Maak diu00e9 feestyd u2019n verskil
Maak diu00e9 feestyd u2019n verskil

Maak dié feestyd ’n verskil

Tielman van Lill
Die eerste Woensdag van Desember lê en loer vir my. Met rede natuurlik.

Dit is amper soos ’n gesoute struikrower wat weer eens met sy goed geoefende aanslag vir sy volgende onskuldige slagoffer met ruimskootse offensief begroot het.

Dié Woensdag is glad nie ver in die pad af nie en ek sit en rol my duime uit frustrasie.

Dit is amper soos bolle rol, net anners. In teorie is dit dalk dieselle ding, maar jy spel dit toetentaal en al met minder passie en venyn.

Ek moet vir vandag, nee wag nou gaan ek lieg. Ek wil graag vir vandag ’n “Sê Maar Net” skryf, want dit is ’n kort en kragtige vertelsel wat “maklik” uit die duim gesuig kan word. Dit is reeds amptelik die tradisionle feesmaand van die jaar wanneer al wat leef en beef reeds hul tande vir ’n verdiende wegbreek begin slyp het.

Ieder en elk verdien ’n vakansie waar familie en vriende bymekaar kan kom om ’n jaar van harde arbeit saam af te sluit.

Ja, oukei, ek weet daar is mense wat regtig nie hard werk nie. Want hulle is slu. Alte vreeslik meen ek, want hulle vat braaibs en al wat ’n onwettige fooitjie is om sy reeds bultende beursie verder met note te kasty.

Wat hartseer is, is dat daar soveel gesinne gaan wees wat iewers ’n vergete ma of pa het wat ’n ouma en oupa vir hul kinders moet wees, maar nie is nie.

Daar is ook soveel kinders wat in hierdie feestyd sonder kos en liefde gaan sit.

Om sonder liefde te wees, is sekerlik een van die eensaamste en moeilikste emosies wat ’n mens kan beleef en waarmee mens moet worstel.

Om hulpeloos en moedeloos te wees as ’n eensame oumens of kind moet en mag nie bestaan nie.

Daai tipe eensame emosie wat net hartseer veroorsaak, moet soos pes met wortel en tak uitgeroei word.

Niemand verdien dit nie. Nog minder ’n oumens en onskuldige kind wat aan hul eie genade iewers in ’n donker kamertjie oorgelaat is.

Ek wonder hoeveel van ons staan agter hierdie deur? Die hartseerdeur waaragter ’n mens met ’n siel en gevoel gerieflik weggebêre, versteek en vergeet word.

My wens is dat elke mens in Namibië hierdie feesseisoen met vreugde en geluk moet beleef en oorleef.

Waansin steek elke jaar sy kop soos ’n brullende monster uit wannneer jongmense kop verloor.

Nie net die jonges nie, maar daar is ook diesulkes wat gereeld hul identiteitsdokumente in die straat gooi.

Privaat eiendom van mense by die kus word deur breinlose gedrag beskadig.

Padpredikante word verwoes en padreëls word met mening geminag.

Kan ons owerhede nie maar meer padprefekte oor die feestyd aanstel wat soos ’n verdoemende oordeelsdag op elke hoek en straat vir sy oes staan en wag nie?

Soos die ou voggies vloei, raak veral bestuurders van voertuie by die minuut onverantwoordeliker.

Die hartseerste van dié seisoen waarna almal so baie uitsien, is die soms onverwagte trauma wanneer ons ’n geliefde verloor.

Is dit regtig nodig om ’n jaar met smart en hartseer af te sluit waar ’n mens onverwags van sy geliefdes weggeruk word?

Ons sit met ’n pruttende vrot vispotjie en sommer heelwat ander ongure dinge wat in ons land en gemeenskappe aangaan.

Maar ons as trotse, verantwoordelike en produktiewe Namibiërs kan ’n verskil maak. Ons kan dit uitroei – hoekom nie?

Kom ons waardeer mekaar en geniet ’n feesseisoen van liefde met wedersydse respek vir mekaar. Dit is ’n goeie tyd om te gee, nie net vir mekaar nie, maar ook vir die wat nie het nie.

Geseënde Kerstyd en ’n voorspoedige 2020 vir ieder en elk.

Kommentaar

Republikein 2025-04-12

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer