Maagomleiding 'n 'kopskuif'
Maagomleiding 'n 'kopskuif'

Maagomleiding 'n 'kopskuif'

Suiker, bloeddruk stabiliseer
Gerine Hoff
Henriette Lamprecht – Vandag is sy ’n hele paar kilogramme ligter en is daar onder meer van haar insulien-weerstandigheid geen teken meer nie. Dit danksy ’n maagomleiding wat haar toestand twee jaar gelede ten goede en handomkeer verander het.
Vanessa* het ’n Roux-en-Y-maagomleiding ondergaan – ’n chirurgiese prosedure wat vir ernstige vetsug uitgevoer kan word. Die prosedure behels dat die maag in twee gesny word om ’n sakkie uit die kleiner proksimale (naby) gedeelte van die maag te skep en dit aan die kleiner derm vas te heg. Sodoende word ’n groot gedeelte van die maag en die hele duodenum gesystap.
Die prosedure kan help met gewigsverlies omdat die maagsakkie te klein is om te veel kos te berg, terwyl die systap van die duodenum die opname van vet wat ryk is aan kalorieë verminder.
Vanessa het die operasie in Augustus 2013 in 'n hospitaal in Bellville, Kaapstad ondergaan.
“Basies is dit ’n baie ou metode waar hulle jou maag verklein en ’n gedeelte van jou dunderm omlei en dan heg aan die nuwe magie as ’n ‘uitlaat’. Jou dunderm word dus ook verkort.”
Vanessa het 52 kg ná die operasie verloor. Omdat dit ’n gevaarlike prosedure is, word internasionale protokolle toegepas om die risiko’s verbonde aan die operasie te verminder. Dit sluit die akkreditasie van dokters en hospitale waar die operasies uitgevoer word, in. Dié hospitale staan dan ook as Centres of Excellence bekend.
As voorbereiding het Vanessa baie oor die operasie opgelees en ook met mense gesels wat die prosedure ondergaan het. Sy het ? bariatriese (bariatric) chirurg in die Wes-Kaap vir ’n konsultasie oor die prosedure gaan sien.
“Tydens sy ondersoek en ná hy sekere toetse se uitslae bestudeer het, het hy verduidelik wat die verskillende operasies en prosedures is en dan watter een volgens hom die geskikste een vir my sou wees.”
Deel van die chirurg se voorgeskrewe proses sluit besoeke aan verskeie ander persone in.
“Hy en dan ook die internasionale proses, het ’n holistiese aanslag. Hy glo nie daaraan om net die operasie te doen en dan aan te beweeg nie.”
Volgens Vanessa gaan sien die pasiënt ook voor die prosedure ’n sielkundige of psigiater.
“Die doel daarvan is om vas te stel of jou oorgewigprobleem ’n sielkundige probleem insluit. Die hoop is dan dat jy dié probleme takel voordat jy vir die operasie gaan.”
Jou eetgewoontes moet ook verander, waarsku Vanessa.
“Daarom gaan sien jy ook ’n dieetkundige voor en ná die operasie. Dit help nie jy bestee al daardie geld en jy dink jy gaan net maer word en maer bly nie. Jy móét jou eetgewoontes verander.”
Dieselfde geld vir ? oefenprogram en hiervoor het Vanessa ’n biokinetikus gaan sien.
’n Ondersteuningsgroep vir mense wat die operasie ondergaan het of dié wat in die prosedure belangstel, kom gereeld in Windhoek byeen.
“Ek het vir ’n geruime tyd hul vergaderings voor die operasie bygewoon en doen dit steeds. Jy kon met mense praat wat deur die proses was, jou vrae vra en natuurlik oor die goed praat wat jou die meeste van die operasie gepla het.”
Volgens Vanessa is die grootste gevaar ná die operasie dat die hegting van die dunderm aan die maag en die maagverkleining self, nie dig genoeg is nie. Vloeistof kan sodoende lek wat dan septies raak. Om seker te maak dit is nie die geval nie, moet die pasiënt ’n paar uur ná die operasie ’n vloeistof drink waarna sy of haar ingewande met x-strale afgeneem word om te kyk of enige lekkasies voorkom.
“Dit is regtig die enkele grootste probleem wat lewensgevaarlik kan wees. In my geval was die radioloog nie 100% seker nie en ek is 'n MRI-skandering gestuur om 100% seker te maak daar is geen lekkasie is nie.”
Volgens Vanessa is ’n ander probleem die vorming van bloedklonte. Die pasiënt neem daarom bloedverdunningsmedikasie voor die tyd, terwyl spesifieke kouse ook gedra moet word.
“Jy het ook kompressiepompe wat lugsakke om jou bene vul en afblaas om seker te maak dat die bloedvloei gestimuleer is.” Die pasiënt ondergaan voor die operasie ’n program wat hom of haar voorberei op die vloeistofdieet wat vir ’n paar weke ná die operasie gevolg moet word.
Die hersteltydperk wissel van persoon tot persoon, sê Vanessa.
“Dit is ’n laparoskopiese proses en daar is nie ’n vreeslike lang sny soos in die ou dae nie. Ek is laatmiddag geopereer en moes die volgende oggend al opstaan en begin rondbeweeg.”
Vanessa is die volgende oggend ontslaan en het die dag daarna selfs kans gesien om winkels toe te gaan!
Die eerste paar dae het sy net vloeistof ingeneem. Vanaf dag vyf kon sy baie fyn kos, “regte babakossies”, begin eet en omtrent ook net ’n eetlepel op 'n slag.
Vanessa moes tien dae in die Kaap bly, omdat sy op dag 10 weer die dokter moes gaan sien.
“Hy moes na my wonde kyk en seker maak dat alles in orde is.”
Oor die algemeen het sy nie pyn gehad het, maar maan dat dit van mens tot mens kan verskil.
“Jy gebruik ook bloedverdunningsmiddels ná die operasie om seker te maak jy kry nie ’n bloedklont nie. Oor die algemeen voel mens regtig goed, jy raak net vreeslik vinnig moeg, want jou energie-inname is baie verminder.”
Vanessa was gelukkig dat sy geen intoleransies ná die operasie oorgehou het nie.
“Van die ander persone wat die prosedure ondergaan het, kon daarna nie meer enige soetgoed eet nie, ander is weer sensitief vir suiwel.”
Haar grootste verandering na die operasie, sê Vanessa, is die feit dat sy nou “actually kan beweeg en dinge doen!”
“Jy parkeer nie meer op die naaste parkeerplek aan die winkel se voordeur nie! Die enkele een groot ding wat ek verander het, is om meer kere per dag eet. Ek het nooit voor die tyd ontbyt geëet nie en dit is een van die dinge wat ek regtig verander het.”
Die grootste aanpassing erken Vanessa is dat jy nie meer kan eet wat jy in die verlede kon eet nie.
“Ek eet omtrent nooit meer my hele bord kos op nie, daar is net nie plek nie!”
Voor die operasie was Vanessa pre-diabeties en insulien-weerstandig, iets wat heeltemal verdwyn het. Ook is haar bloeddruk onder beheer. Sommige lede in die ondersteuningsgroep was voor die prosedure op medikasie vir suikersiekte, maar gebruik vandag niks.
Die eerste jaar na die operasie het Vanessa haar huisdokter gereeld besoek en ook elke drie maande ’n stel bloedtoetse ondergaan. Daarna word ’n stel bloedtoetse jaarliks gedoen aangesien die pasiënt se opname van nodige minerale kan verander. Dit is ook om seker te maak ’n bykomende aanvulling is nie nodig nie. Die jaarlikse besoeke kan in Windhoek gedoen word.
Die prosedure is beslis iets wat sy sal aanbeveel, maar, maan Vanessa, die pasiënt moet ’n liggaamsmassa-indeks van meer as 40 hê.
Dis ook nie ? kitsoplossing nie en jy moet “regtig die skuif in jou kop maak, anders gaan dit nie vir jou werk nie.
“Jou lewenstyl moet verander, jy kan nie soos voor die operasie met jou lewe voortgaan nie.”
Volgens internasionale studies kan die lewensduur van mense wat dié operasie ondergaan het, met 10 tot 15 jaar verleng kan word.

Kommentaar

Republikein 2024-11-24

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer

Katima Mulilo: 20° | 34° Rundu: 21° | 36° Eenhana: 24° | 37° Oshakati: 24° | 35° Ruacana: 22° | 37° Tsumeb: 22° | 35° Otjiwarongo: 21° | 32° Omaruru: 21° | 36° Windhoek: 21° | 31° Gobabis: 22° | 33° Henties Bay: 15° | 19° Swakopmund: 15° | 17° Walvis Bay: 14° | 22° Rehoboth: 22° | 34° Mariental: 23° | 37° Keetmanshoop: 20° | 37° Aranos: 24° | 37° Lüderitz: 13° | 24° Ariamsvlei: 20° | 36° Oranjemund: 13° | 21° Luanda: 25° | 27° Gaborone: 19° | 35° Lubumbashi: 17° | 33° Mbabane: 17° | 34° Maseru: 17° | 32° Antananarivo: 17° | 30° Lilongwe: 22° | 32° Maputo: 21° | 35° Windhoek: 21° | 31° Cape Town: 16° | 21° Durban: 21° | 28° Johannesburg: 19° | 30° Dar es Salaam: 25° | 32° Lusaka: 20° | 31° Harare: 19° | 32° #REF! #REF!