Ma en dogter vang die oog agter stuurwiel

Hul passie vir die sport is te sterk om te keer dat geldelike beperkings in hul pad staan.
Andrew Poolman
Andrew Poolman - Wanneer jy hul vaardighede agter die stuurwiel aanskou, herinner dit jou aan tonele uit ’n aksiefliek waar die held sy voertuig in ’n besige straat in die middestad tol om sywaarts in ’n nou enkelparkeerplek te laat inskuif.

En as jy deur die rook van tollende buitebande dalk nie die bestuurder se gesig kan uitmaak nie, sal jou oë dalk rek om te sien dit is Elinor de Koe of haar dogter Ayanda wat uit die voertuig klim.

Dié ma en dogter van Windhoek maak die afgelope maande opgang in die plaaslike motorsport wat as tol of “spins” bekend staan.

Elinor de Koe vertel: “Ek is ’n enkelma van een dogter, Ayanda wat nou 16 is.

“My liefde vir motorsport het jare gelede begin en was geïnspireer deur my oorlede broer, Cardo, asook ons pa. My broer het net BMW’s gery en ek het maar die pas gevolg. Daar is letterlik niemand in die plaaslike sport wat nie sy naam ken nie.

“My eerste motor was ’n BMW 3.18i Cabriolet E30, daarna ’n BMW 3.27 E30 Shadowline en vandag ’n BMW 3.28i E36. My broer het my touwys gemaak hoe om te ‘tol’ en ná sy dood het ek besluit om met my deelname voort te gaan en sy legende aan die gang hou.

“Ons noem dit deesdae nie meer tol nie, maar ‘spins’ en dit word ook glad nie meer in die strate gedoen soos tevore nie, maar op afgesperde bane met heelwat veiligheidsmaatreëls wat streng toegepas word. Dit is ook ’n amptelik geregistreerde afdeling van die Namibiese Motorsportfederasie.

“My BMW het vir lank stukkend gestaan en het vreeslik baie komplikasies deurgemaak, maar nogtans het ons deurgedruk en ná vele gesukkel en baie kere se moed skep en volharding het my kar ná drie jaar weer die lig gesien.

“My uitsluitlike doel was om daarmee te spin en om myself te geniet, asook my broer se legende voort te sit. Ek is amptelik sedert 2018 op die ‘spin’-baan vir byeenkomste en my meisiekind Ayanda (16) het vier maande gelede ook begin. Haar pa, Ryno, het vir haar letterlik uit ’n wrakstuk vir haar ’n BMW in bakkievorm omgebou en sedertdien neem ons albei aan byeenkomste deel.

“Daar is nie baie vroue of meisies in dié spesifieke motorsport nie en ons twee is dus vreeslik trots op mekaar as ma en dogter, om aan ons eweknieë te wys ons vroue kán.

“Voordat ons begin deelneem het en nog net toeskouers was, was daar ’n jong vrou van Rehoboth, Ivanka Moller, wat op die oomblik ook weens karprobleme nie aktief is nie. Hoewel daar ander vroue is wat belangstel, is ek en Ayanda tans nog die enigste vroue wat aktief deelneem.

“Ek is bietjie van ’n onkonvensionele dame, want ek ken my kar en sy enjin soos my handpalm en kan presies ’n fout identifiseer wat opduik. Ek let self op die water en olie en indien nodig sal ek kleinerige foutjies self regmaak op my kar. Ek het vreeslik baie kennis van die BMW E36-reeks en kan met mans om een tafel gesels oor ons karre en die onderdele.

“Vroue word meestal onderskat wanneer dit by motorsport kom, maar ek en my dogter is dit eens dat ons vir niemand terugstaan nie. Ons moedig graag ander vroue aan om die eerste tree te gee en ook te begin.

“Die sport is wel vreeslik duur en swaar op die sak, maar ons is so fanaties daaroor dat ons soms maar op ander uitgawes afknyp wanneer daar nuwe onderdele aangeskaf moet word. ’n Mens moet dus maar voorbereid wees om aansoek te doen vir borgskappe om hierdie droom aan die gang te hou en te verbeter in jou vaardigheid agter die stuurwiel.”

Elinor is vasberade en opgewonde oor die uitdaging om die sport se volgende vlak van truuk-vaardighede te bemeester, waar bestuurders soms die skare vermaak deur selfs uit die tollende voertuig en terug te klim. “Insette van ’n choreograaf is gewoonlik nodig om jou met die opstel van ’n behoorlike roetine te help.”

Video’s van die De Koe’s en ander deelnemers se onlangse vertonings kan op die YouTube-kanaal van Team Kyle gesien word.

VOL JAARPROGRAM

Verskeie Namibiese dorpe is ingesluit op die skedule van byeenkomste gedurende 2020, wat deur die drie prominente klubs Windhoek Spin City, OSD / Team Kyle (wat Okahandja insluit) en Swakopmund Spin City gereël word.

Die sport se voorlopige jaarprogram lyk soos volg:

29 Februarie: Otjiwarongo Spin Fest (Paresispark) en nog een op Okahandja.

20 Maart: Pre-independence Reckless Friday (Windhoek Spin City).

12 April: Swakopmund.

25 April: Swakopmund.

2 Mei: Ondangwa handelskou.

2 Mei: Lüderitz Kreeffees.

23 Mei: Swakopmund.

30 Mei: Keetmanshoop (Women Rock Spin Show).

27 Junie: Okahandja E30 Cup.

25 Julie: Winter Spin Bash (Windhoek Spin City).

22 Augustus: Charity Spin Fest (Windhoek Spin City).

29 Augustus: Okahandja.

5 September: Keetmanshoop.

31 Oktober: Okahandja.

28 en 29 November: Battle of the Spinners (Windhoek Spin City).

5 Desember: Khali’s Birthday Bash (Okahandja).

31 Desember: Countdown Block Party Hyper (Woerman Hyper parkeerterrein in Khomasdal).

31 Desember: Ondangwa aftel vir die Nuwejaar.

Kommentaar

Republikein 2024-11-23

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 36° Rundu: 20° | 37° Eenhana: 22° | 36° Oshakati: 25° | 35° Ruacana: 22° | 36° Tsumeb: 23° | 36° Otjiwarongo: 22° | 35° Omaruru: 23° | 36° Windhoek: 23° | 34° Gobabis: 23° | 35° Henties Bay: 14° | 19° Swakopmund: 14° | 16° Walvis Bay: 13° | 20° Rehoboth: 23° | 35° Mariental: 24° | 38° Keetmanshoop: 24° | 39° Aranos: 28° | 38° Lüderitz: 13° | 25° Ariamsvlei: 23° | 40° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 26° Gaborone: 22° | 36° Lubumbashi: 17° | 32° Mbabane: 18° | 31° Maseru: 16° | 32° Antananarivo: 17° | 31° Lilongwe: 22° | 33° Maputo: 23° | 31° Windhoek: 23° | 34° Cape Town: 17° | 27° Durban: 20° | 25° Johannesburg: 19° | 31° Dar es Salaam: 26° | 32° Lusaka: 22° | 33° Harare: 21° | 31° #REF! #REF!