Maak gereed vir vloede
Maak gereed vir vloede

Maak gereed vir vloede

Ronelle Rademeyer
Ronelle Rademeyer - Die Verenigde Nasies (VN) se Voedsel- en Landbou-organisasie (FAO) beraam dat meer as 60 miljoen mense voedselgebrek ly weens die talle droogtes wat aan die El Niño-verskynsel gekoppel word, met twee-derdes (of 40 miljoen) van hulle wat in Oos- en Suider-Afrika woon.
Asof dit nie genoeg rede tot kommer is nie, kan die La Niña-verskynsel wat aan die inbeweeg is en seewater in die oostelike Stille Oseaan laat afkoel, in die komende reënseisoen tot bo-gemiddelde neerslae en gevolglik ook vloede en oorstromings in die tot nou toe nog droogtegeteisterde gebiede lei.
Die VN waarsku indien die nodige voorsorgmaatreëls nie betyds getref word nie, die gekombineerde impak van dié twee uiteenlopende weer­verskynsels teen die einde van die jaar meer as 100 miljoen mense se lewe kan ontwrig. Agentskappe van die VN en ander belanghebbendes het verlede week by die FAO se hoofkwartier in Rome vergader om die uitdagings hiervan te bespreek en die internasionale gemeenskap te mobiliseers sodat hulp verleen kan word aan die lande wat erg deur dié fel klimaatsverskynsel geraak word. Die ander VN-agentskappe teenwoordig was die Internasionale Fonds vir Landbou-ontwikkeling (IFAD) en die Wêreldvoedselprogram (WFP).
Die FAO se direkteur-generaal, José Graziano da Silva, het daarop gewys dat El Niño primêr tot ’n voedsel- en landboukrisis gelei het. Hy sê ongeveer US$4 miljard is nodig om in die humanitêre behoeftes van die lande waar droogtes heers, te voorsien. Altesaam 80% hiervan word vir voedselsekuriteit en landbou benodig.
Die VN het ’n beroep op regerings en die internasionale gemeenskap gedoen om pogings om die weerbaarheid van kwesbare gemeenskappe wat sukkel om in hul eie voedselbehoeftes te voorsien, te verbeter, en hulle te help voorberei vir wat La Niña moont­lik kan bring.
“Die FAO het ekstra geld vir landbou, voedsel en voeding asook rampgereedheid bemiddel,” het hy gesê.
Volgens hom sal die FAO vroegtydige optrede help finansier om rampe te voorkom. “Suider-Afrika het ’n drie maande vensterperiode vóór die 2016/2017-plantseisoen begin waartydens dié lande kan seker maak dat miljoene landelike gesinne nie teen 2018 van voedselhulp afhanklik gaan wees nie.”
Macharia Kamau, die VN se spesiale gesant oor El Niño en klimaat, het daarop gewys dat indien lande nie aanpas by die “nuwe normaal” van toenemend meer natuurrampe soos droogtes en vloede nie, sal die implementering van die VN se ontwikkelingsdoelwitte daaronder ly. “Klimaatsverwante rampe met beide ’n vinnige en stadige aanvang dui op jare van swak beplanning en gebrekkige beleggings om voorbereid te wees,” sê Kamau.
Weervoorspellers in Japan, Australië sowel as die VSA voorspel ’n 50% tot 75% kans dat ’n La Niña-ver­skynsel­­ in die tweede helfte van vanjaar sal ontwikkel.
- Bronne: www.fao.org en Reuters

Kommentaar

Republikein 2025-04-19

Geen kommentaar is op hierdie artikel gelaat nie

Meld asseblief aan om kommentaar te lewer