shapira (28) se jongste kunsprojek.

Die besoekers se gebrek aan respek vir die miljoene slagoffers wat in Adolf Hitler se Jodeslagting tydens die Tweede Wêreld­oorlog gesterf het, het Shapira só ontstel dat hy begin het om dié selfies te redigeer en op sy webwerf te publiseer.

In een foto van 'n vrou wat in 'n jogaposisie teen een van die monument se 2 711 betonblokke staan, het Shapira byvoorbeeld die betonblok met 'n foto van dooie slagoffers van die Nazi's vervang.

“Die presiese betekenis van die betonblokke is self omstrede. Vir baie simboliseer dié grys blokke die grafte van die 6 miljoen Jode wat tydens die massamoord op die Jode met hul lewe geboet het en in massagrafte begrawe is, of die grys as van die dodekampe,” skryf Shapira op sy webwerf.

In nog 'n foto op sy webwerf, yolocaust.de, lag 'n paartjie vrolik vir 'n selfie, met uitgehongerde dodekamp-slagoffers in die agtergrond.

Die oorspronklike foto's het hy op sosialemedia-platforms soos Facebook, Instagram, Tinder en Grindr gekry.

As iemand hom vra om 'n foto te verwyder, doen hy dit, maar net as die mense in die foto hul spyt uitspreek oor wat hulle gedoen het deur 'n e-pos te stuur na [email protected].

Volgens Shapira is sy webwerf reeds deur meer as 2,5 miljoen mense besoek sedert die projek afgeskop het.

“Die mal ding is dat die projek al 12 die oorspronklike selfie-nemers bereik het en dat amper almal van hulle die bood­skap verstaan het, om verskoning gevra en besluit het om die foto's van hul persoonlike sosialemedia-profiele te verwyder,” sê Shapira.

“Ek het ook baie terugvoering gekry van navorsers, mense wat in die verlede by die monument gewerk het, mense wat familie in die volksmoord verloor het, asook onderwysers wat die projek in hul leerprogramme wil gebruik. En selfs van mense wat foto's van hul vriende en familie vir my stuur in die hoop dat ek dit sal gebruik,” sê Shapira.

Vroeër het die Oekraïnse rolprentmaker Sergei Loznitsa besoekers by die dodekampe van Dachau en Sachsenhausen in Duitsland afgeneem sonder dat hulle dit geweet het.

In sy dokumentêre fliek Austerlitz, wat verlede jaar uitgereik is, kan gesien word hoe paartjies selfies neem voor die ingang met die bekende woorde “Arbeit macht frei” by Auschwitz in Pole en 'n vrou wat voor die berugte gaskamers staan vir 'n foto.

- Netwerk 24

Kommentaar

Republikein 2025-04-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer